book-icon Uitgawe 9 Desember 2021

Skrywers Irma Joubert, Rudie van Rensburg en kie verklap hul gunstelingboeke

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Boeke vir die feestyd: Koop ’n boek deur een van dié skrywers as ’n geskenk vir jou geliefdes of vriende, en kies nog een uit hul keuse van hul eie gunstelingboeke in Afrikaans en Engels.

Zelda Bezuidenhout

Harry Kalmer se ’n Duisend stories oor Johannesburg, wat al in 2014 verskyn het, het eers vanjaar op my bedkassie beland. Wat ’n boek!

Dis ’n stadsroman, maar ook ’n “raamverhaal”, wat beteken dat die hoofstukke in die boek eintlik elkeen ’n verhaaltjie op sy eie is.

Dieselfde karakters loer elke dan en wan in en die stories kan in enige volgorde gelees word.

Shuggie Bain deur die Skotse skrywer Douglas Stewart was ’n aangrypende, hartseer en dikwels ook skreeusnaakse roman oor alkoholverslawing.

‘Die waarde van stil bure’ deur Zelda
‘Die waarde van stil bure’ deur Zelda Bezuidenhout.
‘Die waarde van stil bure’

’n Ligte spanningsverhaal met sterk verhoudingselemente en ’n goeie dosis mediese intrige. En ’n identiese tweelingsuster.

Juliana Coetzer

Gerda Taljaard se historiese roman, Vier susters. Dis die verhaal van die sterk, onafhanklike en soms gevaarlike vroue teen die agtergrond van die plaas. Die effek van die oorlog op elkeen van hulle het my betower. 

Tot my skande moet ek erken dat ek eers vanjaar die Napolitaanse reeks van Elena Ferrante gelees het en daarna is ek heeltemal obsessief oor dié enigmatiese skrywer. Alles wat sy skryf, verorber ek. My Brilliant Friend, wat gaan oor die vriendskap tussen twee meisies van Napels, is vir my die hoogtepunt van haar oeuvre.

‘Die kind se naam is Anneke’ deur Juliana Coetzer.
‘Die kind se naam is Anneke’ deur Juliana Coetzer.
‘Die kind se naam is Anneke’

Juliana se dogter, Anneke, se lewe is vir altyd verander deur ’n waterpokkievirus wat haar brein aangetas het.

Ashwin Arendse

Ek lies Chokers en Survivors at least een kee ’n maand. Nathan Trantraal change ie game hie vi ammel.

Is wynag wat jy iets so recent optel en onmiddellik wiet it ganne classic wies. Ek raak soms jaloers oppie mense wat nog ie boek virrie eeste kee gan lies.

Trainspotting is een vanne paa amazing novels wat ek as part vanne project recently gelies et. Deerie chaos skryf Irvine Welsh ’n generation-defining boek wat jou oppe trip sit soesie hard drugs wat groot deel het innie boek se subject matter.

‘Swatland’ deur Ashwin Arendse.
‘Swatland’ deur Ashwin Arendse.
‘Swatland’
Die Swatland hette way om temperature te gan ytgrawe watte coloured familie lat kaalgat gondstap innie hys soes Scandinavians wat inne commune bly.

Gedigte in Kaapse Afrikaans met die Swartlandse bry.

Azille Coetzee

In Bientang gebruik Jolyn Phillips poëtiese verbeelding om die ongeskrewe geskiedenis van die Khoi-bewoners van die Overstrand op te roep. So gee sy vir ons ’n vlugtige blik op die leefwêreld van Bientang, die Khoi-vrou wat as die laaste “strandloper” bekend staan.

Bientang is só mooi, hartseer, diepsinnig en belangrik dat dit my baie lank gaan bybly.

Damon Galgut se In a Strange Roomgaan oor ons soeke na “connection” en oor die vervreemding wat mens soms in verhoudings ervaar – een van die treffendste romans wat ek al ooit gelees het!

‘Die teenoorgestelde is net so waar’ deur Azille C
‘Die teenoorgestelde is net so waar’ deur Azille Coetzee.
‘Die teenoorgestelde is net so waar’

“Ek wou ’n storie skryf wat my leefwêreld as jong Afrikaanse vrou weerspieël,” sê Azille.

Etienne Fourie

Nataniël se Kyk na my: Herinneringe aan ’n kindertyd gee ’n seldsame blik op die mens agter die glansryke persona en sanger. Dis vol insig, wyshede, staaltjies en humor soos net Nataniël kan. Ons land se beste skrywer (volgens my) haal uit en wys.

Dis min dat daar ’n boek soos R.J. Palacio se Pony oor my pad galop. Dis ’n boek vol avontuur en verbeelding en daar is min waaroor mens nie gek is nie. ’n Spook genaamd Mittenwool is die vriend wat ek nooit gehad het nie.

Pony is ’n “instant classic”.

‘Man in die maan’ deur Ettienne Fourie.
‘Man in die maan’ deur Ettienne Fourie.
‘Man in die maan’
Draaiboekskrywer Etienne Fourie se droom was om ’n “regte, egte boek te skryf wat op ’n rak in ’n winkel of in die biblioteek staan”.

P.P. Fourie

Ek het Marié Heese se Die uurwerk kantel herlees omdat ek werk aan iets waar lettertipe en tipografie bewustelik andersoortig gebruik sou kon word. Ek is opnuut onder die indruk van hoe voor sy tyd die teks was, en hoe Heese musiek maak met taal (met ander woorde, dis blerrie mooi!).

Donna Tartt se The Secret History het ek weer gelees om te probeer verstaan hoe sy dié literêre riller aanmekaarsit. Moord, liefde en kultuur word moeiteloos ineengevleg. As jy dit nog nie gelees het nie, doen dit dadelik!

‘ ’n Hart is so groot soos ’n vuis’ deur P.P Fouri
‘ ’n Hart is so groot soos ’n vuis’ deur P.P Fourie.
‘ ’n Hart is so groot soos ’n vuis’
Pieter Fourie bied die verhaal van hoe hy en sy ma deur sy pa afgeknou is aan as ’n roman.

Julian Jansen

Wit Wolf, die Worcester-bomplanter, Stefaans Coetzee, se aangrypende storie van bevryding en ook hoe sy slagoffers hom eindelik kon vergewe, wys hoe diep ’n mensehart in ’n see vol haat en onvergifnis kan duik om eindelik opreg te kan vergewe.

In Freddy Boy; The Untold Story vertel adv. Barry Pienaar, as lid van Fred van der Vyver se regspan, oor die ingewikkelde litigasie om dié jong man suksesvol in die hooggeregshof te verdedig. Hy het tereg gestaan op aanklag van die moord op sy meisie, Inge Lotz.

‘Seuns sonder pa’s’ deur Julian Jansen.
‘Seuns sonder pa’s’ deur Julian Jansen.
‘Seuns sonder pa’s’
Meer as 60% van Suid-Afrika se kinders word sonder ’n pa groot onder meer weens tienerswangerskappe en trekarbeid.

Irma Joubert

Bloedlelie wys hoe Jeanette Ferreira haar kennis van en insig in die geskiedenis en haar kreatiewe taalgebruik saamspan om ’n wonderlike en boeiende storie te vertel. Voeg daarby haar interessante verhaalstruktuur, en jy kan die boek nie neersit nie.

Frances Quinn se The Smallest Man het my totaal geboei. Dis die verhaal van ’n klein mannetjie met ’n groot hart, vertel binne die raamwerk van die 17de-eeuse Britse aristokrasie. ’n Mens is nooit heeltemal seker of jy besig is met ’n sprokie of met ’n historiese roman nie.

‘Na ’n plaas in Afrika’ deur Irma Joubert.
‘Na ’n plaas in Afrika’ deur Irma Joubert.
‘Na ’n plaas in Afrika’
’n Roman oor die ware gebeure toe Rudolph Hess, Hitler se adjunk, op sy eentjie op ’n geheime sending Skotland toe gevlieg het.

Gerhard Greyvensteyn

Loftus Marais se 2019-digbundel, Jan, Piet, Koos en Jakob, is presies wat ek nodig het ná ’n lang dag se werk: Dis snaaks, slim en sexy. Ek hou dit byderhand en lees ’n vers of twee vir onmiddellike opkikkering.

Piranesi van Susanna Clarke is die vreemdste van vreemde romans. Die verteller is êrens waar daar baie kamers, baie standbeelde en baie water is. Wat presies hier aangaan, is die hoofrede waarom mens verder lees. Daar is hope verrassings wat die lees dubbel en dwars die moeite werd maak.

‘Die Seepunt-insident’ deur Gerhard Geryvensteyn.
‘Die Seepunt-insident’ deur Gerhard Geryvensteyn.
‘Die Seepunt-insident’
Ontmoet die speurtweeling Vos Vos en Deventer, meneer Stravinksy, missus Cohen en die rooirokvrou wie se liggaam vreemd gebuig op die teer lê.

Ingrid Jones

Vriende wat moes teruggaan Nederland toe het ’n pakkie vol met Marita van der Vyver-boeke kom aflaai omdat hulle tasse te swaar sou wees. Die blou van onthou en Stiltetyd in daai pakkie het my inperking-leestyd baie ligter gemaak.

Die boek wat my die meeste besig gehou het, was The Lie of 1652: A Decolonised History of Land deur Patric Tariq Mellet. Hy put uit navorsing en eie ervaring. Bloedlyne, bloedstories, meer waarhede, meer vrae, meer verstaan wat komvandaan beteken. Dit hoort in die kurrikulum, dis vir seker.

‘The Lockdown Recipe Storytelling Book’ deur Ingri
‘The Lockdown Recipe Storytelling Book’ deur Ingrid Jones.
‘The Lockdown Recipe Storytelling Book’
Mense het familieresepte gedeel op Facebook en ook die stories daaragter vertel.

Chris Karsten

André P. Brink se Afrikaanse weergawe van Don Quijote, ingekort om langdradigheid uit te skakel, maar nie afgeskeep nie. Die bekoorlike argaïese kwaliteit van die taal is behou. Met die avonture van Quijote en sy getroue Sancho Panza word Cervantes beskou as die vader van die moderne roman.

Gabriel Garcia Marquez se Memories of My Melancholy Whores handel oor ’n ou man wat sy laaste amoreuse passie wil uitleef nadat hy tot die gevolgtrekking gekom het dat betaalde seks ’n goeie troosprys is as jy nie ware liefde vind nie.

‘Gerugte van ’n ontvoering’ deur Chris Karsten.
‘Gerugte van ’n ontvoering’ deur Chris Karsten.
‘Gerugte van ’n ontvoering’
’n Bejaarde vrou hang halflyf by ’n venster op die 52ste verdieping van die Ponte-toring uit. Dan val sy. Of is sy gestamp?

Marie Lotz

Die verdwyning van Billy Katz. Wat Chris Karsten se skryfwerk so besonders maak, is sy keurige taalgebruik en die kinkels in elke scenario. Ook hier stel hy nie teleur nie.

Vier voete word in ’n plastieksak gevind en Ella Neser moet die raaisel oplos. Dat die storie oor twee tydvakke strek, maak dit nóg meer fassinerend.

Gérard Labuschagne se niefiksie boek The Profiler Diaries is ’n uitstekende weergawe van ’n kenner se ervarings van reeksmoordenaar- en ander bisarre sake. Dis ’n móét vir elke misdaadfiksieleser en skrywer.

‘Roofdier’ deur Marie Lotz.
‘Roofdier’ deur Marie Lotz.
‘Roofdier’
’n Hardebaardroman en uitstekende debuut vir mense wat hul moord­rillerboeke grafies verkies.

Chanette Paul

In Toekomsmens gee Isa Konrad ’n ysingwekkende blik op die moontlike toekoms wat in verband gebring word met die verlede. Verbysterende navorsing skuil agter die storie sonder om te oorweldig.

Dis skitterend geskryf en veel meer as ’n toekomsroman. Spanningsromans wat net op die kinkel in die kabel afstuur, val dikwels plat.

 His & Hersvan Alice Feeney is ’n uitsondering. Die kinkel lok deurgaans, maar die leser word nooit verneuk nie, net mislei. Feeney laat boonop nie goeie skryfstyl agterweë nie.

‘Marilyn’ deur Chanette Paul.
‘Marilyn’ deur Chanette Paul.
‘Marilyn’

Ná vele onbesonne dade ontdek Marilyn vrede en vriendskap op Vywerbaai. Maar saam met die pandemie haal ’n sonde haar in.

Jaco Strydom

Bidsprinkaan van André P. Brink is een van daai boeke wat ’n mens oor alles laat wonder. Die verhaal van Kupido Kakkerlak, ’n Khoikhoi-bekeerling se interaksie met die nuwe mense van Afrika, krap ’n belangrike deel van ons landsgeskiedenis oop.

Ek het Shantaram onlangs vir ’n tweede keer deurgewerk. Die skrywer, Gregory David Roberts, ’n voortvlugtige uit ’n Australiese tronk, vestig hom in Indië en raak betrokke by die ondergrondse wêreld van Mumbai. Dis fiksie verweef met die waarheid van sy avonture en geestelike ontdekkings.

‘Leef lig’ deur Jaco Strydom.
‘Leef lig’ deur Jaco Strydom.
‘Leef lig’

Vyf gewoontes van die vroeë kerk wat vandag nog werk: afsondering vir gebed, reis lig, leef in eenheid, wees goed vir vyande en gee om vir die wêreld.

Morné Malan

In ’n leesjaar vol Afrikaanse romans wat my óf verward óf bloot dom laat voel het, was Gerda Taljaard se Vier susters ’n aangename uitsondering. Hier kon ek weer só lekker lees, ek het vergeet ek lees. Dit het my tone laat omkrul. 

Ek móés eenvoudig Erika Bornman se exposé van die KwaSizabantu-sekte, Mission of Malice, lees. Waar Wildekus oor ’n fiktiewe sekte handel, gee dié boek ’n ysingwekkende kykie agter die skerms van die ware Jakob. En ek het nie verwag dit sou my só ontroer nie.

‘Wildekus’ deur Morné.
‘Wildekus’ deur Morné Malan.
‘Wildekus’

Kultus en karavane aan die kus – dit raak in dié roman wilder as die Wildekus.

Anton Roodt

Die Getuienis van Francois Smith beskryf ’n charismatiese pelgrimstog wat jou vasgenael hou. Ofskoon daar op die oog af niks vreemd gebeur nie, skuil onsigbare onheil oral langs die pad. Maar wat?

Tussen die lyne lê die subteks soos dryfsand wat vrydenkers en doleerders nog lank gaan besig hou.

In Kazuo Ishiguro se meesleurende Klara and the Sun word ’n oplettende robotmeisie die gesellin van ’n siek meisie. Wanneer Klara se sintetiese oë die mensdom gadeslaan, dwing dit lesers om opnuut oor die aard van hul menslikheid te besin.

‘Weerlose meganika’ deur Anton Roodt.
‘Weerlose meganika’ deur Anton Roodt.
‘Weerlose meganika’

Grootskerm-toekomsfiksie” – plesierig, gek, baie slim en onvoorspelbaar.

Matty Strydom

’n Boek oor ’n begrafnisondernemer se doen en late? In Ek wens, ek wens laat Zirk van den Berg die balansstaat van lewe en dood, verlies en wins klop. Deernisvol, gemaklik humoristies en lewenslesse wat nie gedwonge oorkom nie – dis ’n driekuns!

W. Somerset Maugham is ’n man van sy tyd. Kyk verby wat vandag polities inkorrek is en reis onbevange saam na vervloë landskappe. Dié meester van die kortverhaal beskryf karakters en atmosfeer soos niemand anders nie. My 60ste verjaardaggeskenk was Maugham se Sixty-Five Short Stories.

‘Hier waar ek nou is’ deur Matty Strydom.
‘Hier waar ek nou is’ deur Matty Strydom.
‘Hier waar ek nou is’

“Ek beskryf haar geite en grille in my boek. Begaafd, berese, belese op 19.” Matty se dogter Jessica is op 19 dood ná selfdood.

Gerda Taljaard

Die rou eerlikheid van Erika Murray-Theron se outobiografiese roman Kom ons loop weg, wat oor haar man se stryd met parkinsonsiekte gaan, het my aangegryp soos geen ander boek oor dié tema nie.

Hoe onthou jy die sterk, intelligente en hartstogtelike mens wat nou heeltemal afgetakel is?

Douglas Stuart se Shuggie Bain het my oorrompel met die wonderlike galgehumor en beskrywings van bittersoet herinneringe aan ’n alkoholis-ma. Sy is selfvernietigend, tog is sy die een wat hom leer om sy drome uit te leef.

‘Vier susters’ deur Gerda Taljaard.
‘Vier susters’ deur Gerda Taljaard.
‘Vier susters’

Die plaas Broedersdraai is die gemene deler in die roman wat rondom 1945 afspeel – maar moenie ’n tradisionele plaasroman verwag nie.

Leonie van Rensburg

Kanaän deur Sophia Kapp, ’n boek met volronde karakters, gaan ek nog meermale nadertrek. Die karakter Dominee som dit mooi op: “Soms is dit nodig dat ons mekaar vergewe, al is dit onverdiend. Ons het per slot van rekening almal tekortkominge.”

En ek haal aan uit The Dictionary of Lost Words deur Pip Williams: “Some words are more than letters on a page, don’t you think? They have shape and texture. They are like bullets, . . . and when you give one breath you can feel its sharp edge against your lip.”

‘Lyfskap’ deur Leonie Van Rensburg.
‘Lyfskap’ deur Leonie van Rensburg.
‘Lyfskap’

Altesaam 25 verhale ter heerlike titillering (wat nie almal deur mense onder 18 gelees moet word nie).

Irma Venter

Man op ’n fiets êrens heen van Frederik de Jager het my in hierdie tweede jaar van covid-19 weer aan die lees gekry. Dis brokkies lewe opgeskryf deur iemand wat al lank die lewe bepeins. Lees gerus een van die kortverhale “Die skinkbord wat Pa gemaak het”.

Ek het Autopsy van Ryan Blumenthal vir navorsing gelees, maar gevind dat dit glad nie werk was nie. Sy staaltjies oor sy loopbaan as forensiese patoloog is hoogs vermaaklik, en tog ook deernisvol. Mens kan sommer sien dis iemand wat sy werk as ’n roeping ag.

‘Minder as niks’ deur Irma Venter.
‘Minder as niks’ deur Irma Venter.
‘Minder as niks’

Ontmoet Ami Prinsloo, tiener- Olimpiese swemmer en nou joernalis. Ook eerste hoofkarakter buite Irma se S-reeks. Onmisbaar!

Constant van Graan

Karl Kielblock se klassieke avontuurverhaal Die lafaard het my teruggevoer na ’n vorige lewe waar ek ’n seerower was. Daar is ook ’n toneel met ’n vlot wat herinner aan Tom Hanks in Cast Away.

Maar dis die stille teenwoordigheid van Madagaskar in die agtergrond wat die leser betower.

In die alternatiewe wêreld wat Bridget Collins skep in The Binding is boeke gevaarlik. Emmett Farmer kom dit agter wanneer hy by ’n boekbinder begin werk en op ’n spesiale boek afkom – een met ’n storielyn te na aan sy eie.

‘Jungu Josh 3’ deur Constant.
‘Jungu Josh 3’ deur Constant van Graan.
‘Jungu Josh 3’

Die derde boek in die reeks is gemik op 12- tot 15-jariges wat hou van fantasie en magiese realisme.

Rudie van Rensburg

Ná 12 jaar het ek weer J.C. Kannemeyer se biografie oor Etienne Leroux, Leroux: ’n Lewe, gelees. Die fassinerende verhaal van die ontwikkeling van sy skrywerskap het weer eens geboei.

Barack Obama se outobiografie, A Promised Land, het my van die eerste bladsy af vasgenael gehou. Veral sy innerlike worsteling met plaaslike struikelblokke en wêreldkwessies.

Sy openhartige skrywes oor sy selftwyfel, teleurstellings en menslike swakhede is wat sy nederigheid en ware staatmanskap vir my onderstreep het.

‘Hans bars die bioborrel’ deur Rudie van Rensburg.
‘Hans bars die bioborrel’ deur Rudie van Rensburg.
‘Hans bars die bioborrel’

Die geliefde Hans is 93. “Ek vermoed hy gaan in die toekoms stadiger ouer word,” sê Rudie.

Fanie Viljoen

’n Ballade vir Nkunzi van Ben Viljoen het my vanjaar soos ’n vuishou getref. Die volwasse roman gryp jou van die openingstoneel af aan en sleur jou mee deur armoede, hoop en wanhoop. Ek het heeltyd gedink: Los net klein Bennie se duiwe uit, asseblief! Hou jou hart vas, hier is ’n topleeservaring.

Die jeugverhaal Orbiting Jupiter van Gary D. Schmidt was ook ’n gunsteling. Dis ’n plaasstorie oor broederskap, verlies en tweede kanse. By tye is die verhaal poëties geskryf. Die einde sal jou dalk in trane hê.

‘Donker web’ deur Fanie Viljoen.
‘Donker web’ deur Fanie Viljoen.
‘Donker web’

Tieners het gevra dat Fanie ’n vervolg op Onderwêreld skryf en hy het geluister. Deepfake-tegnologie, kuberkrakers, skelmstreke . . .

  

Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees