book-icon Uitgawe 1 September 2022

Basta met beurtkrag! Ons kyk na alternatiewe kragbronne en hoeveel dit kos

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Beurtkrag is vir eers hier om te bly. Hier is opsies waarmee jy jou krag kan aan hou – en dis boonop goed vir die planeet.

Dis nie iets waaraan ’n mens lus is om te dink nie, en die hemel weet jy sou daardie geld liewer op iets anders wou uitgee.

Maar dit lyk nou maar eenmaal asof beurtkrag die volgende paar jare met ons gaan wees. So as jy dit kan bekostig, is dit ’n goeie idee om ’n alternatiewe kragbron te oorweeg.

En as dit boonop ’n soort krag opwek wat meer omgewingsvriendelik is, kan jy dalk in die proses iets vir die planeet doen. 

Ons kyk na ’n paar van die groener opsies waarmee jy jou huis van elektrisiteit kan voorsien. 

Sonkrag

So ’n stelsel werk met ’n paneel wat deur sonkrag geaktiveer word. Selle binne die paneel produseer ’n elektriese stroom. 

Die getal sonpanele en -batterye wat jy nodig gaan hê, hang af van hoeveel krag jy wil hê. As jy byvoorbeeld die meeste van jou krag in die dag gebruik, sal ’n stelsel wat bloot uit sonpanele en ’n faseomkeerder (wat jy sal ken as ’n “inverter”) bestaan genoeg wees. Jy sal nie batterybanke nodig hê om die krag wat jy opwek vir latere gebruik te berg nie. 

Die getal sonpanele en -batterye wat jy nodig gaan
Die getal sonpanele en -batterye wat jy nodig gaan hê, hang af van hoeveel krag jy wil hê. Foto: Getty Images/Gallo Images

As jy egter die krag ná sonsondergang gaan nodig hê, sal jy batterybanke ook moet aanskaf. Dit sal jou ook spaarkrag gee vir die dae wanneer Eskom met hul streke begin en die elektriese netwerk gaan staan.

Wat is alles nodig?

Die deursneehuishouding loop op rofweg 

12 kWh per dag om al die nodige toerusting aan die gang te hou, sê Sam Berrow van die sonpaneelverskaffer Solar Advice. Dit vereis dat jy ’n hibriede omkeerder van 5 kW kry, ’n batterybank van 4,8 kWh en ses 455 W-sonpanele. 

Wat kos dit?

Die basiese koste vir die omkeerder, battery en bedrading is sowat R11 000, met ’n bykomende R600 tot R700 per paneel, sê Sam. Om dit deur ’n nag te maak wanneer Eskom lamgelê is, sal jy minstens ses panele nodig hê wat gedurende die voorafgaande dag surpluskrag opwek. Jy kyk na ’n totaal van byna R15 000.

Jy kan natuurlik later nog panele bysit as jy meer nodig het. 

Wanneer alles klaar geïnstalleer is, is daar baie min bykomende koste. Party sonpanele het ’n bietjie instandhouding nodig, en ’n mens moet so twee keer per jaar die stof en gemors met water daarvan afwas. 

Waar berg ’n mens dit?

Die beste plan is om jou omkeerder en batterye in die motorhuis te berg sodat hulle jou nie pla met hul gedurige gebrom nie. Die bedrading kom meestal binne-in jou dak – maar as jy die panele iewers weg van jou huis af wil opstel, sal jy teen bykomende koste ’n sloot van die panele na jou huis moet grawe sodat die drade ondergronds kan loop.

Die batterye neem nogal baie ruimte op, maar as jy slim is, kan jy dit teen die muur langs jou omkeerder sit om dit uit die pad te hou.

Die beste plek vir die panele is op jou dak, hoewel party mense dit op pale in die agterplaas laat staan. Sonpanele kan op enige soort dak behalwe gras geïnstalleer word.

Onthou ook

Dring daarop aan dat die verskaffer van jou sonkragstelsel eers jou huis en erf kom deurkyk voor hulle iets installeer. Dan kan jy deeglik oor die toerusting gesels en die nodige vrae stel.

Tans kry jy nie belastingkortings as jy sonkrag gebruik nie, maar daar is ’n moontlikheid dat dit binnekort kan verander. 

Die wet vereis dat die installasie deur ’n geregis­treerde elektrisiën gedoen word en dat jy ’n klaringsertifikaat kry wanneer die werk voltooi is. Jy kan by electrician.org.za gaan loer of jou elektrisiën geregistreer is. 

Gas

In Suid-Afrikaanse huise word gas meestal as vloeibare petroleumgas (LP) gebruik vir kos maak en verhitting. 

Dit word in gasbottels verkoop.

Gasstowe is baie goedkoper as elektriese stowe.
Gasstowe is baie goedkoper as elektriese stowe. Foto: Getty Images/Gallo Images

Dis baie belangrik dat ’n mens jou huiswerk doen voor jy ’n gasstelsel installeer, maan 

Terence Geyser van The Gas Experts. 

Van die opsies wat jy kan oorweeg, is:

  • Gasstowe: Dit is veel goedkoper as hul elektriese eweknieë. En jy kan hulle gebruik tydens beurtkrag om jou kos te maak of selfs water te kook.
  • Gaswaterverwarmers: Dié toestelle is ook doeltreffender as elektriese geisers omdat hulle jou water net verhit wanneer jy dit nodig het. As jy ’n baie grênd toestel kry, sal jy dalk so 220 V elektrisiteit nodig hê om dit aan en af te skakel, maar die eenvoudiger weergawes kan met batterye werk. 

Waar berg ’n mens dit?

Gasbottels word dikwels buite die huis staangemaak, maar dit is veilig en wettig om tot 19 kg gas in jou huis te hou as dit vir gebruik in jou stoof, oond, braai of warmwaterstelsel is. Baie mense met gasstowe hou die bottel netjies in ’n kas langsaan. 

Om veiligheidsredes moet die gasbottel minstens 5 m van die naaste kragpunt, 2 m van ’n oop drein of mangat, en 1 m van die naaste deur of venster wees. Jy mag dit ook nie in jou garage berg nie. 

Gasgeisers word meestal buite geïnstalleer, halfpad tussen die badkamer en die kombuis indien moontlik. Vir ’n geiser is twee 48 kg-bottels nodig. Hulle is omtrent 1 m breed en 1,2 m hoog – dit vat nogal plek op.

Wat kos dit?

Gasstowe kan baie eenvoudig of baie spoggerig wees, en daar is ’n hemelsbreë verskil in die pryse. ’n Winkel sal jou raad kan gee.

In Suid-Afrikaanse huise word gas meestal as vloei
In Suid-Afrikaanse huise word gas meestal as vloeibare petroleumgas (LP) gebruik vir kos maak en verhitting. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maar die koste van die gas is betreklik konstant. ’n Mens betaal sowat R350 vir ’n bottel van 9 kg, wat ’n gesin van vier sowat drie maande kan hou as julle jul stoof daagliks gebruik. 

’n Gasgeiser kan sowat R13 000 kos vir ’n huis met een badkamer, en dan sal jy nog ’n bykomende R1 650 moet betaal vir ’n gasbottel van 48 kg. ’n Gesin van vier kan verwag om so vier van dié bottels in ’n jaar op te gebruik, sê Terence. 

Onthou ook

As jy gastoestelle wil installeer, benodig jy ’n sertifikaat wat sê ’n inspeksie is gedoen en alles is veilig en lekkasievry. ’n Gesertifiseerde gas­installeerder (lys by lpgas.co.za of saqccgas.co.za) moet die sertifikaat vir jou gee. Alle gastoestelle wat in Suid-Afrika verkoop word, moet ’n LP Gas Safe-plakker hê. Gasstowe moet ’n veiligheidsmeganisme hê wat optel as daar nie ’n vlam brand nie en dan die gastoevoer afsny. 

UPS-stelsel

Ja, kragopwekkers is nié die groenste oplossing nie. Dit gebruik petrol en diesel. 

Hoekom kry jy nie liewer ’n toestel wat ononderbroke kragtoevoer verskaf nie? Jy sal al van ’n UPS gehoor het: “uninterruptible power supply”. Volgens Sam Berrow van Solar Advice word dié toestelle meestal deur mense gebruik om tydens beurtkrag kleiner toestelle soos modems, skootrekenaars en leeslampe aan die gang te hou. ’n UPS-toestel is soos ’n battery wat jy aan jou kragnetwerk koppel terwyl die Eskom-krag aan is en wat jy sodoende laai. Die krag wat jy dan daarop berg, kan jy gebruik wanneer daar weer beurtkrag is.

’n UPS-stelsel word gebruik om kleiner toestelle a
’n UPS-stelsel word gebruik om kleiner toestelle aan die gang te hou. Foto: Getty Images/Gallo Images

Jy kan ook ’n groener UPS-­stelsel kry deur ’n toestel met sonpanele aan te skaf – dan hoef jy dit nie via ’n kragprop te laai nie. 

Dié toestelle is beskikbaar van talle plaaslike winkels wat elektriese toebehore verkoop, maar ook van plekke wat byvoorbeeld kampeertoerusting verkoop. 

Die pryse wissel drasties na gelang van hoeveel elektriese toestelle jy met jou UPS van krag wil voorsien. Maak seker jy koop nie iets groters as wat jy werklik nodig het nie. 

Gebruik só minder krag

Ongeag hoe jy jou elektri­siteit opwek, kan enigeen van ons ’n paar eenvou­dige stappe neem om ons kragverbruik te verminder:

Koop ’n goeie warmwaterfles sodat jy nie heeltyd w
Koop ’n goeie warmwaterfles sodat jy nie heeltyd water in die ketel hoef te kook nie. Foto: Getty Images/Gallo Images
  • Sit LED-gloeilampe in jou ligte – jy sal dadelik krag spaar.
  • Koop ’n goeie warmwaterfles wat jou kookwater ’n paar uur kan warm hou. Dan hoef jy nie die ketel aan te sit elke keer as jy koffie of tee wil maak nie. 
  • Trek die koord van toestelle wat jy nie gebruik nie uit die muurprop uit. Toestelle wat aan ’n kragprop gekoppel is, gebruik soms deurlopend elektrisiteit sonder dat jy dit eens besef. 
  • Maak seker jou yskasdeure is lugdig.
  • Een groot vrag in die wasmasjien gebruik die helfte soveel krag as twee klein vragte. So gebruik die masjien minder gereeld. 
  • Gebruik die kleur van jou huis om die temperatuur te reguleer. As jy in ’n baie warm plek soos die noorde van KwaZulu-­Natal bly, kan jy jou huis en dak ’n ligter kleur verf sodat dit minder sonlig absorbeer en nie so gou binne warm raak nie. Daarenteen kan ’n donkerder dak en muur jou huis help om meer hitte van die son te absorbeer as jy jou huis moeiteloos effens warmer wil maak.
  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.  
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees