book-icon Uitgawe 8 Julie 2021

HG gesels met die skrywers van 2 splinternuwe romans

akkreditasie
Vind ook uit watter vyf dinge Miriam Telanie, oorspronklik van Beaufort-­Wes in die Groot-Karoo, en die voormalige aktrise Susan Coetzer verstom laat.
Hier verlaat ek jou
Miriam Telanie. Foto: Wessel van Heerden
Miriam Telanie. Foto: Wessel van Heerden

DEUR MIRIAM TELANIE (Human & Rousseau, R205*)

“Ek is oorspronklik van Beaufort-­Wes in die Groot-Karoo. Nadat ek 10 jaar in die Kaap gewoon en gewerk het, wou ek graag die twee areas in ’n manuskrip bymekaar uitbring. My ervarings op die platteland was net so uniek en uitsonderlik soos my tyd in Kaapstad. Natuurlik wou ek ook die hegte familiebande van ons plattelanders in ink verewig.”

So vertel Miriam Telanie, ’n onderwyseres in George, oor die ontstaan van haar debuutroman, Hier verlaat ek jou.

“Ek was van kleins af ’n ywerige leser. So het die skryf­gogga my gebyt, want ek het begin glo ek kan self ook boeke skryf as ek my daarop sou toelê.”

Sy is verlede jaar vir die Jakes Gerwel-stigting se mentorskapprogram gekies.

“Die mentorskap het vir my baie beteken. Ek het die geleentheid gehad om saam met Suzette Kotze-­Myburgh te werk en het so baie geleer. Ek glo enige toekomstige sukses sal wees oor die uitstekende leiding wat ek hier ontvang het.”

Waaroor gaan haar roman?

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Senobia, ’n meisie van Prins Albert, werk as taalversorger in die Kaap en trek vir die eerste keer in haar eie woonstel in. Saam met haar nuwe woonstelmaat, die flambojante Palesa, ontmoet sy ’n ewe interessante paar mans.

Maar sy is nie voorbereid op die man wat Palesa op ’n dag daar aanbring nie: “Hy kom nader met die ou bekende duiweltjies wat in sy oë dans. Buk onverwags af en soen my soos ons op die platteland maak as ons mekaar lank laas gesien het.”
Mondeo, haar skoolliefde en die eerste ou wat haar ooit gesoen het.

Vyf dinge wat Miariam verstom
  • Dat die sosiale media so ’n groot invloed op die mens het.
  • Dat kinders so ongelooflik anders is as die tyd waarin ons grootgeword het.
  • Dat geld so baie goed en ook so baie sleg kan veroorsaak.
  • Dat ons nooit werklik sal weet wat wag vir ons as ons sterf nie.
  • Dat die lewe terselfdertyd lank en kort is.
Die uil in die ysbos
Susan Coetzer. Foto: Phyllis Green
Susan Coetzer. Foto: Phyllis Green

DEUR SUSAN COETZER (Human & Rousseau, R285*)

Dit het nie met haar so sleg gegaan in die inperking soos met haar hoofkarakter, Gracie, nie, sê Susan Coetzer. Sy was in Maart verlede jaar met ’n manuskrip besig en doodmoeg van al haar optredes as spreker en aktrise – en toe word die land gesluit.

“Toe kon ek nie werk nie, want alles wat ek doen, is in groepsverband met feeste en toneelstukke.

“Toe het ek gerus, TV gekyk en sjokolade geëet tot ek vars gevoel het en ek my uitgewer laat weet het ek is reg om my manuskrip te voltooi.”

Maar die vreemdheid van die inperking het veroorsaak dat haar kop in ’n ander rigting beweeg het en sy het die 70 000 woorde wat sy reeds op haar rekenaar gehad het, bloot uitgevee.

“Die hele angstigheid wat oor die aardbol gehang het en die isolasie en die verlange – dis die drie emosies waarby ek ingeskakel het om die boek aan die gang te kry. Gracie is hieruit gebore. Nadat sy haar dors so baie geles het, het sy tog iets positiefs uit die tyd van ‘opsluiting’ gekry.”

Vergifnis was een hiervan, want daar lê iets in Gracie se verlede waarvoor sy haar gewese skoonma steeds aanspreeklik hou.

Kan sy haar werklik vergewe?

“Ek dink vergifnis kan soms kunsmatig wees. Mense sê dikwels hulle het iemand vergewe, maar dan kan hulle nie ophou om sleg te praat van die persoon nie. Jy kan sien daar is steeds dieselfde bitterheid. Ek dink ons het al iemand te na gekom en iemand het ons te na gekom, so daar is nie net goeie en slegte mense nie – ons het almal iets van albei.”

Waaroor gaan haar roman?

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Gracie-Jane Coetzee is ’n skrywer en illustreerder van kinderboeke. Vir ­iemand wat aan obsessief-­kompulsiewe steuring, aandag­gebrek-hiperaktiwiteitsindroom en posttraumatiese stres ly, is covid-19 se inperking nie ’n grap nie. Maar daar is geen simptoom wat ’n glasie wyn of drie nie kan regdokter nie. Daar is egter mense wie se aanspraak op haar haar in ander rigtings dwing.

“Daardie iets wat alle mense se wil om te oorleef positief beïnvloed, maak hulle ’n tribe. Elke mens het ’n tribe nodig. ’n Diep verbintenis met een of meer mense wat jou onvoorwaardelik aanvaar en liefhet.”

Daar is Morris, die oudprofessor, haar eksman, Joe, wat in Tokio woon, Nina en Iris wat op haar werf woon, haar 23-jarige seun en sy vrou en baba. En haar dogter, Ada.

Vyf goed wat Susan verstom
  • Dat die goedheid van mense tydens die inperking so na vore gekom het, soos iemand wat vir my ’n sakkie suurlemoene of hondekos by my hek neergesit het.
  • Dat die geweldige boosheid in die land met die korrupsie ontbloot is van mense wat miljarde van die armes gesteel het.
  • Dat daar so ’n skerp kontras tussen ryk en arm in ons land is.
  • Dat mense so kreatief kon dink in hierdie tyd van ellende.
  • Dat ’n mens so min nodig het om tevrede te wees. Omdat ek nie geld kon verdien nie, het ek niks van my gewone velprodukte, skoene, par­fuum, ’n truitjie hier en daar gekoop nie.

* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK TEEN DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees