book-icon Uitgawe 23 September 2021

HG gesels met 'Jungu Josh' en 'Die gevaarlikste boek op aarde' se skrywers

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Magiese realisme voer kinders na wêrelde ver van hier. Ons vra twee jong skrywers uit oor die jongste boeke in die reekse wat hulle so suksesvol optower.
Jungu Josh 3: Die waters van Wafu
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

DEUR CONSTANT VAN GRAAN. (Tafelberg, R185*)

Die derde boek in die Jungu Josh-reeks is ook gemik op 12- tot 15-jariges, asook volwassenes wat hou van fantasie en magiese realisme.

Constant van Graan, ’n dosent in forensiese rekeningkunde aan die Noordwes-universiteit, sê sy lesers vind aanklank by die dapper Josh en die kanniedood Njeri.

“Ek hoor gereeld dat hulle nog nie so ’n boek in Afrikaans teëgekom het nie.” 

Op jou Insta-profiel staan: “Dink, skryf, doen.” Verduidelik ’n bietjie.

Dis my leuse. En die drie moet in balans wees. Ek dink graag oor groot vrae, soos waarom ons hier is en wat ons met hierdie kort geleentheid op aarde moet maak. 

Waar kom jy aan die Jungu Josh-idee?

Ek wens die antwoord was eenvoudig – soos ’n ideefabriek wat in die kelder van my huis is. Maar helaas is dit maar ’n versmelting van belewenisse en idees. Die openingstoneel is byvoorbeeld geïnspireer deur ’n familiestryery aan etenstafel, en die res van die inhoud het begin vorm aanneem namate ek die ryk stories van Oos-Afrika by ’n Keniaanse vriendin van my gehoor het, sowel as my eie herinneringe aan Etosha, die Krugerwildtuin en Chobe. 

Vertel iets oor die vreemde woorde wat jy opmaak.

Boeke.
Constant van Graan

Dis geskoei op Magani, ’n taal wat ek vir die reeks geskep het. Al die name en woorde is mooi deurdink en uitgewerk volgens hierdie taal. Ek het gaan kers opsteek by Swahili, Kinyarwanda en Sotho.

Wat lees jy graag self?

Ek hou van magiese realisme, van Neil Gaiman tot Ransom Riggs. Ek is ook ’n aanhanger van Afrikaanse kortverhale, veral klassieke werke soos Boerneef se Teen die helling en Jan Rabie se skrywes.

Watter raad het jy vir jou jong lesers wat eendag ’n skrywer wil word?

Versamel idees. Kyk interessante flieks, lees goeie boeke, maar loop veral in die veld en gee jou oor aan jou sintuie. En oefen. Oefen elke dag om te skryf en laat jou eerlike vriende jou werk lees.

Dis daar waar jy die reaksie gaan sien en agterkom of jy interessante stories kan vertel – jy wil tog hê mense moet jou boeke eendag koop. Skaaf aan jou verhale tot die einste vriende nie kan wag om jou volgende storie te lees nie.

Die gevaarlikste boek op aarde
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

DEUR DE WET HUGO. ILLUSTRASIES: JOHANN STRAUSS. (Human & Rousseau, R125*)

Die vierde boek in dié reeks verskyn in 2022 en De Wet Hugo is baie in sy skik met die reaksie.

“Vir my as laerskoolonderwyser wat al amper 12 jaar by ’n Britse Internasionale Skool in Djedda, Saoedi-Arabië, skoolhou, is dit heerlik om te hoor ’n Suid Afrikaanse kind het my boek geniet en hulle beveel dit vir hul maats aan.”

Verduidelik hoe kinders die boek moet lees.

Die leser maak keuses namens die hoofkarakter. Hulle word dus interaktief deel van die storie. Die meeste hoofstukke gee twee of drie moontlikhede. Soos die boodskap voor in die boek lui, is dit egter nie altyd die beste besluit om die veiligste keuse te maak nie.

Wanneer hulle een van die meer as 30 eindes van die boek bereik, kan die leser (net soos met moderne rekenaarspeletjies) weer oor begin. Dis natuurlik nie nodig om weer van voor af te begin lees nie. Deur net een hoofstuk terug te gaan en ’n ander keuse te maak, kan die avontuur voortgesit word.

Op watter ouderdom is dit gemik?

Dit word vir nege- tot 12-jariges bemark, maar ek weet van baie ouer lesers wat dit ook geniet om op hierdie wilde avonture te gaan. Lesers het my al laat weet dat hulle as gesin die boek saam gelees het en groot pret gehad het met die maak van die keuses. 

Dit kan dus as ’n lekker gesinsaktiwiteit of vir spanbou gebruik word. Dit blyk dat die heelwat kort hoofstukke en die deurlopende spanningslyn dit veral gewild onder voormalige trae lesers maak. Dit maak ouers én onderwysers natuurlik baie bly om te sien kinders ontpop skielik in ywerige lesers. 

Waar op aarde kom jy aan hierdie malle idee van die koninkryk van Fantastorië?

Boeke.
De Wet Hugo.

Ek was my lewe lank nog lief vir sprokies en kon die geleentheid om ’n klomp verskillende sprokies in een storie te gebruik, net nie laat verbygaan nie.

Ek moes mooi oor die naam van die sprokieswêreld nadink, want ek wou dit nie soos Fantasia uit The Neverending Story deur Michael Ende laat klink nie. Fantastorië was die natuurlikste keuse vir ’n naam, want dit is tog ’n plek waar fantasiestories plaasvind of uitbroei. 

Wie is jou gunstelingkarakter?

Kabous. Ek moet erken dat ek tydens die skryfproses meer as een keer lus was om die sarkastiese kabouter aan sy puntore op te tel. Wanneer die leser hom aanvanklik ontmoet, is hy glad nie ’n aangename karakter nie, maar soos die storie vorder, (glo ek) groei hy nogal op ’n mens, en aan die einde laat hy jou selfs met ’n warm gevoel in jou bors.

Wat lees jy graag?

Al skryf ek meestal spannende stories en al sal ek altyd vir ’n lekker riller kans sien, lees ek die graagste stories wat oor doodnormale mense met gewone kwessies handel.

Die Britse skrywer Jacqueline Wilson is een van my gunstelinge. Sy slaag daarin om ernstige kwessies soos egskeiding, aanneming, dood en mishandeling kindervriendelik te maak. Ek lees ook graag biografieë van mense wat my interesseer en veral outobiografieë.

* BESKIKBAAR TEEN DIÉ PRYS BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe
Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees