Met ’n gesig en lyf soos syne sou ’n mens dink hy bekommer hom nie een oomblik oor sy voorkoms nie. Maar tog was daar oor die jare een aspek van sy voorkoms wat ’n konstante bron van angs vir Janez Vermeiren was.
Die voormalige Top Billing-aanbieder het pas 36 geword toe hy op ’n dag in die spieël kyk en dit opmerk: sy kwynende haarlyn. Hoewel haarverlies ’n toestand is wat 80% van mans in verskillende mates raak, was Janez erg verleë daaroor. “In my soort werk kry jy ’n kompleks daaroor as jou haarlyn begin wegkwyn,” sê hy.
Maar die pa van drie het magteloos gevoel om enigiets daaraan te doen en het dit agt jaar lank bloot verduur. “As jy na my Instagram kyk, sal jy sien ek het pette gedra wanneer ek ook al sport gedoen of strand toe gegaan het, of elke keer wanneer ek op kamera buite was,” sê Janez (44).