Phoebe Maritz, ’n jong, ambisieuse joernalis by ’n gemeenskapskoerant in die Laeveld, volg ná ’n skietvoorval in die wildtuin die veiligheidskontrakteur Paul Fryer na Cabo Delgado in Mosambiek. Sy doen dit in die hoop om ’n storie te skryf wat eindelik die aandag van een van die nasionale koerante sal trek.
Daar beland sy in ’n nes van privaat militêre kontrakteurs, insurgente en filantrope. Terselfdertyd sluip ’n sadistiese reeksmoordenaar in die omgewing rond en saai terreur so ver as wat hy gaan. Daarby veroorsaak Islamitiese djihadiste chaos in Phoebe se tuisdorp.
Dibi Breytenbach noem haar jongste roman, Buit, ’n “hardebaard-riller met ’n politieke inslag”. Haar grafiese beskrywings is vir ’n sensitiewe leser soos hierdie boekeredakteur ’n beproewing, en ek vra haar of sy haar dit ten doel stel om haar lesers bang te maak.