book-icon Uitgawe 17 Junie 2021

Aangrypende verhale oor mense wat aan psigiese siektes ly

akkreditasie
Lees ook wat Pieter van Zyl verstom en sy wenke vir mense wat psigies swaarkry.
Verhale van hoop: Só help jy jou geliefde en jouself
Beskikbaar by Lapa Uitgewers.
Beskikbaar by Lapa Uitgewers.

DEUR PIETER VAN ZYL (Lapa Uitgewers, R295)

“Ek het een nag om 04:23 in my woonstel in Seepunt gesit en die verwoesting rondom my verslae gadegeslaan. My lewensmaat wat met bipolariteit saamleef, het in ’n maniese fase alles stukkend gegooi. Ek het toe gewens ek het ’n boek of een of ander betroubare riglyne gehad om die regte dinge te doen om die situasie vir ons albei te ontlont.”

So antwoord Pieter van Zyl toe ek hom vra waarom hy Verhale van hoop geskryf het.

“Ek glo die boek se verhale en raad kan mense in moeilike situasies help met praktiese raad. En die grootste doelwit is om bewustheid en begrip te skep. Vrees skep haat of onverdraagsaamheid. As die mense om ons kan verstaan waaroor hierdie siekte gaan, sal ons meer ondersteuning kry.

“Dit kan hopelik lewens red, want as daar nie steun en begrip is nie, kan hierdie siektes almal terminaal wees, soos kanker.”

Pieter vertel hy wou al in 2000 oor die onderwerp skryf toe hy as verslaggewer by Beeld gediagnoseer is met major depressie en angssteurnis. Hy was toe ’n misdaadverslaggewer en het gedink hy kan sy werk verloor as iemand uitvind.

“Nou weet ek dit sou nie so gewees het nie.”

Die onderwerpe waaroor die mense in sy boek praat en waaroor kenners raad gee, is angsverslawing, bipolêre gemoedsteuring, depressie, eetsteurings, obsessief-kompulsiewe steuring, pornografieverslawing, opgaarsteuring, posttraumatiese stressteuring, histrioniese steuring, grenslynpersoonlikheidsteuring, skisofrenie, tourette-­sindroom en delusionele steuring.

By elkeen gee sielkundiges en psigiaters raad oor onder meer hoe die siekte manifesteer, wat jy kan doen om jouself of ’n geliefde te help, dinge wat jy nie moet sê nie en hoe jy jou kan beskerm.

Pieter van Zyl. Foto: Verskaf
Pieter van Zyl. Foto: Verskaf

Pieter was in 2007 en 2008 ’n houer van ’n Rosalynn Carter Fellowship for Mental Health Reporting in Atlanta, Georgia, in Amerika. In sy tyd daar het hy besef hoe min raad daar is vir geliefdes wat iemand moet versorg wat met ’n psigiese siekte saamleef.

Hy het die groen lig gekry by ’n uitgewer, maar die plan is geskrap en eers in die inperking is die ­manuskrip aanvaar.
Pieter het met die hulp van  sielkundiges en die SA Depressie-en-angs-groep (Sadag) mense opgespoor wat hul stories wou vertel, en ook weer gepraat met van die mense met wie hy as joernalis al onderhoude gedoen het.

Hy het self al die onderhoude gevoer.

“Ek het tyd af gekry om die land plat te ry agter stories aan. Ek wou soveel verskillende provinsies moontlik betrek en nie net Kaapstad en Johannesburg nie.

Was dit nie vir hom as depressielyer moeilik om hom besig te hou met soveel swaarkry van ander mense nie? Nee, sê hy.

Dis helend en bemoedigend vir my om hierdie stories te hoor.

“Deur ’n stem te gee aan mense wat gewoonlik nie gehoor word nie, bemagtig ek myself ook.

“En ek het ’n psigiater wat al 12 jaar die pad saam met my stap, Wayne Saunders, wat my op die regte kombinasie chroniese medikasie geplaas het en my met insig en wysheid raad gee,” sê Pieter.

“Onderhoude met mense wat swaarkry, die skryf van hul stories en die opvolg daarvan is my beste medisyne.”

  • Pieter van Zyl is ’n joernalis by Huisgenoot. Hy het die boek Verhale van hoop in sy persoonlike hoedanigheid geskryf.
5 dinge wat Pieter verstom
  • Die aanpasbaarheid en veerkragtigheid van Suid-Afrikaners tydens enige krisis; van beurtkrag, droogtes en waternood, tot korrupsie en corona.
  • Krag in vergifnis en mense se kapasiteit om te vergewe.
  • Onvoorwaardelike liefde van diere, veral ons haarlose sfinkskatte, Essie en Poppie.
  • Die reuk van boeke en hoe jy tussen gedrukte woorde kan rus en veiligheid vind.
  • Hoe ’n swem in die koue water van Kaapstad se getypoele genees en hoop gee.

Pieter se wenke vir mense wat psigies swaarkry

  • Bel. Reik uit. Jy is beslis nie alleen nie. Elke ervaring is uniek, maar daar is miljoene mense wat deur dieselfde gaan as jy. Daar is beslis ’n kollega, vriend of familielid wat jy enige tyd van die dag of nag kan bel.
  • Begin ’n WhatsApp-groep. Jy is net so sterk soos jou ondersteuningsnetwerk.
  • As jy nie voel jy het sulke mense in jou lewe nie, is die beste beginpunt Sadag se Cipla-noodlyn (0800-456-789) wat 24 uur per dag beman word. Hulle sal jou dan na ’n steungroep in jou gebied verwys of jou help om een te begin.
  • As jy jou lewe wil beëindig, moet jy so gou moontlik in ’n privaat of staatshospitaal op­geneem word. Sadag het ook ’n selfmoord­krisislyn: 0800-567-567.
Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees