In hierdie program met net twee episodes praat die Amerikaanse voetbalspeler Manti Te’o (31), wat in Hawaii gebore is, oor sy opgang in die sportwêreld. Dié uitblinker kom uit ’n eenvoudige agtergrond met ouers wat hul bes gedoen het om hul kind ’n goeie lewe te gee.
Sy lewe het bestaan uit geloof, familie en voetbal. Op universiteit was hy ’n ster. Almal wou hom in hul span hê. Maar toe ontspoor sy lewe nadat hy ’n vriendskapsversoek op Facebook gekry het van ’n vrou wat hy glad nie ken nie.
Die twee raak toe oor die foon verlief, en dit lei later daartoe dat die goue seun van Amerikaanse voetbal die swartskaap van dié sport raak. Die identiteit van die vrou op wie hy verlief raak, maak sy lewe ’n nagmerrie.