Deel

Só kan jy jou droomloopbaan kry deur ’n professionele netwerk te bou.

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die regte kontakte kan jou help om jou droomwerk te vind en jou loopbaan ’n stewige hupstoot gee.
Foto: Verskaf.
Foto: Verskaf.

Die vermoë om netwerke te bou is iets wat klaarblyklik vir sommige mense van nature kom. Maar moenie bekommerd wees as jy nie een van daardie mense is nie, want dis ook iets wat jy kan aanleer, volgens loopbaankenners. En dit kan die sleutel hou tot die ideale pos vir jou. 

1. Dit gaan oor verhoudings

Dis belangrik om te onthou dat dit oor meer gaan as net mense se nommers op jou foon bêre en geselsies met hulle aanknoop. Netwerke bou gaan oor verhoudings bou en, soos alle verhoudings in die lewe, moet jy tyd en energie belê om die vrugte te pluk.   

“Dis belangrik om betekenisvolle, egte verbintenisse met mense te bou, hetsy in persoon of aanlyn,” sê Celeste Stewart, direkteur van Bold Curiosity, ’n leer- en ontwikkelings-konsultasiemaatskappy.

“Mense is gebou om met mekaar verbintenisse te vorm en ander te help,” sê Lorna O’Brien van O’Brien Recruitment in Kaapstad. “Dis ’n baie proaktiewe manier om ’n werk te vind eerder as om te sit en wag vir die foon om te lui.”

Bekyk bietjie die mense wat jy reeds ken, sê O’Brien. “Maak ’n lys van mense wat jy beskou as deel van jou professionele netwerk – jy mag dalk verbaas wees hoe lank die lys is.

“Kyk ook na jou kontakte op sosiale media, vriende, familie, mense saam met wie jy studeer het en die mense met wie jy gereeld interaksies het,” is haar voorstel.

2. Netwerke moet onderhou word

Soos enige verhouding, moet dit nie net van een kant af kom nie. “Deel inligting met jou netwerk, help ander as jy in ’n posisie is om dit te doen, en vra vrae en raad,” sê O’Brien.

Dis belangrik om kontak te hou met mense wat jy ontmoet, volgens Stewart. “Reik uit na mense, gaan drink ’n koffie.”

Maar wees versigtig oor wat jy in hierdie sessies doen. Dis onsmaaklik as nuwe kontakte jou bel en iets wil “verkoop”, sê Stewart. “Dis die vinnigste manier om my af te sit.”

3. Gebruik, nie misbruik

Moenie net dink aan wat jy uit die netwerk kan kry nie – jy moet ook dink aan wat jy kan bied, sê die kenners.

As jy raakgesien wil word, moet jy moeite doen om relevante en interessante inligting te deel. “Maar onthou daar is ’n fyn lyn tussen te veel deel en net genoeg deel om raakgesien te word, so wees op jou hoede oor wat jy in groepe deel,” sê Tamara Wolpert van Viv Gordon Placements.

“Om iemand te vra of hulle enige soort werk vir jou het, is nie die pad wat jy wil stap nie,” waarsku O’Brien. “Soos met enige verhouding moet jy dit nie misbruik nie. As dit ’n kontak is met wie jy lanklaas gepraat het, neem tyd om die kommunikasie stadiger te laat verloop. Maak eers weer ’n konneksie voor jy inspring en ’n guns vra.”

Stewart waarsku ook as jy konstant jou netwerk vir gunse vra, gaan die verhoudings maar sukkel.  “Ken die grense en bly daarbinne – dis wat mens respek noem.”

Vir meer inligting oor hoe om jou pad in die werkswêreld te vind, kry jou uitgawe van Huisgenoot Loopbane. Dis gemik op matrieks en gegradueerdes, propvol praktiese raad vir alles van die loopbaan vind wat reg is vir jou en waar om beurse te kry, tot werk soek aanlyn en wat om in ’n werksonderhoud te doen. Beskikbaar in winkels teen net R60! Of gaan na Media24 Shop om dit by jou te laat aflewer.  

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

30 Maart 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees