book-icon Uitgawe 2 Desember 2021

Die bekroonde digter Ronelda S. Kamfer se eerste roman is ’n moet-lees

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
‘Ek wou hê elke chapter moes soos music lees.’ Lees ‘Huisgenoot’ se onderhoud met die skrywer van ‘Kompoun’, ’n moderne plaasroman oor ’n groep niggies en nefies wat in die Overberg grootgeword het.

Kompoun deur Ronelda S. Kamfer (R199*)

Beskikbaar by Kwêla.
Beskikbaar by Kwêla.

“Antie Tina het nou vir ons tea gebring, sy lyk soos Florence Nightingale of net ’n nightingale, al het ek nog nooit een gesien nie. Sy lyk so mooi, soos ’n ding wat jy nog nie gesien het nie, maar wat jy weet is baie mooi. Ek dink vanaand is die eerste aand in ons almal se lewens wat ons actually ’n grootmens geneed het.”

Dis die aand van die 12-jarige Tasha, wat haarself gehang het, se begrafnis en haar tienervriende is stukkend, maar waar is die troos van grootmense? Dis ’n generasie van bruin ouers wat hulle kinders hard grootmaak, vir hulle lieg en in die openbaar klap.

Maar elke generasie doen (hopelik) ’n klein bietjie beter as die vorige generasie, sê Ronelda Kamfer. “Ek dink nou probeer meeste mense maar net bietjie harder om free te wees van traumatic en damaging familie-environments en jy hoef nie meer skuldig te voel as jy eenvoudig net jou rug draai op dit nie.”

Kompoun is die eerste roman deur dié bekroonde digter.

Haar debuutbundel, Noudat slapende honde (2008), het die Eugène Marais-prys gewen, en haar tweede, grond/Santekraam, die Absa-Kanna-prys in 2012. Hierop volg Hammie in 2016 en Chinatown in 2019. Van haar werk is in Nederlands, Frans en Italiaans vertaal. Sy woon saam met haar man, die skrywer Nathan Trantraal en hul dogter, Seymour, in Makhanda.

Kompoun word deur ’n niggie, Nadia, en nefie, Xavie, vertel. Hul ouma Sylvia McKinney het hulle saam met ander niggies en nefies grootgemaak op Groenplaas in die Overberg.

My ma is my ma, sentimental bond wat ek fokkol oor kan doen nie; my ouma, nog ’n vrou wat ek moet respek omdat sy oud is.

As grootmense probeer hulle hul kinderjare uitpluis en agter al die leuens van die grootmense by die waarheid uitkom. Ook pynlike waarhede soos dat bloed nié kruip waar dit nie kan loop nie: “Ek dink anyway ons force onsself om lief te wees vir familie, want ons dink dit is die regte way om te wees. Dit is nie, familie is maar net mense met shared DNA en dit is nie genoeg nie,” sê Xavie. 

“Ons almal kan choose wat dit vir ons mean. Vir myself choose ek die mense wat vir my choose. My ma is my ma, sentimental bond wat ek fokkol oor kan doen nie; my ouma, nog ’n vrou wat ek moet respek omdat sy oud is. Die waarheid is, is ie nodig om lief te wees vir jou familie nie, issie ’n moet nie.” 

Ek vra Ronelda wat die impetus was vir Kompoun.

“Ek wou ’n plaasroman skryf wat modern voel en lees. Ek wou ook al die spaces wat ek surrounded mee was capture, plaaswerkers, hulle kinders, hulle kleinkinders en families wat nie bonded is aan plekke in ’n sentimental way nie.”

Die struktuur, naamlik dat Nadia en Xavie om die beurt ’n “spreekbeurt” kry, maak die storie maklik om te lees, want dit vloei so gemaklik.

Mense se uitkyk en aksies beweeg nie altyd in tandem nie. Society as ’n whole het nog klomp toxic en selfdestructive cycles om deur te gaan voor ons regte progress maak

“Ek het die boek die eerste keer halfpad geskryf, toe vergeet ek om die doc te save (Nathan kan eendag vertel van my meltdown), toe nog ’n tweede keer heeltemal klaar, toe skryf ek dit weer ’n derde keer oor, want die linear, tradisionele struktuur het my verveel toe ek dit lees,” vertel Ronelda. 

“Ek het die boek opgebreek in vignettes sodat elke stuk selfstandig kon wees. Ek wou hê elke chapter moes soos music lees, met singers wat harmonize. Nadia sing lead en Xavie is die backing vocalist.”

Die generasie voor Nadia is ene “tette en groot oë. Sex and sadness.” Ek vra of hierdie lewensuitkyk aan die uitsterf is onder bruin vroue. Millenniërs sal dalk nie dink dis oukei nie.

“Ek dink in general is daar ’n groot gap tussen wat mense sê en wat hulle doen. En mense se uitkyk en aksies beweeg nie altyd in tandem nie. Society as ’n whole het nog klomp toxic en selfdestructive cycles om deur te gaan voor ons regte progress maak.”

Ronelda S. Kamfer. Foto: Nathan Trantaal
Ronelda S. Kamfer. Foto: Nathan Trantaal

Nadia noem die baby boomers Gen Kak en die millenniërs Gen Kakker. 

“My ouers se generasie is die eerste generasie wat aangepas het by die nuwe generasie. Ons is minder geneig om soos ons ouers te word, ons ouers meer geneig om soos ons te word.”

Ronelda sê sy dink dit het te doen met tegnologie wat die wêreld meer oopgemaak het.

“Die vorige generation het meer access tot die wêreld buite hulle cultural cocoons. Daar is ook minder mystery in die wêreld, minder unknowns. Dit maak dat mense selfs net op ’n subconscious vlak minder religiously fanatical is, minder superstitious, en therefore ’n bietjie minder prejudice het.”

Ek sou aspirant-­skrywers aanbeveel om hulle eie pad te loop. Moenie te veel advies soek en aanluister nie.

Sy dra haar boek op aan haar man en kind “wat my artillery dra sodat ek free is om te fight”. 

Ek vra haar of daar baie van haar is in Nadia, in haar jong dae die voorbakleier onder die nefies en niggies.

“Ek dink Freud of iemand het gesê dat almal in ons drome onsself is. Manifestasies van verskillende aspekte van ons psige. Ek dink dit is ook van toepassing op skryf, almal die karakters in Kompoun represent verskillende aspekte van my persoonlike ervaringe.”

Sou sy aanbeveel dat aspirantskrywers ’n meestersgraad in skeppende skryfwerk doen? (Sy het hare in 2019 behaal.)

“Ek sou aspirant-­skrywers aanbeveel om hulle eie pad te loop. Moenie te veel advies soek en aanluister nie. Ek het reeds drie suksesvolle boeke geskryf voor my meesters, ek het vir my eie abstrakte redes ’n M.A. gedoen, nie om te leer skryf nie.”

Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!
 
Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees