Dis moeilik om te glo daardie aansteeklike laggie is vir altyd stil en sy warm glimlag sal nooit weer ’n vertrek of jou televisieskerm ophelder nie.
In onsekere tye het emeritus aartsbiskop Desmond Mpilo Tutu ons dikwels bemoedig of vertroos. Hy was die een wat ons na die “reënboognasie” herdoop het. En al het hy nie geskroom om openlik te huil oor die lyding van gewone mense nie, het hy met humor konflik ontlont.
Ná Nelson Mandela se dood in 2013 was die “Arch” die land se onwrikbare morele kompas en baken van hoop. Maar nou is ook hy weg – en saam met hom ’n tikkie van die reënboog se glans.