Heelwat mense wonder luidkeels op sosialemediaplatforms wat dan gaan gebeur as ons Fase 8 bereik – gaan iemand van Eskom dalk sélf jou krag kom afsit?
Selfs pres. Cyril Ramaphosa neem die nuwe verwikkelinge ernstig op en het hom ná koningin Elizabeth se begrafnis terug huis toe gehaas.
Intussen probeer Suid-Afrikaners net kop bo water hou wanneer dáái skedule ons lewens ontwrig.
Hier is ’n paar wenke vir hoe om beurtkrag te oorleef.
Jy’s halfpad deur ’n nuwe fliek of reeks (of ’n Grand Prix), en daar slaan die krag wéér af.
Nou moet jy wag om uit te vind of Gal Gadot die goue eier sal steel of wat Voldemort sal doen nadat hy pas vir Harry gedreig het (spoiler alert).
En om die kroon te span lyk dit nie of hierdie probleem een van die dae uitgestryk sal word nie; inteendeel, dit gaan nog vir baie, baie, baie jare deel van Suid-Afrikaners se alledaagse bestaan wees.
Hoewel party mense gegrap het dat Suid-Afrikaners hulself emosioneel moet voorberei deur die fliek Bird Box te kyk, sal dit dalk nie die beste oplossing wees nie.
Die oplossing rondom hierdie voorstel is om te alle tye ’n blinddoek oor jou oë te hou en net so deur die lewe te gaan sodat wanneer Eskom die krag afskakel, dit nie iets nuuts vir jou sal wees nie. Jy sal 100% voorbereid wees.
As hierdie voorstel nie iets is wat jy wil of sal doen nie, gaan jy dalk die note in jou beursie moet tel as jy regtig desperaat is.
Want daar is drie langtermynoplossings.
Die eerste een is om tussen R8 000 en R10 000 uit te gee op ’n kragomsetter of UPS (uninterrupted power supply) te koop. Jy sal dan ’n paar ligte kan aanskakel, terwyl jy ook jou rekenaar en Wi-Fi sal kan gebruik.
Vir hierdie oplossing moet jy egter in ag neem dat goedkoop koop maklik duur koop kan raak as jy ’n laegehalte-produk koop.
Oplossing twee is om ’n kragopwekker te kry.
Dít sal ook nie goedkoop wees nie en kan jou dalk R20 000 uit die sak jaag as jy ’n ordentlike produk aanskaf.
Neem ook in ag dat jou kragopwekker omtrent 2 liter diesel per uur sal gebruik, en diesel is nie juis meer goedkoop nie.
Die derde (redelike duur) oplossing is om sonpanele aan te skaf.
As jou beursie ja sê en dit nie jou bank sal breek nie, kan jy enigiets tussen R60 000 en R105 000 vir hierdie oplossing betaal.
Maar wat as jy nie die geld vir hierdie drie oplossings het nie? Dan is dit ook oukei, want gelukkig is daar oplossings wat mense al oor die jare toegepas het.
Kry jou skedule (vir ál die fases, want soms spring Eskom van fase 2 na fase 4 vinniger as wat jy jou foon kan uithaal) en plak dit op jou yskas. Jy kan eintlik ook Eskom se Push aflaai, die app wat gemaak is om jou op hoogte van die situasies rondom beurtkrag te hou.
Volgende moet jy seker maak jy het ’n gloeilampie wat met batterye werk (of sommer iets wat jy sal kan laai). Jy sal in die aand soos ’n wafferse Florence Nightingale met ’n lampie kan rondloop wanneer jou krag af is.
As jy vergeet het om jou skootrekenaar te laai, of jy kan bloot nie iets sonder internettoegang op jou skootrekenaar kyk nie, sal jy maar ’n boek moet uithaal en lees. En as jy nie lus is vir ’n boek nie, moet jy maar inkleur of blokkiesraaisels doen.
Dit sal ook ideaal wees as jy jou kos voor die tyd kan maak sodat jy nie hoef te sukkel wanneer die krag afgaan nie, maar as dit nie ’n opsie is nie, moet jy maar ’n gasstoof probeer aanskaf.
Maak ook seker jy kook water voor die tyd as jy een van daardie mense is wat koffie of tee wil hê wanneer die krag af is. Gooi die kookwater in ’n warmfles.
Moet ook nie bang wees om kerse, flitse of olielampe aan te skaf nie. Onthou ook om alles soos fone, skootrekenaars en radio’s te laai.
Jy sal ook alles by die muurprop moet afskakel wanneer die krag afslaan, en onthou veral om doodseker te maak jou stoof is af.
As jy nie lus is om kos te eet nie, moet jy darem seker maak jy het lekkernye waaraan jy kan sit en peusel wanneer jy niks anders het om te doen nie.
As jy wil rondry, moet jy ook seker maak dat jou motor petrol inhet voor die krag afslaan, want die petrolpompe werk nie tydens beurtkrag nie en nog minder sal jy geld kan trek wanneer die krag afslaan.
En laaste maar nie die minste nie: Gaan slaap! Maak net seker jy blaas al die kerse dood wanneer jy ’n uiltjie gaan knip of sommer vir die aand gaan slaap.
Night-night.