In die laat 1970’s en die 1980’s moes derduisende Suid-Afrikaanse seuns, met die soet reuk van hul matriekafskeidmaats se parfuum nog in hul geheue, vir diensplig aanmeld.
Ingevolge die destydse wet is 18-jarige seuns toe in bruin uniforms gegiet en tot ’n oorlogmasjien gesmee. Baie van hulle was dienspligtiges in die Grensoorlog in die destydse Suidwes-Afrika en in Angola.
Soos talle van daardie jong mans was die Huisgenoot-herskrywer Deon Lamprecht ’n lid van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep, oftewel 61 Meg, ’n eenheid aan die snykant.