book-icon Uitgawe 14 Oktober 2021

‘Roofdier’: ’n Gatskopdebuut verras die boekewêreld

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Verrassende debuut deur Marie Lotz, ’n nuweling in die boekewêreld, sorg vir uitstekende leesgenot en ’n krimi bevolk met volronde karakters – jy sal dié een nie kan neersit nie.

Roofdier: Deur Marie Lotz (Human & Rousseau, R225*)

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Roofdier is wat ’n mens noem “’n verrassende debuut”, maar hierdie cliché is dubbel en dwars waar. ’n Mens wil vra, maar waar kom Marie Lotz nou skielik vandaan met so ’n uitstekende krimi wat bevolk word deur volronde karakters?

Dis ’n hardebaard-roman vir mense wat hul moorde grafies verkies, en ek vra Marie of dit lesers sal afskrik en daar mense is wat spesifiek hul misdaadstories so bloedig verkies.

“Dit is, ja, en dis doelbewus so,” sê sy. “Iemand het onlangs vir my in ’n onderhoud gesê Suid-Afrikaanse misdaadfiksielesers word nie maklik afgeskrik deur grusame tonele nie – weens die land waarin ons woon.

“Ek dink egter daar is beslis twee soorte misdaadfiksielesers: dié wat hou van ’n ligter toon en storielyn, en dan die geharde misdaadfiksieleser wat my soort skryfstyl verkies. Ek het vir baie lank net Engelse misdaadfiksie gelees, vandaar dalk die invloede.”

Marie, ’n voltydse redigeerder van mediese en regsverslae vir ’n groep sielkundiges, skryf nauurs (“van 18:00 tot 22:00 en soggens van 04:00 tot 07:00”) en werk reeds aan haar tweede boek, wat middel 2022 verskyn.

Roofdier gaan oor ’n koelbloedige moordenaar wat jagters in sy visier het. Die Fiskale se Spesiale Ondersoekeenheid se aandag is egter nie net daarop toegespits om die Woestynroos aan te keer nie, ook om die jong mense op te spoor wat soos mis voor die son verdwyn.

Ek vra Marie wat die impetus vir die roman was.

“Verskeie dinge. Die storie het oor jare in my kop ontwikkel as gevolg van nuusgebeure, ’n film of twee wat my bygebly het, iets wat ek op die sosiale media gesien het, en my eie ervaringswêreld. Daar is byvoorbeeld my pa wat self sy lewe lank in wetstoepassing was en ons wat as kinders maar altyd bewus was van die sake wat hy ondersoek het.

“Die navorsingsproses het ook ’n groot rol gespeel. Soos wat ’n mens navors, is daar rigtingveranderings vanweë nuwe idees wat ontstaan. Uiteindelik is die finale Roofdier baie meer kompleks as wat die oorspronklike storie in my kop was.”

Marie Lotz. Foto: Verskaf
Marie Lotz. Foto: Verskaf

Sy moes heelwat dieptenavorsing oor vuurwapens en vlieg doen.

“Behalwe my eie navorsing het my pa my geadviseer oor spesifiek polisiewapens. Daar is soveel wat ’n rol speel: Is dit byvoorbeeld ’n pistool of is dit ’n rewolwer? Dis baie belangrik, want jou leser wat wapens ken, sal onmiddellik weet as jy verkeerdelik na ’n pistool verwys as ’n rewolwer, en omgekeerd.

“Wat is die beste vir ’n vrou? ’n Rewolwer of ’n pistool (dink aan die Ilse Liebenstein-karakter). Kan iemand werklik met ’n sekere kaliber vuurwapen ’n mens skiet sonder dat hy die hele liggaam wegblaas? Kan forensiese ondersoekers vasstel wanneer ’n wapen laas afgevuur is?

“Jy moet weet van buskruitresidu op die hande ná ’n wapen afgevuur is. Dis alles belangrike inligting, want die misdaadfiksie­leser is intelligent en meestal op die hoogte van ten minste die basiese aspekte van wapens.

“Wat betref die vliegery: Ek het met ’n vlieënier gesels wat my goed touwys gemaak het, maar ek het ook navorsing op die internet gaan doen, ’n leeslys opgestel en gaan kyk na uittreksels van boeke waar soortgelyke tonele suksesvol beskryf is, daarna my eie toneel in my kop gaan struktureer en in woorde omgesit.”

Wat is haar gunstelingtoneel?

“Daar is ’n hele paar,” vertel Marie, “maar as ek een moet uitlig, sal dit beslis die een wees waar Strauss en Ilse by die doodstoneel in die bosveld aankom. Met ander woorde, waar hulle die doodsirkel vir die eerste keer sien.

“Dis ’n baie intense toneel, en grafies, en terwyl ek dit geskryf het, het ek dit voor my geestesoog gesien. Dit was ook vir my die kerntoneel van die boek. Daar is soveel emosionele geladenheid daarin, veral wanneer Ilse en Ehmke mekaar later ontmoet. Dis ook die oomblik dat Strauss tot die insig kom dat hy dieper voel vir Ilse as net die blote seksuele aantrekking wat hy gewoonlik met ander vroue ervaar.”

Ek sê vir haar dis vir my skreeusnaaks dat haar hoofkarakter, Alek Strauss, anders as ander krimi-polisiemanne nie aan drank verslaaf is of was nie, maar aan seks.

“Ek wou nooit ’n perfekte karakter skep wat geen foute begaan nie. Ek wou hê hy moes menslik wees. Die feit dat hy elke keer weer swig, al probeer hy sterk wees, dui op ’n kwesbaarheid, al is hy hierdie totaal manlike karakter met ’n hardekwashouding.

“Alek is kompleks weens die emosionele kwessies wat hy uit sy kinderjare met hom saamdra – sy ma wat ’n dwelmslaaf was; sy pa wat weggestap het van sy gesin. Alek se verslawing is ’n uitvloeisel van hierdie emo­sionele bagasie wat hy met hom saamdra. Die gemis van die nabyheid van die mense vir wie hy lief was, het gemaak dat hy dit in vroue se arms gaan soek het en vleeslike versugting verwar met werklike diepe emosionele konneksie.”

* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK TEEN DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

3 Februarie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees