Is jy versot op blokraaie, maar voel jy wil nou daardie ekstra tree gee om béter te raak? Sluit by ons aan vir Huisgenoot se aanlyn program, Blokraai Regstreeks.
Wat behels dit?
Dis ’n regstreekse uitsending van sowat ’n uur lank waar jy aanlyn kan gesels met ander Afrikaanse blokraai-entoesiaste. Jy bespreek jou “plek” vir die uitsending deur aanlyn aan te meld sodat jy ’n skakel ontvang. Op die gegewe tyd klik jy op die skakel en die uitsending verskyn op jou skerm.
Wat gebeur tydens die uitsending?
Die programleier – Gerda Engelbrecht, een van Huisgenoot se gereelde blokraai-opstellers – lei die groep om saam-saam ’n paar blokraaie op die skerm in te vul. Tussendeur word daar raad gegee, gesels en baie gelag. Dis ’n aanlyn gemeenskap van lesers wat almal een ding gemeen het: Hulle is versot op Afrikaanse blokraaie.
Ek is ’n beginner, ek is bang ek maak my naam krater?
Beginners sal die uitsendings baie waardevol vind, want jy kry kans om by die gesoute invullers te leer. Jy gee ’n antwoord as jy een ken, maar as jy nie die antwoorde ken nie, sit jy terug en vergaap jou aan die blokraai-veterane. Jy kan vir Gerda sien, maar niemand kan jóú sien nie. Wanneer jy gemaklik voel, tik jy jou antwoord in die geselsblok in.
Wat kos dit?
Dis gratis. Jy moet net opdaag deur op ’n skakel te klik.
Wat kan ek wen?
Daar is elke maand lekker pryse op die spel. Die pryse word op sekere leidrade weggesteek. Sommige pryse word in ’n gelukstrekking weggegee. Hierdie maand is daar selfs meer: daar is vyf Daniel Klein dameshorlosies van R1295 elk op die spel. Die horlosies is in roosgoud en het kristaldetail op die gesig. Jy kan ook 5 Catrice-geskenkpakke wen, en vyf Van Loveren wyn-geskenkpakke ter waarde van R400 elk.
Waar en wanneer?
Die volgende uitsending is op 1 Desember om 20:00, jy kan hier inskakel en daarvoor registreer.