Huisgenoot se nuwe fliekwenners vanaand op Pasella

akkreditasie
Die wenners van Huisgenoot se tweede liefdesverhaalkompetisie, Mardaleen en Hugo Derks van Gobabis, Namibië. Foto: Verskaf.
Die wenners van Huisgenoot se tweede liefdesverhaalkompetisie, Mardaleen en Hugo Derks van Gobabis, Namibië. Foto: Verskaf.
Die wenners van Huisgenoot en kykNET se tweede liefdesverhaalkompetisie kuier vanaand op Pasella.

Op die vooraand van Valentynsdag het die SABC2-leefstylprogram drie romantiese wegbreekplekke saam met drie paartjes besoek.

Die Pasella-aanbieder Amalia Uys en haar man, Shaun Golding, het luilekker in Mosambiek uitgespan.

Verlede jaar se Comrades-wenner, Ann Ashworth, en haar man, David, het in die Drakensberge gekuier

En omdat Hugo en Mardaleen Derks se ware liefdesverhaal in ’n fliek omskep gaan word, het die Pasella-aanbieder Sasha-Lee Davids by hulle in Namibië gaan inloer.

Die onderhoud is op die gasteplaas Otjimbondona Kalahari, suidoos van Windhoek, verfilm.

Mardaleen en Hugo het by die gasteplaaseienaars Wilfried en Anita Slaney gaan kuier – waar hulle selfs die Namibiese landskap in 'n ligte vliegtuig uit die lug bewonder het.

Sasha-Lee was gretig om meer oor die Derks-egpaar se storie te hoor.

Toe Mardaleen Coetzer in die 1990’s die eerste keer haar toekomstige man, Hugo Derks, raaksien, was albei nog studente in Potchefstroom. 

Vir hom was die kampuslewe sinoniem met kuier en rugby. Sy was weer ’n joolkoninginfinalis en boonop met die “ordentlike ouens” bevriend. Bestem vir mekaar – dié twee wat so verskil?

Maar toe besluit die noodlot dat hulle ná universiteit in dieselfde kommune in Londen beland, en dis hier waar hulle, ondanks verskeie kinkels, halsoorkop op mekaar verlief geraak het.

Toe hul tyd oorsee verby was, het die stadsliggies van Kaapstad vir Mardaleen gewink en Hugo het die plaaslewe in Namibië verkies. 

Lank daarna het hul paaie weer gekruis, en ’n wipplankverhouding het oor die kilometers tussen Namibië en die Kaap ontwikkel. 

Vir die Derks-egpaar van Gobabis in Namibië was die paadjie tot by die kansel omtrent vol kinkels, maar vandag is hulle al byna 15 jaar getroud.

Hugo en Mardaleen op hul trou­dag in 2004. Foto: Verskaf.

Hul liefdesverhaal het hulle van Potchefstroom tot Londen, Kaapstad en Namibië geneem en word binnekort verfilm.

“Ons sien baie uit na dié jaar,” sê Mardaleen. “Dis soos ’n verrassingspakkie. Ons kan skaars wag om die akteurs en die mense te ontmoet wat agter die skerms werk om lewe in ons verhaal te blaas.”

Ná die wegholsukses van ons eeufeesfliek, Vir die Voëls, gegrond op die liefdesverhaal van Irma en Sampie de Klerk van Newcastle, KwaZulu-Natal, het Huisgenoot en kykNET besluit om weer saam ’n fliek te maak. 

Danie Bester van Film Factory, ook die vervaardiger van Vir die Voëls, is as die vervaardiger van die nuwe fliek aangewys.

Al is dit op ware gebeure gegrond, word die draaiboek, wat deur Tarryn-Tanille Prinsloo geskryf en deur Hanneke Schutte geredigeer word, plek-plek vir die silwerdoek aangepas. Boonop sal 'n rits kleurryke karakters in die film verskyn.

Irma, wat reeds die pad gestap het, weet watter opwinding vanjaar vir Mardaleen en Hugo voorlê. 

Irma en Sampie de Klerk van ons eeufeesfliek, Vir die Voëls. Foto: Argief

Sy het haar Facebook-vriende aangemoedig om op 13 Februarie vir Pasella in te skakel om ons nuwe fliekwenners beter te leer ken.

Irma de Klerk se Facebook-inskrywing oor ons nuwe
Irma de Klerk se Facebook-inskrywing oor ons nuwe fliekwenners.

Haar en Sampie se liefdesverhaal is vir ewig en altyd vasgevang.

En binnekort word Mardaleen en Hugo se storie ook deel van die geskiedenis.

  • Pasella word Woensdae om 19:30 op SABC2 uitgesaai.
Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees