book-icon Uitgawe 26 Augustus 2021

'n Spanningsverhaal vol intrige – en 'n eienaardige buurman

akkreditasie
Moet ’n mens meer doen as om jou buurman net hoflik te groet? Lees ook 'n uittreksel uit Zelda Bezuidenhout se nuwe spanningsverhaal.
Die waarde van stil bure
Zelda Bezuidenhout. Foto: Alet Pretorius
Zelda Bezuidenhout. Foto: Alet Pretorius

Deur Zelda Bezuidenhout (Kwêla, R280)

Die waarde van stil bure is ’n ligte spanningsverhaal met sterk verhoudingselemente en ’n goeie dosis mediese intrige, verduidelik Zelda Bezuidenhout haar nuutste roman.

“ ’n Jong vrou, Mag­daleen Verster, se identiese tweelingsuster sterf, en sy sukkel om haar stukkende hart weer heel te maak. Wanneer sy na ’n nuwe huis trek en haar eienaardige buurman ontmoet, word sy by die omstrede en soms donker wêreld van stamselnavorsing ingetrek.

“Sy bied haar goeie vriend se kind aan as proefkonyn – die seuntjie is in ’n motorongeluk verlam. Kort voor lank begin die waarskuwingsligte flikker, maar vir een karakter is dit al te laat. Magdaleen moet vlug vir haar lewe.”

Ons het haar verder uitgevra.

Waarom die stamsel-storielyn? Is dit iets wat jou nog altyd interesseer?

In die tyd toe ek dringend ’n idee vir ’n roman moes kry, het ek ’n mediese dokter en ’n weten­skaplike se gesprek oor stamselnavorsing afgeluister. Ek het dadelik besef daar is genoeg intrige om ’n lekker storie te maak.

En ja, ek glo stamselterapie gaan ’n ál belangriker rol in die mediese bedryf speel.

Jy bedank agterin die boek vir ene Mignon Deacon, wat self ’n tweelingsuster verloor het. Het jy haar jou manuskrip laat lees om te kyk of als oukei is, of hoe hanteer ’n mens dit?

Ek en Mignon was in die negentigs ’n skeppende span by ’n reklameagentskap. Ek het haar ontmoet net ná die dood van haar tweelingsuster. Hoewel daar regtig nie ooreenkomste tussen Magdaleen in die boek en Mignon is nie, was Mignon beslis my inspirasie vir daardie deel van die verhaal.

Sy het haar gevoelens eerlik met my gedeel, maar nie die manuskrip gelees nie.

Het jy gaan navorsing doen in die Seychelle toe jy besluit het om ’n stuk van die boek hier te laat afspeel?

Ons het al jare ’n klein woonstel in die Seychelle wat ek aan vakansiegangers uitverhuur. Ons gaan taamlik gereeld soontoe. Oor die jare het ek die pragtige eilande en die vriendelike eilandmense leer ken.

'Soos familie' deur Ena Jansen is een van jou bronne. Hoekom?

Huiswerkers wat soos familie word in Suid-Afrikaanse gesinne is vir my ’n fassinerende ver­skynsel. Hulle dra dikwels kennis van die gesin se persoonlikste sake, terwyl min werkgewers hulle regtig bemoei met die persoonlike lewe van hul werkers.

In Die waarde van stil bure vorm dit ’n integrale deel van die storielyn.

Vyf dinge wat Zelda verstom
  • Dat mense stories op sosiale media vir soetkoek opeet, maar steeds die wetenskap wantrou.
  • Dat geld selfs slim mense se koppe laat uithaak.
  • Dat mense draf vir plesier.
  • Dat dieselfde mense pizzas eet wat van blomkool gemaak is.
  • Dat die vurigste bakleiers vir Afrikaans gewoonlik mense is wat nie kan spel nie.

’n Uittreksel

Beskikbaar by NB Uitgewers
Beskikbaar by NB Uitgewers

Al rou ’n mens eintlik tot in lengte van dae, moet jy die een of ander tyd begin máák asof jou lewe aangaan. “Fake it till you feel it,” was die woorde van die jong sielkundige wat self op sy geel bank gesit-lê het terwyl sy, die pasiënt, op die stoel moes sit.

Sy bly dit vreemd vind dat haar ma ná haar ouma se dood by dié eienaardige ou beland het, en sedertdien sy grootste aanhanger is.

Dit laat Magdaleen dink aan die konserwatiewe boeretannies wat lojale groupies van flambojante kunstenaars soos Nataniël word. Wat ook al die rede vir haar ma se blinde geloof in doktor Kritzinger met sy neus- en wenkbrou­ringe, hy is reg as dit by die kwessie van aanbeweeg kom. Die samelewing vereis dit.

Jy moet jou aan jou skoenveters optrek. Hy het dit oor en oor benadruk. Die oproepe, die blomme, die selfoonboodskappe, ja, selfs die ­lasagnes hou mettertyd op. Maar jý mag nie ­ophou nie.

Jy moet aangaan.

Magdaleen sit by haar eetkamertafel-cum-­lessenaar. Sy het vir die eerste keer in maande ’n vryskutopdrag aanvaar: illustrasies vir ’n kinderboek wat gaan oor “die feite van die lewe”.

Sy self sou ’n veel dunner boekie vir kinders kon produseer. Bladsy een: Life sucks. Bladsy twee: Then you die. Maar hierdie een gaan 32 bladsye vol vrolike, kleurvolle sketse oor puisies en hare op snaakse plekke wees. ’n Stuitige outannie-­skrywer het dit reggekry om hormone, tiener­angst en die eerste maandstonde soos ’n groot avontuur te laat klink.

En sy wat Magdaleen is, moet hierdie mal reis visueel interpreteer.

Sy sug. Sy het al vantevore bemarkingsmateriaal vir Impetus Uitgewers help skep, maar dit is die eerste kinderboek waaraan sy vir hulle werk. Die wit skerm van haar iPad Pro koggel haar.

Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Ruby grys en geruisloos by die kombuisdeur inkom. Iets skort met die kat. Sy loop mank. Te dankbaar om weg te kom van die intimiderende blanko skerm, stoot Magdaleen haar stoel agteruit en stap na Ruby toe.

“Hei, Miss Tuesday, wat lyk jy so jammer vir jouself?” vra sy, steeds bekommerd oor die feit dat sy deesdae met diere praat.
Die kat gee ’n eienaardige miaau toe sy haar optel. Magdaleen gaan sit op die vloer en ondersoek die sagte lyf. Sy ontdek ’n groot knobbel in Ruby se lies. As sy net liggies daaraan raak, sit Ruby ’n keel op.

“Kyk jou pa nie na jou nie?” brom Magdaleen, staan op met die kat in haar arms en stap beduiweld na die grensmuur. Party mense behoort regtig nie troeteldiere te besit nie. Toe sy naby die vibracrete-muur kom, begin sy roep.

“Darius! Meneer Achenbach?”

Sy staan op haar tone. Al haar buurman se vensters is dig. Maar die ou Isuzu-bakkie staan nog waar dit al weke lank in die oprit staan.

Wat as die man iets oorgekom het? Of dalk is hy een van daardie slegte donners wat gaan vakansie hou sonder om voorsiening vir sy troetel­diere te maak.

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees