book-icon Uitgawe 19 Augustus 2021

4 boeke: Van die lewe van 'n Ossewabrandwag-leier tot Audrey Blignault

akkreditasie
Vier uiteenlopende boeke – van die Afrikanerleier Hans van Rensburg tot NP van Wyik Louw se versamelde dramas en essays deur Audrey Blignault.
Afrikaner sondebok? Die lewe van Hans van Rensburg, ­Ossewabrandwag-leier
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Albert Blake (Jonathan Ball Uitgewers, R229*)

Baie dinge is oor dié omstrede figuur gesê. Hy was onder meer:

  • begaafd en charismaties;
  • ’n verbete Afrikaner-fascis;
  • ’n bewonderaar van Hitler; en
  • intelligent, gedissiplineerd, hoflik, vreesloos en ’n man van integriteit.

Albert Blake skryf: “Geen ander Afrikanerleier uit daardie era kon by Van Rensburg op die hoogtepunt van sy gewildheid kers vashou nie. Trouens, daar is waarskynlik min Afrikanerleiers uit enige tydperk wat soveel bewondering op ’n bepaalde tydstip ontlok het.”

In 1940 het ’n blink toekoms in die politiek voor hom gelê. Hy was in hierdie stadium nog deel van die regering, was die jongste sekretaris van justisie en administrateur van die Vrystaat.


Blake, ’n geskiedkundige wat ook boeke oor onder andere Robey Leibbrandt en Wit terroriste in die Ossewabrandwag geskryf het, onder­soek in Afrikaner sondebok? waarom Van Rensburg eindelik “die stryd om die hart van die Afrikaner sou verloor”.

In 1940 het ’n blink toekoms in die politiek voor hom gelê. Hy was in hierdie stadium nog deel van die regering, was die jongste sekretaris van justisie en administrateur van die Vrystaat. Sy “radikale ideologie van nasionaal-­sosialisme” het hom egter ’n ander koers laat inslaan waar hy leier van die Ossewabrandwag en die Stormjaers (die militante binnekring) geword het.

“Hy is ook daarvan beskuldig dat hy gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n handlanger van die Duitsers was, terwyl die werklikheid veel komplekser en in baie opsigte heeltemal anders is,” skryf Blake. Liefhebbers van geskiedenis sal sy ontleding interessant vind.

Wat my aandag egter getrek het, is die kort hoofstuk “Katie en omstredenheid”.

Van Rensburg se vrou was “ ’n laggende skoolmeisie in ’n venster van die Hoër Meisieskool Bloemhof” toe hy haar die eerste keer raaksien. Hy het haar dadelik die hof begin maak, al was hy toe al ’n student aan die universiteit.

Hierdie meisie van Worcester het Oosterse gelaatstrekke gehad en is dikwels vergelyk met Anna May Wong, ’n Amerikaans-Chinese aktrise uit die 1920’s en 1930’s. Katie is eenkeer by ’n banket in Pretoria aangekondig as “die beeldskone en eksotiese vrou van die Japannese konsul-generaal”.

Sy het haar hare lewenslank in ’n bob met ’n kuif gedra, kort tennisrokkies gedra, Russies leer praat en vergaderings van die Friends of the Soviet Union bygewoon.

Sy was geen stereotiepe Afrikanervrou nie. In sekere opsigte kan sy as een van die eerste Afrikanerfeministe beskou word.

“Haar latere verduideliking hiervoor was dat dit in daardie jare – met die armblankevraagstuk altyd op die voorgrond – nie ongewoon was vir Afrikanerintellektuele om so­sialistiese idees as ’n moontlike oplossing te ondersoek nie.

Haar “onverdiende omstredenheid” het blykbaar hoofsaaklik oor haar voorkoms gegaan. Soos een van die OB-generaals gerapporteer het: “Generaal, ek weet nie wat om te doen nie. Mevrou Van Rensburg is so gemoderniseer, sy dra kort rokkies en kort hare. Die ander vroue is algar in Voortrekkerrokke en hier staan die vroutjie met die kort hare en die kort rok, sulke wit bows in die hare.”

Ek dink nie dis net oor haar modesin dat Katie van Rensburg deur haar skoondogter Lettie van Rensburg so beskryf word nie: “Sy was geen stereotiepe Afrikanervrou nie. In sekere opsigte kan sy as een van die eerste Afrikanerfeministe beskou word.”

Versamelde dramas
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur NP van Wyk Louw (Protea, R714*)

Dit is die eerste keer dat al die dramas, hoorspele en libretto van NP van Wyk Louw in ’n ver­samelbundel uitgegee word.

“Daar is ’n rykdom van skoonheid en wysheid in die dramas opgesluit; hulle is nie net geskik om opgevoer te word nie; hulle is ook meer as die moeite werd om te lees en te herlees,” skryf prof. Chris van der Merwe in sy inleiding.

“Met die herlees van die dramas, hoorspele, koorspel en libretto het dit my opgeval hoe dikwels hulle ’n gesprek met mekaar voer.

“Soortgelyke temas word herhaaldelik uit­gebeeld; die tekste sluit bymekaar aan, kom­plementeer mekaar en spreek mekaar soms teen.”
Dit is ’n bundel vir die versamelaar en fynproewer van Afrikaans.

Vuur in sy vingers – Die verreikende invloed van NP van Wyk Louw
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Bydraende redakteurs: Ampie Muller en Beverley Roos-Muller (Hemel & See-uitgewers, R318*)

Vuur in sy vingers is mense se persoonlike herinneringe aan NP van Wyk Louw. ’n Mens kry die indruk dat dit met liefde byeengebring is deur Ampie Muller, ’n skoonseun van Louw, en sy vrou, Beverley.

Ampie skryf intiem oor die verhouding met sy beroemde skoonpa, en Beverley beskryf sy jeug op Sutherland en familiegeskiedenis gegrond op navorsing deur ’n kleindogter, Anneke Muller.

Van die bekendes wat oor hul verhouding met Louw skryf, is: Katinka Heyns, Adam Small, Antjie Krog, Koos Kombuis, Marlene Dumas en Richard van der Ross.

Dis ’n interessante en maklik leesbare bundel wat ’n menslike blik op Louw gee.

Die eindelose avontuur
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Audrey Blignault (Protea, R169*)

“Ten spyte van verkrummelende waardes om ons heen, ten spyte van toenemende geweld in die wêreld, is daar nog boeke wat ons kan wegvoer uit die onmiddellikheid van ons bestaan na ’n sfeer van hoër, ruimer lewe. Daar is nog boeke wat ons ons geloof in die mens laat behou.” Dit was in 1991 dat Audrey Blignault dit aan ’n leeskring gesê het.

Haar essays in Die eindelose avontuur het van 1990 tot ’92 in Insig verskyn.

In elk skryf sy oor ’n skrywer en boek wat ’n indruk op haar gemaak het – klassieke boeke wat vandag nog gelees moet word. Hennie Aucamp verduidelik dit die beste in sy voorwoord, waar hy praat van Edith Warton se “awakeners” – boeke wat haar tot ontwaking gebring het.

“Dit is wat Audrey Blignault ’n leeftyd lank doen: Sy nooi ons, nee, dwing ons om kennis te neem van haar ‘awakeners’ .”

* BESKIKBAAR TEEN DIÉ PRYSE BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING.
Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees