book-icon Uitgawe 7 Oktober 2021

’n Roman ryk aan die geure en geskiedenis van Egipte

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nicole Jaekel Strauss gesels oor 'Om alleen te gaan', haar Egiptiese roman waarvoor ’n vaart op die Nyl die prikkel vir haar verbeelding was. Plus, lees ’n verkorte uittreksel uit die boek.

Om alleen te gaan
Boeke.
Beskikbaar by Quellerie R280
Deur Nicole Jaekel Straus (Queillerie, R280*)

’n Vaart op die Nyl was die prikkel vir Nicole Jaekel Strauss se verbeelding waaruit haar “Egiptiese roman” gebore is. Sy vertel sy het die meeste plekke besoek waarheen Cato, haar hoofkarakter, reis, “net enkele nie, die mummifikasiemuseum was byvoorbeeld toe”.

Cato is op ’n pelgrimsreis met ’n gesteelde skilpadbeeldjie wat aan haar oorlede geliefde behoort het. Sy bespreek plek op ’n rivierboot met plek vir net 12 passasiers met wie haar lewe ligweg verstrengel raak. Sy vorm ’n hegter band met die jong Da’oud, ’n Egiptenaar met ’n woede en ’n missie van sy eie.

Nooit sou Cato kon raai hy is selfs meer vasbeslote as sy om ’n selfopgelegde taak te voltooi nie. Ek sê vir Nicole ek hou van die jong man – Da’oud – wat sy humeur verloor op die eerste bladsy en wie hy word soos die storie ontwikkel. Maar ek het ook gemengde gevoelens oor hom. Hoe voel sy oor hom?

“Ek hou ook van hom, baie. Ek het empatie met die feit dat hy ’n psigiese toestand het wat vererger word deur ’n traumatiese gebeurtenis en die keuses wat hy maak. Ek hou van sy drif en kragdadigheid, maar ek is bekommerd oor sy versugting na vergelding en wraak.”

Cato wonder wat die Britse paartjie Nicholas en Rory na Egipte gelok het – “dalk ’n kollektiewe koloniale geen”. Bestaan daar so iets?

Nicole Jaekel Strauss. Foto: Brenda Veldtman
Nicole Jaekel Strauss. Foto: Brenda Veldtman

“Ek gebruik die woord ‘geen’ hier nie in die gewone biologiese sin nie, maar wel met ’n abstrakte, kulturele betekenis. In Engels bestaan die term ‘meme’ wat verwys na die oordrag van ’n manier van dink of gedagterigting van generasie tot generasie,” verduidelik Nicole.

“Rory en Nicholas kom klaarblyklik nie op hierdie reis om Egipte te kolonialiseer nie, maar hulle is – moontlik onbewustelik – wel verbind tot en beïnvloed deur die sterk koloniale verlede van Brittanje en die opvoeding wat hulle sou kry in dié land wat steeds ’n groot rol op die wêreldverhoog speel.”

Die heerlikste Egiptiese geregte speel ook ’n rol in die roman – ten minste om ’n mens lus te maak om die resepte te google en die basboesa, kosheri, tagine samak en falafels met ’n doopsous te proe. Nicole het al daardie kos geëet tydens haar Egiptiese reis. “Ek is mal oor kos en veral vreemde kulture se tradisionele geregte en kom altyd huis toe met ’n kookboek of twee.”

Agterin die boek bedank sy haar drie kinders, ook vir “al die GHF’s” wat hulle saam met haar en hul pa aandurf. Sy wil nie sê wat dit is nie. “Dit is ’n term wat ons gesin uitgedink het vir uitdagende bestemmings. My kinders sal baie vies wees as ek dit publiseer!”

5 dinge wat Nicole verstom
  • Hoe onverdraagsaam mense teenoor mekaar kan wees.
  • Die helder kleure in die graftombes in die Vallei van die Konings in Egipte.
  • Die verbysterende inhoud van die Egiptiese Museum in Kaïro.
  • Die klipharde geluid wat by die kleinste voëltjie se bek uitkom.
  • En dat mense weier om die entstof teen covid-19 te neem.

