Toe daar teen die einde van die maand skaars geld vir kos oor was, het Constance Haneke besef iets moet verander.
“Toe ek begin werk het, het ek finansieel oukei gevaar,” sê Constance (33) van Kaapstad. Mettertyd het sy egter die een ná die ander klererekening geopen en in ’n geldverknorsing beland.
“Ek sou my salaris kry, en nadat ek al my debietaftrekkings betaal het, was daar maar net R300 in my rekening oor.” Sy het ’n rits lenings aangegaan tot sy en haar man meer as R100 000 geskuld het. Boonop het haar man sy werk verloor.
Helaas is Constance se storie nie uniek nie. Baie mense bestuur hul geldsake so oes dat hulle agteruitboer eerder as om enigiets te spaar. In sulke tye moet jy hulp kry. ’n Skuldberader het Constance gehelp om skuldvry te raak, maar sy het ook besef dit was net die begin van haar reis na finansiële herstel.
As ’n mens eers uit die skuldstrik losgekom het, is jou volgende uitdaging om jou geldsake so in te rig dat jy nie weer daarin trap en van voor af in die rooi beland nie. Constance het geleer sy moet haar geldgewoontes voortaan drasties aanpas.
“Ons het al ons winkel- en klererekeninge toegemaak. Ons spaar nou vooraf vir groot aankope wat ons wil aangaan.” Huisgenoot het onlangs breedvoerig berig oor die soort hulp wat jy by ’n skuldberader kan ontvang (2 Februarie).
Maar wat gebeur daarna? By wie kan jy aanklop om vorentoe gesonder finansiële gewoontes te kweek? Baie mense se eerste stop is ’n finansiële adviseur of ’n finansiële beplanner.
Veral in ’n tyd van stadige ekonomiese groei, groot werkloosheid en stygende kos- en brandstofpryse kan so iemand jou help om meer rasioneel met jou geldsake om te gaan – en ook beter vir die toekoms te spaar.
Wat doen ’n finansiële adviseur?
’n Finansiële adviseur is ’n professionele kundige wat kliënte help om ingeligte besluite oor geldsake, hul persoonlike spaargewoontes en beleggings te neem.
Party mense dink dit is net rykes wat ’n finansiële beplanner het om hulle in duur oorsese aandelefondse te help belê, maar die waarheid is dat gewone werkende mense juis dié soort kundiges se hulp die nodigste het.
Trouens, hoe minder geld jy het, hoe minder kan jy bekostig om roekeloos op te tree en geld te verloor, sê Melissa Weber, ’n finansiële adviseur. As elke sent vir jou tel, het jy juis die hulp van ’n kundige nodig.
“Ons het almal blindekolle en kyk dinge mis wanneer ons ons eie sake bestuur,” sê Melissa. Finansiële adviseurs help ’n mens om moontlikhede en risiko’s raak te sien wat jy alleen sou miskyk.
“Hulle neem ook belasting en boedelbeplanning in ag wanneer hulle voorstelle maak. Hulle kyk na die groter prentjie en nie net elke ding op sy eie nie.”
Die rol van ’n finansiële adviseur is om aan jou die finansiële instrumente (dinge soos onder meer aandele, effekte, versekering en annuïteite) voor te stel wat jou veiligheid die beste sal verseker.
Aangesien die finansiële adviseur met jou op ’n een-tot-een-grondslag werk, sal hulle in ag neem watter instrumente die beste by jou unieke behoeftes pas.
“’n Mens moet ’n bietjie rondkyk om die regte adviseur te vind,” sê Melissa. “Baie adviseurs spesialiseer in ’n sekere soort kliënt, dalk ’n inkom-stegroep waartoe jy nie behoort nie. Maar daar is iets vir almal beskikbaar.”
Verskillende finansiële adviseurs het ook verskillende vaardighede. Party maak seker al jou risiko’s word gedek sodat jy skuld kan systap; vir ander is dit ’n prioriteit om jou welvaart uit te brei sodat jy meer geld in die bank het.
En dan is daar die soort wat allereers gaan kyk hoe jy jou geld in ’n onafhanklike inkomstestroom kan omskep sodat daar nog iets kan inkom wanneer jy afgetree het. Maak seker jou jy en jou adviseur dink eenders oor wat jy uit die proses wil verkry.
Wat doen ’n finansiële beplanner?
Nes ’n finansiële adviseur help ’n finansiële beplanner mense om hul geld te bestuur. Waar ’n finansiële adviseur op jou geld en beleggings fokus, sal ’n finansiële beplanner eerder met jou koppe bymekaarsit sodat julle saam kan beplan hoe julle sekere doelwitte kan bereik.
Finansiële beplanners fokus op die lang termyn. Hulle sal jou vra hoe jy wil hê jou finansiële lewe eendag moet lyk, en dan saam met jou ’n plan opstel oor hoe om daardie oogmerk te verwesenlik. Dit sal insluit om ’n begroting saam te stel, te spaar, te belê en vir jou aftrede te beplan.
’n Finansiële beplanner is dus ’n spesifieke soort finansiële adviseur. Melissa Weber, ’n finansiële adviseur, sê dit is raadsaam om ’n finansiële beplanner te gaan sien as jy op die punt is van groot veranderings in jou lewe, soos wanneer jy trou, ’n kind kry, ’n nuwe werk begin of skei.
Dit is gewoonlik ’n tyd wanneer ’n mens die vars perspektief nodig het van iemand wat saam met jou deur jou geldsake kyk en jou help besin oor waarheen jy op pad is en hoe jy daar kan kom.
“Dikwels help dit ook om met ’n finansiële beplanner te gesels voor jy ’n groot besluit in jou lewe neem,” voeg sy by.
Hoe vind jy een? Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Finansiële Beplanning (FPI) hou ’n oog oor finansiële beplanners. Hulle moet by die FPI sowel as die FSCA geregistreer wees as hul werk behels dat hulle regstreekse kontak met kliënte het.
Om geregistreer te word, moet ’n finansiële beplanner toepaslike opleiding en ervaring hê.
Hoeveel kos dit? Soos enige finansiële adviseur kan finansiële beplanners soms vooraf ’n fooi vra of soms herhalende fooie vra as hulle ’n tyd lank saam met jou gaan werk.
Party vra ’n kombinasie van dié twee soorte fooie, asook kommissie op die geld wat hulle jou help verdien. Vind eers uit hoe en wat jy gaan betaal voor jy ’n afspraak met een maak.
Hoe vind ’n mens die regte een?
Daar is kansvatters daar buite. Maak dus allereers seker jou finansiële adviseur is geregistreer en het toestemming om raad oor geldsake te gee. Besoek die webtuiste van die Gedragsgesag vir die Finansiële Sektor (fsca.co.za) om te sien of ’n adviseur daar gelys is as jy seker wil wees.
Daar kan jy ’n aanduiding kry van die dinge waaroor dié adviseur bekwaam is om raad te gee.Hoeveel kos dit? Dit hang af. Party adviseurs vra jou vooraf ’n fooi, ander vra ’n gereelde fooi as jy met hulle oor ’n lang tyd ’n paadjie stap, en ander vra ’n mengsel van vooraffooie, gereelde fooie en kommissie op die inkomste wat hulle jou help verdien.
Wat is die verskil? Hoewel hul werk deels oorvleuel, kan ’n mens oor die algemeen sê ’n finansiële adviseur fokus op mediumtermyndoelwitte soos die beste beleggings om aan te gaan as jy vir jou kinders se opvoeding spaar. Daarenteen het finansiële beplanners hul oog op die langer termyn. Hulle kyk na dinge soos die soort leefstyl wat jy wil hê wanneer jy eendag aftree.
Wat is ’n geldafrigter?
Dalk het jy al die Engelse term “money coach” of “financial coach” gehoor. Dit is iets wat die laaste jare opgeduik het en nie almal weet mooi wat so iemand doen nie. Dié afrigters fokus dikwels meer op jou gemoed, jou gedrag en jou emosie en hoe dit jou geldsake raak.
Hulle sal jou tipies leer om te verstaan wat die gedragspatrone en die denkfoute is wat daartoe lei dat jy dom geldbesluite neem en in die skuld beland. Dan sal hulle jou help leer hoe om dié aspekte van jou lewe om te swaai.
Finansiële adviseurs en beplanners kan ook soms elemente van dié soort afrigting in hul werk insluit.
Daar is egter nie ’n amptelike liggaam wat geldafrigters reguleer nie; daarom beveel kundiges aan jy doen goed navorsing oor die een by wie jy om afrigting aanklop sodat jy nie in ’n kansvatter se kloue beland nie. Afrigters kan jou vooraf of gereelde fooie vra.