book-icon Uitgawe 30 September 2021

Geniet ’n roman waar ’n kultus en woonwaens groot rol speel

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Lees ook 'n verkorte uittreksel uit Morné Malan se nuwe roman 'Wildekus' en vind uit watter vyf goed hom verstom.
Wildekus
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Morné Malan (Lapa, R229*)

Adam Swart neem sy vervreemde 21-jarige dogter, Lea, Wildekus toe vir ’n kort vakansie. Haar ma is pas aan kanker oorlede en hy hoop om die verhouding met sy dogter te herstel.

Hul lewens kan nie meer verskil nie: Hy is ’n welgestelde sakeman met ’n ­Porsche Cayenne in die oprit en ’n Breitling aan die arm, en sy beplan om die huis in Melville wat sy by haar ma geërf het aan die kerk te gee.

Hulle kampeer in die skilder­agtige Dwesa-­natuurreservaat langs die see – die een plek waar hulle saam goeie herinne­ringe gemaak het toe Lea nog ’n kind was en “Dad nog nie so ’n knorrige ou man was nie”.

Byna onmiddellik ontspoor hul wegbreek toe ’n groep woonwaens langs hulle kom kamp opslaan en die mense die aand oorverdowend begin kerk hou. Pa en dogter het ’n uitval, en toe hy die volgende oggend opstaan, is sy weg.

Eers drie jaar later spoor hy haar weer op.

Hy ken die Wildekus van bo tot onder goed, sê die skrywer van Wildekus, Morné Malan.

“Ek kom baie daar, en eenkeer in my 20’s het ek ’n vreemde voorval by Dwesa beleef. Alles was soos gewoonlik en die volgende oomblik daag so vier of vyf woonwaens op. Dit was toe ’n charismatiese groep wat kerse uitgepak en gospel­musiek gespeel het wat oor die kampterrein weergalm het.

“Dit het my verbeelding aan die gang gesit. Wie is hierdie mense wat so ’n show opsit met hul geloof?” vertel Morné. “Ek vind die sielkundige aspek van kultusse fassinerend: Wat dryf jou dat jy jou geloof so uitleef? Ek verslind enig­iets oor uiterste geloofsgroepe en het vir my roman onderhoude gevoer met mense wat in kultusse was.”

Dis nie die eerste keer dat ’n roman uit sy pen verskyn nie. Hy het drama studeer aan Tukkies, maar sy droom om voltyds ’n verhoogakteur te word “was my nie beskore nie”.

Hy leef sy kreatiwiteit sedertdien uit as taalpraktisyn by ’n internasionale IT-maatskappy. In 2007 het hy ’n roman voltooi en dit vir die tydskrif Insig se laaste Groot Romanwedstryd ingeskryf. Sy debuut, Suiderkruis, is as die wenner in die debuutafdeling aangewys.

Nou, 14 jaar later, kom Wildekus, waarin nie net ’n kultus nie, maar ook woonwaens hoofrolle vertolk.

Morné Malan. Foto: Verskaf
Morné Malan. Foto: Verskaf

“Lendelam karavane inspireer my,” skryf hy agter in Wildekus en vertel van die bekende Jurgens-woonwaens wat so bekend op Suid-­Afrikaanse paaie was. Blykbaar het die Jurgens-familie die eerste woonwaens met die hand aanmekaargeslaan, en mevrou Jurgens het self die gordyntjies en kussings gestik.

Ek sê vir Morné sy hoofkarakter, Adam Swart, is nie jou tipiese held aan wie se kant jy jou dadelik skaar nie. Hy is verbaas, maar erken dat ’n mens wel kan bevraagteken of Adam hoegenaamd ’n held is.

“Ek dink hy hou ook nie eintlik van homself nie. Hy was moeilik om te skryf, want hy is eerder ’n waarnemer. Hy is behep met ‘sien is glo’. Hy glo net wat hy regtig sien. Hy is siende blind en wat hy onder meer nie raaksien nie, is homself.”

  • Mooi, wilde plekke: Dis ongelooflik hoeveel ongereptheid in ons land nog oor is om te beleef.
  • Oningeligtheid en daarmee saam die dom-­arrogansie van die mensdom om onteenseglike wetenskap te misken.
  • Daar is min soorte musiek wat my so dood in my spore kan laat vassteek soos ’n stuk klassieke klavier, gewoonlik Chopin.
  • Hoe vulgêr ryk die rykstes van die rykes is, maar skynbaar geen onreg daarin sien nie . . .
  • En terselfdertyd, hoe min ’n mens eintlik nodig het om dankbaar en vervuld te lewe.

Verkorte uittreksel uit Morné se roman ‘Wildekus’

Die meningsverskil tussen hom en Lea gebeur net voor sonsondergang, toe ’n stilte skielik oor die kampterrein neersak.

Die weder­dopers het die kerse om die houtstapel aangesteek en die hele groep – seker dertig mense – het plegtig rondom die houtvuur stelling ingeneem. Hierdie keer is almal op hulle knieë op die grond: vroue, mans, oumense, kinders, almal.

Die jong prediker het uit sy karavaan te voorskyn gekom en in die middel van die groep gaan staan met sy hande voor hom gevou.

“Hier gaat ons,” sê Adam. “Die ringmeester en sy sirkusdiere. Kyk, daar kniel die ou olifant ook.” Hy beduie met sy kop na die dik vrou met die rooi hare wat gehelp moet word om op haar knieë te kan kom.

Toe begin die man bid. Sy stem dra duidelik en sterk oor die kampterrein asof hy juis wil hê elke siel in die plek moet hoor en sien hoe daar vir hulle saligheid gebid word. Die woorde is oorbekend, maar elke lettergreep word met oorgawe uitgerek en beklemtoon.

“Onse Vader wat in die hemel is,” bid die man. “Laat U naam geheilig word.”

“Halle-loee-ja!” kom die rooikopvrou se stem tussenin. Sy gooi haar hande só hoog in die lug dat die vet onder haar boarms dril. Enkele lede beaam haar uitroepe. En so gaan dit al hoe meer begeester in die ry af soos die gebed voortsleep.

“Genoeg is genoeg,” sê Adam. “G’n mens kan dit hier uithou nie.” Hy gryp sy flits en skakel dit aan. Kantoor toe! Maar Lea is onmiddellik by. Sy gryp hom stewig aan sy arm vas. “Nee!” fluister sy. “Los! Dad gaan nié nou ’n scene maak nie, kláár.”

Hy kyk vlugtig na die sirkel mense langsaan, maar hulle is só opgesweep deur die groepsgebed dat nie een van hulle hoor of sien wat rondom hulle aangaan nie.

“Dis onaanvaarbaar, Meis!” sê hy. “Hulle is besig om ons rus hier te
ver . . .” Maar voor hy sy sin voltooi, het sy hom aan die arm daar weg.

“Dié mense maak ons niks. Los hulle uit, Dad. Jy embarrass my!”

“Ék is embarrassing?” vra hy oorbluf. “Kyk hoe gaan húlle aan, Meis. My hel! Ek het niks teen die feit dat hulle Christene is nie, hulle kan glo soos hulle wil. Maar in dié kampterrein het hulle nog nie ’n greintjie respek vir énigiemand getoon nie. En dan sing hulle daai . . . daai . . .”

“Gospel.”

“. . . gesanik só kliphard dat die heuwels antwoord gee!”

“Dis Paasfees.”

“Ek gee nie ’n hel om of dit Krismis is nie!

“Wat van óns, Meis? Hoe ver en tot waar dink jy moet ons dié malligheid staan en verdra? Wat van óns, ek en jy, wat rustig hier probeer . . . probeer . . .” maar sy woorde raak weg.

“Probeer wát?” vra sy.

Probeer vrede maak. Mekaar probeer verstáán, wil hy sê, maar hy kan nie.

“Probeer vakansie hou.”

* BESKIKBAAR TEEN DIÉ PRYS BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING.
Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees