book-icon Uitgawe 13 Mei 2021

'n Nagmerrie-partytjie en fassinerende feite: 2 boeke vir tieners

akkreditasie
M.E.R.-pryswenner Sally Partridge se boek vertel die prikkelende verhaal waar ’n “partytjie van die dekade” ’n nagmerrie word toe 'n tienermeisie in ’n meer verdrink. Wie is die skuldige? En die skrywer Lucy Bell takel fassinerende feite wat jou behoorlik gaan laat wakker skrik.
Skerwe
Beskikbaar by loot.co.za
Beskikbaar by loot.co.za

Deur Sally Partridge, vertaal deur ­Zelda Bezuidenhout (Lapa-uitgewers, R150 by loot.co.za)

Demi word 17, en sy nooi haar vyf beste vriende na ’n musiekfees in die Cederberge. Hul “partytjie van die dekade” word egter ’n nagmerrie toe sy in ’n meer verdrink.

Een van haar vriende is die skuldige.

Damian is haar besitlike ou: “Demi was nie my eerste meisie nie, maar sy was die enigste een wat saak gemaak het. Sy het my verstaan. ’n Regte vuurwerkie en met haar kinderlike gegiggel en haar punkstyl het sy dit reggekry om deur my hardegatgeit te breek.

“Die snaaksste van alles is dat ek voorheen nooit eens na meisies soos sy – die borrelende tipe – gekyk het nie. Sy het my verander.

“Ek was nie meer die stil, bedonnerde ou by partytjies nie; het nie meer voorgegee ek was beter as ander omdat ek nie saam met die stroom beweeg nie.”

Demi se beste vriendin, V (“so baie dinge begin met ’n V: venynig, victim, vampier.”): “Ek was vier en ’n stoute klein bliksem. Een middag wou ek nie slaap nie en ons juffrou het my onder die tafel laat sit. Daar was nog ’n dogtertjie wat haar nie wou gedra nie: Demi met haar blonde krulle en ’n pienk My Little Pony-truitjie aan. Ons het langs mekaar gesit met ons gesigte muur toe, vol grappies en giggels. Van toe af was ons onafskeidbaar.”

Siya, wat agterna wegloop sirkus toe: “Ek weet wie ek aan die buitekant is. Ek is my pa se seun, Jaco se beste vriend, die sportiewe ou, die grapgat in die klas wat nooit luister nie, maar nooit ’n toets dop nie. Ek is al daardie dinge, maar ek is ook net ek en dis die deel wat nie so maklik is om te beskryf nie.

“Demi se dood het my bang gemaak. Ek moet gelukkig wees terwyl ek nog lewe, voor dit te laat is.”

Annica, die derde lid van die Demi-drieman­skap: “Hoe het ons so verskillend geword? Ons is dieselfde ouderdom, ons het saam grootgeword, het al dieselfde goed gedoen. Hoekom is ek dan sosiaal so lame?

“Ek hoef nie te ver te soek om die antwoord te kry nie. Demi hardloop na V toe en hulle val in ’n hopie neer, die ene fluisteringe en geheime giggels. Wrewel begin aan my brein knibbel. As V in die omtrek is, bestaan ek nie meer nie.”

Jaco, die een wat Demi se eerste E-pil op haar tong gesit het: “Dit was die beste aand van haar lewe, het sy gesê. En ek het dit vir my laat werk. Ek het altyd vir haar dwelms gevoer – die perfekte verskoning om naby haar en V te wees.

“Hoekom het ek nie net vir V uitgevra nie? Hoekom moes ek haar vriendin se lewe opneuk net om naby háár te kon wees?”

Sally Partridge. Foto: Instagram/@partridge_sally
Sally Partridge. Foto: Instagram/@partridge_sally
  • Die skrywer, Sally Partridge, het al vier maal die M.E.R.-prys vir jeugfiksie gewen.
Jy kan die wêreld verander: maak die wêreld ’n beter plek
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Lucy Bell, vertaal deur Fanie Viljoen (Human & Rousseau, R189 by takealot.com)

Hier is feite wat die hare op ’n mens se kop laat regop staan:

  • 100 000 seediere en omtrent 1 miljoen see­voëls sterf elke jaar omdat hulle in plastiek verstrengel geraak het.
  • Die weggooidoeke wat jy as baba gedra het, sal langer as jy bestaan.
  • Mense koop wêreldwyd meer as ’n miljoen bottels water elke minuut van die dag.
  • Daar word jaarliks omtrent 500 miljard wegneemkoffiekoppies wêreldwyd vervaardig. Elke koppie neem 50 jaar om af te breek.

Die nuus oor hoe dit met ons planeet gaan – baie sleg, want kyk net na al die oorstromings en brande en ys wat smelt by die pole en wat nie alles nie – maak ’n mens bang. Boonop weet jy nie hoe jy nou eintlik ’n ver­skil kan maak nie.

Ons is nie almal Greta Thunberg wat ’n internasionale platform het met duisende mense wat hoor hoe sy in die bres tree vir Moeder Aarde nie.

Dis juis waaroor Lucy Bell skryf in Jy kan die wêreld verander. Sy sê die wêreld gaan nie binne ’n dag verander nie, maar wat jy kan doen, is om elke dag die beste moontlike besluite te neem.

Lucy skryf onder meer oor:

Plastiek

“Dis byna onmoontlik om sonder plastiek klaar te kom. Maar om ’n bietjie minder te gebruik, kan ’n groot verskil maak.

“Begin met enkelgebruikplastiek soos strooitjies wat net een maal gebruik en dan weggegooi word.”

Klere

“Tevore het mense klere of skoene wat beskadig is, laat regmaak. Deesdae gooi mense dit weg en gaan koop ander.”

As jy verveeld is met jou klere, gaan besoek jou naaste liefdadigheidswinkel of ’n winkel wat retro-klere verkoop.

Rommel

“Alles wat jy in die asblik gooi, beland in opvulterreine of vullishope. Ongelukkig besoedel hierdie ashope ons omgewing. Dit besmet die grond en grondwater, bedreig ons dierelewe en produseer kweekhuisgasse soos metaan en koolstofdioksied.”

As dit alles net een te veel klink, skep moed. Dié boek is baie prakties en by elke afdeling is daar wenke hoe jy die wêreld ’n beter plek kan maak.

Dit sal ook met groot vrug gebruik kan word deur onderwysers om hul leerders in die laer- of hoërskool bewus te maak.

Soos die jong aktivis en jongste wenner van die Nobelprys, Malala Yousafzai, op die voorblad sê: “Een kind, een onderwyser, een boek en een pen kan die wêreld verander.”

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees