Ek kry nie vir Philip de Vos vasgepen vir ’n onderhoud oor sy 30ste boek nie. Hy is uitstedig en besig êrens elders om ’n huis te verf. “Wag, laat ek eers uit die wind kom sodat ek jou beter kan hoor,” sê hy toe ek hom opspoor. Ek kry ’n paar vrae gevra en hoor onder meer dat hy vanjaar twee nuwe boeke op die rak het. Daar is geen aanduiding dat die digter, skrywer en voormalige operasanger 83 is nie.
Piet Grobler, wat al 13 boeke saam met Philip gedoen het, is ook “uitstedig”, want hy en sy lewensmaat woon in Portugal. Hy is ’n besonder bedrywige illustreerder, en ek wil weet wat hom inspireer.
“Ander prenteboeke. Ek het ’n baie groot versameling van reg oor die wêreld. Ek reken hier kan so 2 000 wees. Om te kyk hoe boeke gemaak word in – by wyse van spreke – Duitsland, China, of Argentinië, verruim ’n mens se eie opvattings oor die vorm, dink ek. En ek kom altyd vol inspirasie terug van ’n reis af. Dus reis ons wanneer ons dit kan doen of kan bekostig. Die Bologna-kinderboekebeurs in Italië is ’n groot inspirasie.”