Welsynsorganisasie Little Eden bied baie liefde en sorg vir ‘engele’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Wanneer mense nie in staat is om na hulself om te sien nie, is daar gelukkig altyd organisasies wat onbaatsugtig bereid is om te help. Die afgelope 54 jaar reeds bied Little Eden ’n tuiste vir mense wat ernstig verstandelik gestremd is.
Little Eden bied lewenslank versorging aan 300 kin
Little Eden bied lewenslank versorging aan 300 kinders en volwassenes wat ernstig verstandelik gestremd is. Foto: Verskaf.

Domitilla Rota Hyams (1918-2011) het geen agtergrond as maatskaplike werker gehad nie, ook nie geld of staatsbystand nie.

Maar sy was dapper en vasberade met ’n onwrikbare vertroue in haar Skepper.

Met die hulp van ’n groep vriende, raad van kenners en ’n R10-donasie van haar man, Danny Hyams, het Little Eden in 1967 sy deure vir die eerste drie dogtertjies oopgemaak.

Aanvanklik was dit net ’n dagsorg-gerief in die saal van die Edenvale-Metodistekerk. ’n Jaar later het hulle geskuif na ’n huis in Kempton Park en was daar 23 kinders en ’n verpleegster.

Vandag het die Little Eden-vereniging reeds die lewe van 1 064 kinders en volwassenes – van wie 71% deur hul families verlaat is of kom uit families wat hulle nie geldelik kan ondersteun nie – ten goede verander.

Tans bied hulle lewenslank versorging aan 300 kinders en volwassenes wat ernstig verstandelik gestremd is in twee spesiaal ontwerpte versorgingseenhede, die Domitilla en Danny Hyams-tehuis in Edenvale en die Elvira Rota Village in Bapsfontein.

Hier word geglo, maak nie saak hoe erg gestremd iemand is nie, hulle is steeds ’n volledige mens met ’n liggaam, verstand en siel.

Hoewel die gemiddelde ouderdom van die inwoners 26 jaar is, is die gemiddelde verstandelike vermoë dié van ’n eenjarige.

Party funksioneer op die vlak van ’n pasgebore baba en moet gevoed, rondgedra en gebad word, terwyl ander take kan doen soos om self te eet, hul tande te borsel, aan te trek en die toilet te gebruik.

64% van die inwoners is in rolstoele want baie is fisies ook gestremd.

Little Eden het in 1967 sy deure oopgemaak.
Little Eden het in 1967 sy deure oopgemaak. Foto: Verskaf.

Talle ongelooflike stories wys watter invloed hulle op die gemeenskap het.

Soos dié van Nomfundo Makatini, wat in 1997 met ’n waterhoof (hidrosefalus) gebore is en sedert 2008 by hulle is. Nomfundo kan nie praat nie, maar kan wonderbaarlik die mooiste operanote sing.

Dan is daar drie broers van dieselfde familie wat in 2009 by Little Eden aangekom het. Al drie is erg verstandelik gestrem, vermoedelik weens ’n genetiese afwyking.

Die oudste kon loop, maar nie praat of homself voed nie, die tweede kon nie loop of praat nie en die jongste was nog ’n baba.

Twaalf jaar later kan hulle hulself verbaal uitdruk, hul hande gebruik vir aktiwiteite, loop, legkaarte bou en op die vloer rol.

Oor die jare het Little Eden nie net die lewe van sy inwoners aangeraak nie, maar ook van diegene buite die tehuis.

Toe hulle vroeër vanjaar ’n trekker benodig vir die pekanneutplaas wat ’n groot bydrae tot die voortbestaan van die tehuis lewer, het ’n vrygewige skenker, Trent Odgers, sy 1962-Studebaker geskenk vir ’n gelukstrekking waarmee R150 000 ingesamel is.

Little Eden is ’n geregistreerde (NGO 001-827) en openbare welsynsorganisasie (nr. 930/0000/03) wat staatmaak op donasies van belanghebbendes en die gemeenskap.

Hulle het ’n lys van benodigdhede, en daar is verskeie maniere hoe mense kan help om die twee huise se wiele aan die rol te hou.

Talle ongelooflike stories wys watter invloed hull
Talle ongelooflike stories wys watter invloed hulle op die gemeenskap het. Foto: Verskaf.

Mense wat wil help, kan kontant of items vir die liefdadigheidswinkel skenk of geld nalaat. Of jy kan ’n “engel” aanneem en een van die inwoners maandeliks geldelik help ondersteun.

Jy sal ’n foto en geskiedenis van die persoon ontvang, en jy kan hulle ook besoek of vir hulle ’n verjaardagpartytjie hou, sou jy wou.

Lees meer oor Little Eden aanlyn, of kontak Lebogang Mashiane, die bemarking- en kommunikasiekoördineerder, by 011-609-7246 of stuur ’n e-pos aan info@littleeden.org.za.

Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees