book-icon Uitgawe 9 September 2021

Hierdie inheemse plante gaan voëls na jou tuin lok

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gek oor voëls in jou tuin? Hier is vyf inheemse plante wat gaan help dat geveerdes daarheen gelok sal word.

1. WILDEDAGGA

(Leonotis leonurus)

Wildedagga.
Wildedagga. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié geharde struik is ’n gunsteling in Suid-Afrikaanse tuine danksy sy helderoranje tosselagtige blomme. Dit groei vinnig en kan 3 m hoog en 1,5 m breed word. Wildedagga blom oorvloedig in die somer en herfs en lok voëls, bye en skoenlappers.

Dit floreer in goed gedreineerde leemgrond met volop kompos en in volson en moet liefs nie in ’n pot geplant word nie.

Topwenk

Jy kan die sierstruik maklik van saad of steggies kweek of groot bosse verdeel.

2. SOETDORING

(Vachellia karroo)

Soetdoring.
Soetdoring. Foto: Gallo Images/Alamy

Dié pragtige en gewilde Suid-Afrikaanse boom spog in die somer met sy massas ronde geel bloeisels en lok ’n verskeidenheid insekte, ruspers en voëls met sy soet geur.

Die boom, wat tot 12 m hoog kan groei (tot 1 m per jaar), is ook ideaal vir voëlneste, want sy dorings bied beskerming teen roofdiere.

Dit vaar goed in die meeste grondsoorte en is teen ryp en droogte gehard.

Topwenk

Maak ’n soetdoring goed en diep nat om vlak indringererige wortelgroei te help keer.

3. KRANSAALWYN

(Aloe arborescens)

Kransaalwyn.
Kransaalwyn. Foto: Gallo Images/Alamy

Die groot, treffende blomme van die kransaalwyn maak dit die volmaakte toevoeging tot ’n voëlvriendelike tuin. Die blomnektar is veral geliefd onder klein en kleurvolle suikerbekkies, skoenlappers en bye.

Die inheemse struik kan tot 3 m hoog groei en verhelder wintertuine wanneer dit tussen Mei en Julie blom.

Die aalwyn groei maklik. Dit geniet volson en goed gedreineerde, komposryke grond en hanteer droogte goed.

Topwenk

Die struik vorm ’n goeie heining of skerm en kan ook in ’n pot geplant word.

4. KRUISBESSIE

(Grewia occidentalis)

Kruisbessie.
Kruisbessie. Foto: Gallo Images/Alamy

Hierdie bladwisselende struik, wat tot 3 m hoog groei, blom tussen Oktober en Januarie. Die pragtige, stervormige blomme lok bye en voëls, veral rooiborsies.

Die sierlike kruisbessie is teen ryp en droogte gehard en kom oral in Suid-Afrika voor, van die dorre Karoo tot aan die kus.

Die klouterplant floreer wanneer dit goed natgemaak word in grond met kompos, hetsy in die son of skaduwee, en sy wortelstelsel is nie indringerig nie.

Topwenk

Dit sal ’n goeie toevoeging tot ’n struikrand of heining in ’n tuin wees en vaar ook goed in potte.

5. TREURBRUIDSBOS

(Pavetta lanceolata)

Treurbruidsbos.
Treurbruidsbos. Foto: Fotostock

Massas soetgeurige wit blomme blom van September tot Desember en voëls, bye, wespe en kewers is lief daarvoor.

Die immergroen struik kan tot 7 m hoog groei, en al waardeer dit aanvanklik baie water, geniet dit volson en kan dit ’n bietjie droogte hanteer. Voëls versprei die saad van die bos se vrugte en die saad ontkiem maklik.

Topwenk

In die son of halfskadu geplant, sal hierdie mooi struik sommer vinnig ’n leë ruimte in ’n tuin vul.

Bronne: stodels.com, witkoppenwildflower.co.za, eckards.co.za, pza.sanbi.org, theindigenousgardener.co.za

Jongste uitgawe

6 Oktober 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in