book-icon Uitgawe 20 Januarie 2021

Wilna Adriaanse gesels oor haar nuwe roman ‘Vlug’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die skrywer praat ook oor haar eie ervarings in Botswana en die rol wat dit in haar nuwe roman gespeel het. Plus, vyf dinge wat haar verstom.

'Vlug' deur Wilna Adriaanse (R199*)

Beskikbaar by Tafelberg
Beskikbaar by Tafelberg

“Hoe vlug jy as jy nie weet waar die vyand is nie?” Die titel van Wilna Adriaanse se jongste roman sou ook kon vra: “Hoe vlug jy as jy nie weet wié die vyand is nie?”

Vyf jaar tevore is Milla deur ’n groot tragedie getref; sy klim in haar motor en vaar Afrika blindelings in. In die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) vind sy ’n holte vir haar voet by ’n rehabilitasieoord vir sjimpansees. 

Maar eindelik moet sy ook hiervandaan vlug toe regeringsoldate en rebellegroepe slaags raak. 

Saam met haar is drie sjimpanseewesies en Graham, ’n dokter van Médecins Sans Frontières – hy was veronderstel om saam met sy kollegas blitsig die onstuimige land te verlaat, maar het besluit om Milla te help, ’n besluit wat hulle albei later bevraagteken.

Ons het ’n paar vrae aan Wilna gestel:

Haar bedanking aan haar man

Wat bedoel jy in jou opdrag voor in die boek waar jy jou man bedank vir Afrika?

“Deon is die een wat met my as jong bruid na die destydse Gazankulu toe getrek het en bewus gemaak het van ’n groter Afrika. Saam met wie ek in Nigerië was, en nou weer in Botswana. Ek dink nie ek sou op my eie hierdie paaie gestap het nie. 

“Ek is beslis ’n veel ryker mens as gevolg daarvan. Behalwe die feit dat ek moes leer om buite my gemaksone te leef, en te oorleef, leer ek steeds so baie van verskillende kulture, asook die daaglikse uit­dagings in ’n plek soos Botswana waar jy nooit ver van die bos af is nie. 

“Ek het leer kyk vir spore om die huis, want dit kan beteken daar is weer ’n slang. Of die likkewaan is weer onder die huis. Ek is ook soveel meer bewus hoe belangrik taal is, en om behoorlik te kan kommunikeer.”

Botswana en die Kongo

Het die feit dat julle in Botswana woon te make met die feit dat 'Vlug' in die Kongo afspeel, ook ’n deel van Afrika wat minder bekend is aan die meeste van jou lesers?

“Vandat ons in Botswana woon, ontmoet ek net meer dikwels mense wat in die res van Afrika woon en werk. En ek hoor hulle stories. Die toestande in ander dele van Afrika raak dus net ’n groter werklikheid.” 

Hoekom so lank gevat om 'Vlug' te skryf?

Jy verwys na die “lang tydsverloop” met die skryf van 'Vlug'. Waarom?

“Ek en Deon het ons vier ouers en my oudste broer in die loop van ses jaar verloor. My broer was die laaste, in 2017. Die dag ná sy dood moes ek nog ’n boekbekendstelling op George gaan doen. Ek het gevoel of ek van balans af was. 

“Ek vind dit verg tyd en geduld met jouself om sulke verliese in die oë te kyk, en vrede te probeer maak met die feit dat die hartseer en verlange altyd deel van die pad vorentoe is. 

“Ek weet covid kry deesdae vir alles die skuld, maar ek gee dit beslis ook die skuld dat ek in 2020 glad nie kreatief kon dink nie.” 

Die sjimpansees

Vanwaar jou sjimpansee-tema? 

“Ek is altyd in verwondering oor die band wat diere en mense soms kan sluit. En die sorg en moeite waarmee mense soms diere in nood help en versorg.

In Botswana sien ’n mens dit dikwels omdat hier sulke groot bewaringsgebiede is. Dit gaan nie soseer oor die sjimpansees nie, maar oor diere in die algemeen. Alle diere sou egter nie agter in die Land Cruiser waarmee Milla-hulle gevlug het, kon inpas nie!”

Wilna Adriaanse. Foto: Brenda Veldtman
Wilna Adriaanse. Foto: Brenda Veldtman

Hoeveel van die sjimpansee- sowel as die rebelle-probleme is waar?

“Ek het baie gelees en met mense gesels oor die toestande in die DRK, en hoewel ek nie na spesifieke gebeure verwys nie, is die beeld wat geskets word, ongelukkig waar. Dis ’n land wat geweldig verskeur is, en gebuk gaan onder geweld, rebellegevegte, korrupsie in die regering, ensovoorts. Die lys is lank. 

“Ongelukkig is sjimpansees ook ’n bedreigde spesie en daal hul getalle jaarliks. Veral weens die feit dat hul natuurlike habitat vernietig word om plek te maak vir landbou­gewasse. Daarby veroorsaak die sogenaamde ‘bushmeat’-bedryf ook dat hulle vir hul vleis doodgemaak word.” 

'Vlug' se karakters

Wie is jou gunstelingkarakter in 'Vlug'?

“Daar is ’n paar, maar ek het ’n baie sagte plekkie vir Albért, die bevoorregte stoutseun met die groot hart.”

Dis bevrydend dat die heldin die een is wat die held eerste benader vir seks. Sou jy dit vyf jaar gelede so geskryf het?

“As ek reg onthou was die hoofkarakter in my Die boek van Ester ook die verleier. Dis nie iets waaroor ek doelbewus dink nie. Dit moet net vir my reg voel vir die karakter en die situasie.” 

Gaan ons Milla en Graham weer sien?

“Soos met alle ander karakters wat al my pad gekruis het, is ek versigtig om ja of nee te sê. Ek verkies om daardie deur oop te hou. Die toets is egter dat hulle met ’n behoorlike en interessante storie moet terugkom. 

“ ’n Karakter wat wel weer ’n verskyning gaan maak, is Sabine Maartens, die vlieënier. Ek is tans besig om haar storie te skryf.” 

5 dinge wat Wilna verstom

  • Seisoene. Dat die natuur nooit vergeet hoe om dit te doen nie.
  • Dat die mens bloedweinig uit die geskiedenis geleer het en steeds oorlog maak.
  • Dat skrywers steeds nuwe stories kan skryf. Al word temas herhaal, bly elkeen eintlik uniek.
  • Dat die heelal besluit het ek is dapper genoeg om drie vreeslose seuns, Beer, Jaco en Johann, groot te maak.
  • Dat daar nie ’n held was om die wêreld van covid te red nie. Skrywers en fliekmakers het ons deur die jare laat glo daar sal een wees.

*Teen dié prys beskikbaar by takealot.com. Prys is onderhewig aan verandering.

Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!
Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees