LEER MY LEES
Deur José en Reinette Palmer (sowat R43 per boek en R600 vir ’n boksstel*)
Sy het aanvaar haar dowe seuntjie sou nooit sy kogleêre inplantings gebruik nie en nooit leer praat nie, laat staan nog leer lees. Maar vandag kan Betsie Swart, ’n musiekspesialis van Randburg, ’n suksesverhaal vertel oor haar Boeta. Een van die hulpmiddels wat gehelp het dat hy vandag vlot lees, is die Tippie-leesreeks.
Ook kinders met outisme leer maklik lees met dié reeks, die geesteskind van ’n remediërende terapeut wat in outisme spesialiseer, Reinette Palmer, en haar skoonma, José, albei van Pretoria.
“My en Boeta se grondpad het in 2015 begin toe daar op amper tweejarige ouderdom ‘profound bilateral hearing loss’ by hom gediagnoseer is,” vertel Betsie.
“Dit beteken basies dat hy doof is, maar in hierdie tyd van wetenskaplike wonderwerke kan hy hoor danksy kogleêre inplantings.
“Boeta teken so mooi dat dit vir my soos meer as genoeg gevoel het om homself uit te druk,” sê Betsie, wat in ’n stadium gedink het om hom uit die skool te haal en saam met hom te teken en blomme te rangskik. “Why rock the boat? Hy ken mos nou die alfabet.”
Hy het egter al sy struikelblokke oorkom, en hiervoor gee Betsie al die eer aan die “village” wat help om ’n kind groot te maak (onderwysers, familie en vriende).
“Lees en skryf het vir my soos ’n ander sterrestelsel gevoel. Ek het al baie saam met Boeta probeer lees, en hy is lief vir boeke, maar ek het die gevoel gekry dat hy vinnig die draad verloor. Dit was asof hy ná ’n baie kort tydjie net na die prentjies kyk en die woorde eintlik maar bysaak is,” vertel Betsie.
“In 2020 het ek met groot sukses die Tippie-boekies gebruik om vir kleinsus Emma, toe twee, te leer praat. Elke oggend het ons saam-saam deur die boekies geblaai. Ek het vir haar die woorde uitgespel, terwyl sy stil-stil lê en kyk het, en op ’n dag het die woorde net begin uitborrel.
“Saam met gr. 1 het Boeta se voorgeskrewe leesboeke gekom. Ek was reeds angstig oor die verwagting van lees wat voor Boeta gelê het, en dié boeke het my glad nie geïnspireer met hul dowwe prentjies en onsamehangende stories nie. Toe op ’n dag in die derde kwartaal daag Boeta met ’n Tippie-boek by die huis op. Met so ’n boek kan ons mos leer lees – mooi prentjies, lekker stories, kort en oorwinbare sinne.
“Boeta trek toe weg soos die dapper vegter wat hy is. Eers vat ’n sin hom so 30 sekondes. Later vat ’n paar sinne hom net 10 sekondes. Ná ’n paar weke vlieg hy binne minute deur Tippie se avonture.
“Ek is van voor af dankbaar vir my village, waarvan Tippie beslis deel uitmaak,” sê Betsie vandag.
Die hoofkarakter in die Tippie-leesboeke is ’n olifantjie. Dit beteken alle kinders kan met hom identifiseer omdat hy geslagsneutraal is en nie aan ’n spesifieke ras behoort nie. Die boeke is in Afrikaans, Engels, Zoeloe en Xhosa beskikbaar. Dit is nie gemik op ’n sekere graad, ouderdom of Huistaal of Eerste Addisionele taal nie – die idee is dat dit begin waar die kind is.
In Afrikaans is die volgende beskikbaar: Vlak R-boekpak (10 boeke), Vlak 1-4 (10 boeke in elke vlak), Vlak R-2 Big books (10 boeke in elke vlak), 2 x kurrikulumstelle en magnete. In Engels: Level R Boxset (10 boeke), Level 1-4 (10 boeke in elke vlak), Level R-2 Big books (10 boeke in elke vlak), 2 x kurrikulumstelle en magnete. In Xhosa: Level R Boxset, Level 1-4 (10 boeke in elke vlak). In Zoeloe: Level R boxset.
In 2022 verskyn onder meer ook wiskundestelle sodat daar teen die einde van die jaar sowat 260 individuele titels in die Tippie-reeks sal wees.
Nog inligting is te kry by klaskameraad.co.za
RONNIE DIE RENOSTERTJIE
Deur Jurina Aucamp (R80)
“Ek was op soek na ’n boek oor renosters vir ’n kollega se dogtertjie. Ek kon nie iets kry wat nie net ’n storie is nie, maar ook feite bevat wat ’n kind se verbeelding sal prikkel.”
So verduidelik die oudonderwyseres Jurina Aucamp hoe haar kinderboeke, Ronnie die renostertjie en Bella Bromvoël red die diere, die lig gesien het. Sy het tevore net vir haar kleinkinders stories geskryf, maar niks is tevore gepubliseer nie.
Sy sê die moeilikste vraag om te beantwoord is op watter ouderdom die boekies gerig is.
“Ons kleinkind van 20 maande vra byvoorbeeld aanmekaar ek moet Bella vir haar lees – ek moes dit een oggend 11 keer lees! Ek sê dus kinders van so twee tot 10 jaar sal dit geniet.”
Een van haar doelwitte is dat kinders ’n boek fisies moet hanteer en oor en oor kan lees.
“Hulle belangstelling moet ook geprikkel word, en hulle moet bewus gemaak word van byvoorbeeld iets soos renosters wat bedreig word. Ek probeer ook om ’n lessie by jong lesers tuis te bring. Ouers hou van die idee dat die stories opvoedkundig is. Die volgende drie stories verskyn hopelik voor Kersfees.”
- Bestellings: Stuur e-pos aan Jurina by jurina.aucamp@gmail.com.
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!