book-icon Uitgawe 15 Julie 2021

Nuut op die rak: 'Goed, beter, Betsie' en 2 reisboeke

akkreditasie
Protea Boekhuis stel nie teleur met hierdie drie wenners vars van die drukpers nie.
Goed, beter, Betsie
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Elize Labuschagne-­Hull (R336*)

“Oktober 1968: Vlieg in jou maai, Pa. Leer sal ek gaan leer, come hell or high water.”

Elize is in st. 5 toe sy vir haar pa sê sy wil na ’n ander (beter) hoërskool in Pretoria gaan sodat sy ’n goeie matriek kan kry om eendag universiteit toe te gaan. Maar hy het ander planne gehad: “Jy sal ná skool gaan werk soos al die ander kinders en jou eie potjie gaan krap. Wees dankbaar ek laat jou tot matriek leer.”

Maar die vyf­de van sy ses kinders is vasberade en sy behaal eindelik haar doktorsgraad in kultuurgeskiedenis. Sy het ook mikrovliegtuie leer vlieg, ’n binneontwerper geword met projekte wat wissel van ambassadeurswonings tot hospitaalkantore en saam met haar man ’n groothandelfirma bedryf waar sy die ontwerp, vervaardiging en bemarking van interieurreekse hanteer het.

Vandag is sy ’n internasionaal gere­spekteerde wildlewefotograaf.

Hoekom sou jy die outobiografie van ’n onbekende mens lees?

Elize vertel haar lewensverhaal op ’n manier wat jou intrek soos ’n roman – al die groot en klein dramas van ’n gesin en hul uitgebreide familie. Sy maak haarself nie die middelpunt van alles nie. Jy leer oupas en oumas, ooms en tannies, neefs en niggies ken, en die omgewing word net so kleurryk beskryf, soos dié van Waterval-Onder, Pretoria en Thabazimbi. Eindelik is dit die menslikheid waarmee jy simpatie het en waarin jy jouself herken.

Elize sê

Elize Labuschagne-­Hull. Foto: Verskaf
Elize Labuschagne-­Hull. Foto: Verskaf

Goed, beter, Betsie – hoekom?

Onlangs vertel ek heel opgewonde vir iemand wat ek pas ontmoet het dat my Betsie-boek gepubliseer word. Die persoon antwoord: “O, dit beteken dus jy is baie bekend of baie belangrik.”

Natuurlik is ek nie een van die twee nie, maar vir die eerste keer het ek gewonder hoe iemand buite my familie- en vriendekring hierdie boek gaan beskou. Gaan hulle dink ek is opstêrs en wil afwys?

Toe slaap ek oor die vraag en dink mooi. Belangrike en beroemde mense se lewensverhale word vír hulle geskryf, miskien nie in boekvorm nie, maar daagliks deur die media. Die gewone mens, soos ek, het miskien nie so ’n opwindende lewe nie, maar ons storie is ook ’n storie en dit het die reg om vertel te word.

Betsie kom uit ’n doodgewone, gemiddelde Afrikaner-familie uit die 1960’s, weliswaar uit ’n groot gesin. Sy leer ’n paar belangrike lewenslesse wat ek hoop vir ander “gewone” mense ook van waarde is:

  • Niemand is ooit nét sleg nie.
  • Vergifnis bevry nie net die een wat jy vergewe nie, dit bevry ook jouself. Veral jouself.
  • Wat jy van die lewe maak, lê nie net in jou gene nie, ook in dit wat jy besluit om te wees.
Bure van nature
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Hennie van Deventer (R292*)

“Mens en natuur kan kwalik intiemer saam­leef as in ’n bostoevlug op die ­drumpel van die Krugerwildtuin – waar die spesies Homo sapiens en Animalia se onderskeie domeine nie omhein word nie. Diere wei onbelemmerd tussen woonhuise. ’n Luiperd op jou stoep is selfs nie vergesog nie.

“So ’n plek is nou 20 jaar deel van my lewe. Sy naam is Sabiepark. In dié private natuurreservaat aan die Sabierivier, ’n klipgooi van die Paul Krugerhek, is mense so vry soos diere. Hulle stap houtgerus in die strate met hul inheemse boomname. Saans sit hulle om kampvuurtjies as’t ware in die oop veld.”

So begin die oudkoerantman Hennie van Deventer se Bure van nature. Vloeiend soos ’n gesoute joernalis skryf hy sy veldstories, en beleef jy die Bosveld saam met hom en sy vrou, Tokkie.

Jy leer ken hul bure van nader – nie net die grotes nie, ook die kleintjies en die giftiges soos die sakspinnekop wat groot ellende vir ’n kleinseun veroorsaak.

Hennie sê

Hennie van Deventer. Foto: Verskaf
Hennie van Deventer. Foto: Verskaf

‘n Luiperd dut nie elke dag op jou voorstoep nie, maar min dae gaan verby sonder dat jy iets besonders sien of beleef wat jy nie brand om oor te vertel nie.

’n Prima storieplek is die kampvuur. Terwyl die vlammetjies hoog lek onder ’n sterresee borrel stories behoorlik uit. Vir 23 jaar se stories sal jy ’n hele bos moet opbrand. Toe pen ek hulle liewer neer.

My stories sal primêr aanklank vind by mense wat, soos ek, intens lief is vir die bos, raai ek.

Verwondering oor die natuur is egter almal beskore. Bure van nature is vir daardie “almal” bedoel.

Hou die kruit droog

Deur C. Johan Bakkes (R219*)

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

“Wat maak my heeltyd wil wegneuk? Dat ek wragtig deur die dorpie Skardu in Pakistan se strate stap, dankbaar dat ek lewend ontsnap het van ’n helse avontuur op die Biafo-gletser in die Karakoram-gebergtes en weet dat laat ek nou net by die huis kom, dan verlang ek terug na die swaar en andersheid van Baltistan en die Kasjmir.

“Wat de donner gaan met my aan? Hierdie wegneuk kom nie van gister af nie. Ek is so ‘bebore’ het my ma altyd spottenderwys gesê.”

Hou die kruit droog is die bekende reisskrywer Johan Bakkes se skryfstukke wat hy tydens die inperking op Facebook geplaas het toe hy vir die eerste keer in sy lewe tuis moes bly. ’n Paar brokke uit van sy vorige boeke is ook hier opgeneem.

* Teen dié pryse beskikbaar by takealot.com. Die pryse was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.
Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees