book-icon Uitgawe 4 November 2021

2 ma’s skryf openhartig oor hul dogters wat hulle aan die dood moes afstaan

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ansja Ferreira en Matty Strydom se onderskeie boeke wys die reis van ’n ouer met 'n kind se dood. Hulle gesels met 'Huisgenoot' oor hoekom hulle dié onderwerp getakel het.

Hier waar ek nou is

Beskikbaar by Protea.
Beskikbaar by Protea.

Deur Matty Strydom (R295*)

“How do you solve a problem like Maria?” uit The Sound of Music kom by my op as ek Jessica probeer beskryf.”

So beskryf Matty Strydom haar jongste dogter wat op 19 dood is toe sy haar eie lewe geneem het. “Ek beskryf haar geite en grille in vele anekdotes in my boek.

Haar woord was ‘conviction’ – sy het met oortuiging geleef. Begaafd, belese, berese op 19. Haar geliefde Winnie-the-Pooh-aanhaling som haar op: ‘You are braver than you believe, stronger than you seem, smarter than you think and loved more than you will ever know.’ Dapper, sterk, slim, skeppend en vol liefde.”

Matty verduidelik waarom sy besluit het om oor haar reis ná Jessica se dood te skryf.

“Dit is ’n vraag wat telkens in die boek onder die loep geneem word. Die antwoord het baie fasette. Die storie self het om lewe geroep, is een antwoord. Vriende, asook my man, het my aangemoedig, is ’n ander.

Publikasie was ’n onuitgesproke lewenswens. Die Kanadese skrywer Anne Michaels sê sy lees om ’n ander mens naby te hou. Skryf ek nie om Jess vas te hou nie?” 

Skuld en berou is algemeen ná selfdood, maar Matty sê daar is vele hoeke om daarna te kyk. “Die invalshoek wat my vrede gee, is dat die doodsengel Jessica geroep het en sy het ‘ja’ gesê. Ek haal graag my geliefde Leonard Cohen aan: ‘I do not have the authority or understanding to speak of these matters.’ ”

Wanneer Matty terugkeer skool toe vind sy dit byna onmoontlik om voor haar klasse te staan, en dit vergemaklik haar besluit om weg te gaan: Sy gaan hou skool en reis in Suidoos-Asië.

“Ek het soos die jonges sonder gerief en op ’n baie klein begroting gereis. Om langer op ’n plek te vertoef gee ander dimensies aan ’n plek. Alleenreis het die voordeel dat ’n mens meer op jou medereisiger gefokus is en dat die reisland­skap deur die innerlike gedagtestroom vasgevang word.” 

Die weggaan was eindelik ook goed vir die gesin. Anders as die statistieke wat wys dat baie huwelike sneuwel ná ’n kind se dood sê Matty “deernis het gedy” tussen haar en Hennie.

“Mense rou verskillend, soos wat hulle ook ver­skillend lief het. Vir my en my man het tyd op ons eie ons gehelp om die skok en verlies te verwerk. Die groot afstand het ons ironies nader aan mekaar gebring. Dit het vir my as intens emosionele mens geleer om my­self te versorg.

Skrywer Matty Strydom.
Skrywer Matty Strydom.

“Ons oudste dogter, Clea, was ’n jong volwassene en reeds uit die huis. Haar verlies aan ’n suster is enorm, ’n stuk van haar toekoms is daarmee weg. Haar raad aan my was dat ek ’n ‘reset’-knoppie moet druk, en daarmee het sy my weggaan ondersteun. Dit het haar die ruimte gegee om aan haar eie prosesse te werk, sonder om deur my pyn verswelg te word.”

Die boektitel, Hier waar ek nou is, is ontleen aan ’n Antjie Krog-gedig waarby Matty en haar jongste groot aanklank gevind het. Matty het die bundel (Januarie-suite) in 1972 as boekprys gekry, en Jessica het die gedig hieruit 40 jaar later by ’n nasionale eisteddfod voorgedra.

“Voor my boek voorgelê is vir publikasie het ek vir Antjie per e-pos vertel hoe die gedig my smart verwoord. Sy het meelewend geantwoord en met publikasie toestemming gegee dat die titel gebruik word en die gedig in geheel aangehaal word.” 

La: ’n reis na die lig

Beskikbaar by Protea.
Beskikbaar by Protea.

Deur Ansja Ferreira (R240*)

Ansja Ferreira en haar twee dogters, Larissa en Kayla, het op ’n Sondag in 2017 ná kerk by haar pa gaan inloer. Op pad terug is hulle enkele huise van hulle s’n in ’n ongeluk betrokke. Larissa is op slag dood en Ansja ernstig beseer. Ons het haar ’n paar vrae gevra.

Jy skryf julle moes kies: Julle kon jul doodtreur en moed opgee of ’n doelbewuste besluit neem om alles deur te werk en aan te gaan. Hoe kry ’n mens laasgenoemde reg?

Ons het besluit om klein stappe te neem en geduldig met onsself te wees. Ek het my dae in klein stukkies opgedeel, net een taak op ’n slag hanteer en myself elke dag ’n tyd gegee om te rou. Ek het kerse vir Larissa opgesteek, plante vir haar geplant en bewus geword van die natuur, die wolke en alles om my. Hierdie stukkies normaliteit en fokus op die huidige oomblik (mindfulness) het die rouproses draagliker gemaak. Mettertyd het ons die verlies begin aanvaar, sin daarvan gemaak, die pyn deurgewerk en aangepas by ’n lewe sonder dat Larissa fisiek teenwoordig is. Ons het ’n pleegdogter en twee kleindogters ryker geword en is vandag weer ’n gelukkige gesin. 

Skrywer Ansja Ferreira.
Skrywer Ansja Ferreira.


Vertel van mense se reaksie op jul verlies. 

Sommige vriende het ons vermy, ander het gehuil as hulle ons sien of te veel vrae gevra en ons uitgeput. Die reaksie van sekere mense het vir ons sekondêre trauma veroorsaak.

My raad: Bied opregte meegevoel. Sê net: “Ek is so jammer oor julle verlies. As daar iets is wat ek kan doen, laat weet my asseblief.” Moenie voel dat die leë stiltes gevul hoef te word nie. Dit kan genoeg wees om net fisiek by die bedroefde ouers te wees.

Hoe beweeg ’n mens vorentoe en hou steeds die herinneringe aan jou kind lewend?

Dit was en is steeds ’n reis na die lig. Ek het ’n tuin geskep vir Larissa om haar herinnering lewend te hou. Daar was eers net ’n kaal stuk grond en ek het daagliks met liefde in die tuin gewerk en plantjies ingesit. Vandag is die tuin ’n lushof, en ek voel haar en die engele se teenwoordigheid hier.  

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees