Sjef Nic van Wyk het lankal skoolgeld betaal in die kosbedryf voor hy wyd bekend geword het as beoordelaar van die gewilde Kokkedoor-TV-reeks. As kind al het hy geweet hy wou eendag met kos werk en omdat daar nie huishoudkunde vir seuns was nie, het hy sport gekies.
Hierin was hy só goed dat hy ’n jaar lank klubkrieket in Engeland gespeel het. Hierna het hy aan die Institute of Culinary Arts op Stellenbosch studeer en nou – 21 jaar later en met vele restaurantsuksesse agter die blad – staan Nic met sy eerste kosboek in die hand.
Hy verdeel dit in onthoukos, restaurantkos en hartskos. Nic is nie een vir fieterjasies nie – die kos wat hy maak, moet self praat.