book-icon Uitgawe 14 Januarie 2021

Die spanning loop dik in dié misdaadstories

akkreditasie
Selfs al is jy dalk nie 'n groot aanhanger van misdaadstories nie, gaan hierdie twee boeke jou beslis van deuntjie laat verander.
Die dooies praat nie
Peet Venter. Foto: Verskaf
Peet Venter. Foto: Verskaf

Deur Peet Venter (Lapa, R216*)

“Wapensmokkelaars jaag ’n meisie om ’n sensitiewe dokument wat sy in die hande gekry het, terug te kry. Toe sy per ongeluk onder Thys Krige se dak beland, moes hulle liewer net omgedraai en weggery het. Hulle het nie. Groot fout. Toe hulle nog ’n groter fout maak en die vrou wat Krige se hart gesteel het, gyselaar hou, is dit verby met hulle.”

Dis sy jongste boek in ’n neutedop, vertel Peet Venter.

En wat is vir hom die beste toneel?

“Krige staan in die donker in die veld en kyk na ’n plaashuis. Wapen­smokkelaars hou Petro daar gevange. Hy moet ’n plan bedink om haar ongeskonde daar uit te kry, maar weet die smokkelaars wag vir hom. Twee patrolleer die werf. Hy sal hulle kan elimineer, maar die leier is by Petro in die huis.

“Wat Krige nie weet nie, is dat die plek met plofstof gelaai is. Net ’n oproep en alles word platgevee.

5 dinge wat Peet verstom
  • Sommige politici se irrasionaliteit en blatante magsmisbruik betreffende covid-19.
  • Mense se onverskilligheid teenoor die coronakrisis.
  • Dat mense nog glo net 16 dae van aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders sal enige verskil maak.
  • Mense se bereidwilligheid om te help in droogte- en hongersnood.
  • Dat ek 80 jaar gehaal het.

’n Uittreksel uit ‘Die Dooies Praat nie’

Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Reeds oor 30 het sy haar daarmee begin versoen dat sy enkellopend sal bly.

Toe is Adriaan Hofman daar. Gesiene sakeman, sosiale don. Sy huis en tuin ’n onuitputlike bron van artikels oor argitektuur, binnenshuise ontwerp, tuinbou en leefstyl. ’n Hele paar jaar ouer as sy, maar nog sonder die bagasie van ’n vorige huwelik – daar was al skimpe dat hy gay is.

Alles het vinnig gebeur. Almal het gepraat oor die glanspaartjie. Die huwelik was ’n sensasie. Skielik was sy fotograwe en sosiale tydskrifte se liefling, die skone Petro de Wet-Hofman.

Eintlik was dit nogal lekker, moet sy erken. Tot sy agtergekom het hoe oppervlakkig en hol dit alles is. ’n Wêreld gebou op pretensie. Jy kan wees wat jy wil, net nie jouself nie.

Nou is sy om ’n ander rede as haar werk in die nuus. Sý is nuus. Skindernuus.

Die tekens was vroeg reeds daar, die stank van ’n doodgebore huwelik. Sy onvermoë in die bed. Nie dat dit vir haar belangrik was nie; hy is nie meer ’n jong hings nie.

Maar toe kom die skimpe dat sy voor die troue lekker rondgeslaap het. Sy het hom selfs betrap dat hy haar selfoon nagaan. Die afbrekende opmerkings het geleidelik venyniger geword. Die pryswenner was toe hy haar die “hoernalis” begin noem.

By nabetragting kan sy nie verstaan hoekom sy dit stil verduur het nie. Dit het al meer gebeur dat hy saans laat moes werk. Toe word dit sakenaweke, sy alleen by die huis. En wanneer hy tuiskom, die skimpe dat sy in sy afwesigheid ontrou was.

Die bom het oornag gebars. Dit het soos ’n veldbrand deur die media versprei. Foto’s van Adriaan Hofman en die sepiester Lola Lorenz – in werklikheid Loretta Lourens − saam by ’n eksklusiewe ontspanningsoord. By die swembad. Poedelnakend. Lola is 19. Nog ’n kind, maar reeds ’n mannejagter van formaat.

Lola Lorenz speel gewillig en lustig saam, borduur voort. “Daar moet iets verkeerd wees met Petro, maar dis nie wat ek sê nie. Kyk maar wat word in die sosiale media van die vrou gesê.”

Sinisme is een ding, maar as jy verbittering en woede daarmee meng, word dit iets heeltemal anders. En sy weet dat sy ’n punt nader waar dit nie meer vir ’n oop hek gaan wag nie.

My naam is Legio
Madelein Rust. Foto: Verskaf
Madelein Rust. Foto: Verskaf

Deur Madelein Rust (Lapa, R224*)

Madelein Rust verduidelik waarom lesers My naam is Legio sal geniet.

“Ek het heelwat navorsing gedoen oor demonebeswering en het so afgekom op die Ars Goetia, ’n boek wat in sommige kringe aan koning Salomo toegeskryf word, maar wat eintlik van die 17de eeu dateer. Ek het dit ingespan om van hierdie boek iets vars en nuuts in die krimi-genre te maak. Dit pas heerlik in by die tema waarin die span van Malan & Coetsee weer ’n reeksmoordenaar moet aankeer.”

En wat is vir haar die beste toneel?

Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

“Soos altyd gaan dit oor een van die newe­karakters. Al skryf ek oor moord en doodslag is die alledaagse, die banale, die dinge waaraan ek die lekkerste skryf. In hierdie toneel moet die span ’n vrou op die kleinhoewes buite Bloemfontein gaan ondervra.

“Die vrou is, ook soos altyd, geskoei op iemand wat ek al ontmoet het of iemand in my familie. Of dalk nie. Dit was vir my wonderlik om te beskryf hoe sy lyk en hoe sy praat en om te illustreer hoe die goedgelowige kind wat in so baie van ons skuil , na vore kom.

5 dinge wat Madelein verstom
  • Hoeveel ander mense ook huishenne is wat gedurende die eerste maande van die inperking gevoel het dat hulle hul hele lewe lank geoefen het vir iets so wonderliks soos gedwonge afsondering.
  • Die stilte gedurende daardie eerste maande. Ek het nooit gedink stilte sou my kan laat voel ek kan beter asemhaal nie.
  • Die spoed waarteen die aarde herstel het van die mens se vernietigende teenwoordigheid.
  • Hoeveel vreugde in drukkies sit ná ’n klompie maande waarin ’n mens dit nie kon doen nie.
  • Die mens se onnoselheid om ’n tweede vlaag van ’n vernietigende virus te bewerkstellig deur ’n paar eenvoudige reëls nie na te kom nie.

  • Teen dié prys beskikbaar by Graffitiboeke.co.za. Aflewering landwyd – as jy meer as R500 bestee, is dit gratis per koerier; Bestellings minder as R500 kos R89.
Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees