Hy is bekend vir die treffers “Kaptein” en “Meisiesfontein”. Nou is die koning van sokkie terug – en dié keer doen hy dit in die 1980’s se styl. Kurt is duidelik ’n aanhanger van musiek uit die 1980’s, want die ikoniese klanke van dié tydperk herleef nou weer in sy jongste enkelsnit, “Die 80’s”.
Bekende treffers uit dié tyd, soos Michael Jackson se “Beat It”, “Queen of Hearts” van Bad Boys Blue, en Don Henley se “The Boys of Summer”, word selfs in die lirieke aangehaal terwyl hy sing: Speel weer die 80’s.
Kurt se aanhangers kan nie genoeg kry van die snit nie. “Wens ek het die 80’s beleef. Hierdie song maak dat ons daai feeling kry van hoe dit was. En dit klink lekker,” laat een in YouTube se kommentaarafdeling hoor. “Die beste dekade ooit!” sê nog een. “Hallo uit Amerika en lank leef die 80’s!”