’n Verkorte uittreksel

“Die reisplan sê ons slaap vanaand by die eiland en ons kan die Nubiese dorp besoek. Ek dring aan dat ons daarby hou,” gebied Da’oud. Almal staar hom agterna toe hy by die trappies af na die kajuite storm.

“’n Man is voor ons oë dood en al waaraan hy dink, is sy donnerse uitstappie,” mor Jessica. Cato sit haar glas hard op die tafeltjie neer. So hard, dat sy verlig is dit breek nie.

“Cato . . .” probeer Gihane keer, maar sy volg hom teen die trappies af.

Sy klop aan sy kajuit se deur. Geen antwoord nie “Da’oud,” roep sy, tevergeefs. Sy klop weer. Sy wil net omdraai toe Da’oud in die gang afkom. “Ek wil met jou praat,” sê sy haastig, voor sy dalk kleinkoppie trek.

“Nie nou nie.”

“Asseblief. Ek dring aan.”

Hy knik, sluit oop, stoot die deur oop en knik vir haar om in te gaan. Da’oud beduie na die stoel voor die lessenaar. Hy maak die skuifdeur oop, haal ’n sigaret uit die pakkie in sy jeans se sak.

“Gee jy om?”

Sy skud haar kop. “Da’oud. Ek weet dis nie my saak nie, maar almal is getraumatiseer. Jy dalk ook. Probeer verstaan dat die Nubiese dorpie vir niemand nou ’n prioriteit kan wees nie.”

Hy maak sy mond oop, wil iets sê, sy hou haar hand skoolhoofagtig op. “Ek dink jy skuld die res van ons ’n verskoning. Veral vir Feme en Gihane.” Hy laat die rook in een groot bolling uit.

“Verskoning?”

“Hulle doen net hulle werk.”

“Hulle werk is om vanaand by El Fuza vas te meer.”

“Eers moet hulle tog die krisis uitsorteer!”

“Dis nie my krisis nie. Ek is geregtig op dit waarvoor ek betaal.”

“Die minste wat ons kan doen, is om dit vir hulle makliker te maak, eerder as om alles verder te kompliseer.”

“Wat moet ons doen? Huil oor die kaptein?”

Sy besluit om hom nie te antwoord nie. “Wat as dit is waarvoor ek gekom het?” Hy is aggressief, soos vroeër op die dek. Sy sukkel om haar irritasie weg te steek.

“Ís dit?” wil sy weet.

“Dit is nie jou of die res van hierdie simpel skip se besigheid nie!”

“Dit is, as jy onbillike eise aan ons stel.”

“Onbillik teenoor wie? Ek is ’n passasier op hierdie boot. Die boot het ’n skedule wat gevolg moet word.”

“ ’n Man. Is. Dood.” Sy benadruk elke woord. ’n Oomblik lank weifel hy, ruk sy kop amper geskok agteroor, asof die finaliteit hom uiteindelik tref. Maar dan kom die front weer staalsterk oor sy gelaat.

“Dis nie die eerste keer dat iemand doodgaan nie. Dit sal ook nie die laaste keer wees nie. Die lewe kom nie tot stilstand nie.”

“Maar dit hét vir die kaptein! Hierdie boot en sy skedule kan vir een aand tot stilstand kom en dit sal nie die einde van die wêreld wees nie.”

“Jy weet nie waarvan jy praat nie,” kap hy, klap met sy oop hand op die tafeltjie voor haar.

“Daar is wêrelde waarvan jy niks weet nie! Wêrelde waar mense doodgaan en vergaan en daar nie eers ’n mossie gaan staan nie. Wat nog te sê van ’n skip!” Sy bedwing haar.

“Jy’s reg,” sê Cato.

“Ek weet nie waarvan jy praat nie en verstaan glad nie jou woede nie. Lig my in, asseblief.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe
Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees