book-icon Uitgawe 28 Januarie 2020

Dink jy aan emigreer of net pad vat – hier’s ’n paar boeke vir jou

akkreditasie
Oorweeg jy dit dalk om te emigreer? Dalk is dit tyd om die pad te vat met 'Voetspore' se mens. Daar's ook iets besonders vir blokraai-boffins . . .
Emigreer of bly – Is die gras werklik groener aan die ander kant?
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Deur Stephan Joubert (Lux Verbi, R171*)

Baie Suid-Afrikaners neem ry-of-bly-besluite vanuit ’n geloofsperspektief sonder om ooit indringend oor die moraliteit en deurdagtheid van sulke keuses na te dink.

So sê Stephan Joubert, teoloog, bekroonde skrywer, hoof van ekerk en buitengewone professor by verskeie universiteite. Hy en sy gesin het vanweë sy universiteits­betrokkenheid al op verskillende plekke in die buiteland gebly.

“Dit het my aan verskillende fasette van woon in die buiteland blootgestel,” vertel Stephan. “Ek het agtergekom dat baie mense hier en elders in die wêreld ongelukkig is omdat hulle nie hul ry-of-bly-keuses goed genoeg deurdink het nie. Of die regte vrae gevra het en die regte besluit­nemingsprosesse gevolg het nie.

“In die lig hiervan het ek Emigreer of bly – Is die gras werklik groener aan die ander kant? geskryf oor die integriteit van ons keuses na alle kante toe. Dit is bedoel om mense te ondersteun wat nog hul keuses moet maak en vir almal wat reeds besluit het om te ry of te bly.”

Stephan sê selfs ’n motivering soos “ons doen dit vir ons kinders” is nie outomaties ’n goed deurdagte besluit nie.

“In sommige gevalle kan dit op selfsugtige oorwegings van die ouers berus. Ook neem baie mense sulke besluite om te verskuif met ’n toeris-ingesteldheid. Hulle kyk na alles wat werk aan die oorkant, en hulle sien net die idilliese kant van ander lande raak sonder enige begrip van wat dit beteken om elke dag vir die res van hul lewe daar te leef,” vertel Stephan.

Stephan Joubert. Foto: Brenda Veltman
Stephan Joubert. Foto: Brenda Veltman

“Nuwe sosiale reëls wat geld asook ander waardestelsels en gebruike is tipiese emigrasie-­vangstrikke wat die lewe baie moeilik kan maak. Net so besef baie mense nie vooraf dat die ‘veiligheid’ van sulke nuwe adresse dalk die einde van hul kinders en nasate se geloof kan beteken nie.

Baie bestemmings in die Westerse wêreld is nie so geloofvriendelik soos Suid-Afrika nie.

“Dit gaan nie maar net oor die regte of ’n beter adres nie, maar oor die regte hart in ons binne­ste. In elk geval kan mense wat vrede in God gevind het op enige plek leef en, as dit moet, ook oor-leef. Ons kan nie agter geluk aan trek as dit nie reeds ’n werklikheid in ons hart is nie. Net so kan ons ook nie maar net bly omdat ons bang is vir die onbekende nie.

“Ek sê aldag vir myself enige plek op aarde kan lekker wees, maar dan moet jy ’n lekker mens wees.
“Anders gaan jy op elke plek waar jy bly steeds saam met U2 sing: I still haven’t found what I’ve been looking for.”

Voetspore in Suid-Afrika: ’n Reisgids
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Deur Johan Badenhorst, Foto’s: Gideon du Preez Swart (Protea, R266*)

Toe die Voetspore-span in 2019 hul 13de ekspedisie vir hul TV-dokkiereeks pak, het hulle hul paspoorte tuis gelos en net binnelands gereis.

Min het hulle toe geweet watter goeie oefening dit was, want kort voor lank het almal se paspoorte bo in die kas lê en stof vergader toe die pandemie reis onmoontlik gemaak het.

In hul derde gids, Voetspore in Suid-Afrika: ’n Reisgids, besoek hulle die Richtersveld, Nama­kwaland, Tankwa-Karoo, Klein-Karoo, Baviaanskloof, Wildekus, suidelike Drakensberge, KwaZulu-Natal, Wolkberge, Limpopovallei en die Kalahari.

In die 13 hoofstukke in die boek word 13 reise bespreek. Vir elke reis word dié inligting gegee:

  • Name en telefoonnommers van gidse
  • 4x4-roetes
  • Verblyfbesonderhede
  • Paklys
  • Afstande tussen dorpe
  • Beskikbaarheid van vulstasies en gesondheidsorg
  • Wetenswaardighede

Daar word ook eenvoudige ikone gebruik om byvoorbeeld aan te dui of kinders welkom is, selfoonontvangs goed is, of drinkwater beskikbaar is, watter buitelugaktiwiteite beskikbaar is en vele meer.

Benewens al die feite wat gegee word, is die boek vol stories – soos oor die mense van Alpine Swift by Rhodes waar Hylton en Sunelle Dunn met atlete boer terwyl die res van die omgewing se boere met skape boer.

Hul plek lê byna 2 000 m bo seevlak.

“Oefening op hierdie hoogte stel in vergelyking met oefening by seevlak die atleet in staat om drie keer soveel rooibloedselle in die bloed op te bou. Dit dra dus meer suurstof en gee so aan die atleet ’n voordeel.”

Dis ’n baie knap gids vir almal wat die pad wil vat op eie bodem.

Pharos Blokraai-antwoorde
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Deur Adri Burger (Pharos, R266*)

Wat is een woord vir ’n vrees vir die hemel? Wie was Abi-Albon en ­Abiël? Wie het die veselpuntpen uitgevind en wie die landmynver­klikker? Watter berg in Brasilië begin met ’n A en wat is die naam van die eerste Chinese satelliet?

Tot jou hulp is die vierde hersiene uitgawe van die gewilde naslaanbron Moeg-gesoek.

Dit is omvattend bygewerk en uitgebrei, en dek algemene kennis, Bybelkennis, geografie, kunste en vermaak, politiek, skoonhede en sport. Die meer as 100 000 inskrywings sal help dat jou blokraaie nie so haasbek lyk van al die oop plekke waar jy nie die antwoord kon kry nie.

  • Teen dié pryse beskikbaar by Graffitiboeke.co.za. Aflewering landwyd – as jy meer as R500 bestee, is dit gratis per koerier; Bestellings minder as R500 kos R89.
Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees