“Charlene was my eerste meisie, die jongste van skipper Pieter en ant Bettie se nege kinders; die mollige een met die cleavage en glinsterende oë uit Alabamastraat in South End. Ons was 31 jaar getroud toe sy vir die groot operasie by die groot hospitaal moes gaan.”
Die joernalis Julian Jansen vertel hoe sy die operasie nie oorleef het nie; hoe, toe hy die deel van die rekening gaan betaal wat die mediese fonds nie gedek het nie, hy en die klerk gehuil het toe sy sê die chirurg het hom dit kwytgeskeld; hoe dit nou vier jaar later nie makliker raak nie, “net sagter”.
In Geseënd is dié wat treur skryf bekendes en onbekendes oor hul verlies en rou. “Ons Christene se grootste troos bly egter dat daar lewe ná die dood is: daar is ’n weersiens. Met God aan ons kant is ons nie alleen in ons verlies nie,” is die troos agterop die boek.