book-icon Uitgawe 10 Desember 2020

Ligte leesstof: 5 boeke wat jy dié vakansie kan lees

akkreditasie
Hier is vyf boeke wat vir ure se leesgenot dié vakansie gaan sorg.
Lira, Mirre, Corali
Chanette Paul. Foto: Flame Design
Chanette Paul. Foto: Flame Design

Deur Chanette Paul (Lapa, R315* elk)

“Ná so ’n katastrofiese jaar moet ’n mens net kan ontspan en in ’n storie wegraak. Vergeet pandemies en inperkings, misdaad, korrupsie en al die politiekery hier en elders,” verduidelik Chanette Paul waarom ’n mens met haar trilogie kan gaan vakansie hou.

“Ek dink Lira, Mirre en Corali – die Vywervroue – bied daardie ontvlugting vir die leser, vat haar na ’n plek waar die werklikheid vervaag, en die storiewêreld haar meesleur. Lees is immers ’n vakansie op sigself.”

Al drie boeke was in die eerste 27 weke van 2020 onder die 20 beste verkopers in Afrikaans, met Corali heel boaan die lys.

Chanette kies moeilik haar gunstelingkarakters in die trilogie.

“Ek is vir al die hoofkarakters so lief soos ’n hondjie vir sy stert – elkeen op ’n ander manier. Dit gebeur dikwels ook dat ’n randkarakter ’n gunsteling raak terwyl ek skryf, soos in dié geval Beulah. Ek is mal oor haar.

“En natuurlik ook oor Marilyn, Fynn se ma. En Thomas se ma, Eugenie, ook. Ek het selfs ’n sagte plekkie vir Alet wat eintlik ’n pes van ’n mens is. En ek wens Boeta was my broer.”

In elk van die drie boeke kry een van die vroue wat ’n mens reeds ken ’n kans om die hoofkarakter te word.

Chanette vertel van hul sterk en swak punte

“Lira is ’n eenkantmens. Sy is geneig om meer te gee as wat sy terugverwag. Dis dikwels ’n goeie eienskap, maar sy moet leer om ook vir haarself op te staan en meer vertroue in haar vermoëns te kry – as kunstenaar, as mens en veral as vrou. Sy maak ’n dapper sprong deur beheer oor haar eie lewe te neem, en van daar af word dit ’n helingsproses.

“Mirre is ’n omgeemens. Sy het baie mededoë, en is van nature ’n versorger. Ongelukkig het sy nie dieselfde empatie met haarself nie. Sy laat toe dat mense haar oorheers en misbruik, en dis presies wat haar man doen. Maar toe misbruik in fisieke mishandeling oorgaan, besef sy sy moet haarself red. Dis vir haar moeilik, juis omdat sy haar so goed in ander se ellende kan indink.

“Corali is kreatief en impulsief. Sy benodig ’n groot persoonlike ruimte – fisiek en andersins – en voel gou ingeperk. Ten spyte van haar sterk persoonlikheid is sy bewus van haar tekort­komings. Sy sien haarself as selfgesentreer, maar onderskat die betekenisvolle rol wat sy in ander se lewe speel. Ook sy moet leer om haarself te aanvaar nes sy is.”

Lira

Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Lira was vyf toe haar ma oorlede is en haar pa haar by Oumie afgelaai en verdwyn het. Oumie het Lira van kleins af geleer om van oënskynlik onbruikbare goed iets moois te maak, en dit word eindelik haar nering.

Ná Oumie se afsterwe en ’n verbreekte verhouding, kom Lira op Vywerbaai uit waar sy ’n kunswinkel wil oopmaak.

Mirre

Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Mirre vind op ’n jong ouderdom uit sy is nie haar pa se biologiese kind nie. Sy en haar ma word verwerp. Nadat haar jeugliefde, Boeta, haar verkul, word sy ’n sjef. Sy trou met ’n sielkundige wat haar mishandel.

Ná een van sy uitbarstings vlug sy Vywerbaai toe, al is Boeta daar, oënskynlik gelukkig getroud, met drie seuns.

Corali

Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

In Corali se gesin kraai haar broer koning en word sy eenkant toe gestoot omdat haar mense haar afskryf. Haar talent as kunstenaar is haar redding. Sy gaan studeer kuns oorsee waar sy Thomas, ’n beeldhouer, ontmoet, maar trou ná ’n rusie impulsief met ’n Brit genaamd James. Ná James se raaisel­agtige dood vlug sy ­Vywerbaai toe.

Ware noord, Om weer te droom

Deur Elsa Winckler (Lapa, R135* en R148*)

Ware noord en Om weer te droom – oor die Vos- en Breedt-gesinne – was uit druk en soveel lesers het na nog eksemplare gesoek. Ek was dankbaar toe Lapa instem om dit weer uit te gee,” vertel Elsa Winckler.

“Ek het nie destyds beplan om oor die dood te skryf nie. My opdrag was om ’n storie van hoop te skryf, ’n liefdesverhaal met die fokus op die geestelike groei van die karakters.

“Die gedagte het eers posgevat toe ek begin skryf het. En eers toe ek klaar was met die opvolgstorie, Om weer te droom, het ek besef al die navorsing wat ek gedoen het oor die invloed van ’n sib se dood op ’n gesin, was ook terapie vir myself.

“Ons oudste boetie is op sy sesde verjaardag oorlede, en dit het die dinamika in ons gesin vir altyd verander – iets wat ek regtig eers verstaan het ná die skryf van hierdie stories.”

Elsa vertel in ’n neutedop waaroor haar twee heerlike liefdesverhale gaan

Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

“Lizet Vos besluit om ná haar suster, Marina, se dood alles op haar sus se bucket-lysie te doen. Sy skuif haar eie drome op die agtergrond, maar toe haar broer, Evan, met Anya Breedt trou, raak hul families se lewe verstrengel en word Anya se broer, Stephen, en sy dogtertjie deel van hul familiekuiers.

Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

In Ware noord speel Evan Vos rugby vir die universiteit se eerste span en is daar altyd ’n meisie aan sy arm. Dan word hy beseer en begin hy sy pa by sy bouonderneming help. Hulle moet die Metodistekerk restoureer, en sy pa stuur Evan om die argitek te ontmoet.

Toe sy op haar hemelhoë hakke ingestap kom, is hy dadelik tot haar aangetrokke, maar met sy bagasie is hy nie gereed vir ’n verhouding nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees