Winnie-the-Pooh, is dit jy? Geliefde teddie soek bloed in nuwe gruwelprent

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ons ken hom as die goedhartige teddiebeer met die oulike sêgoed wat nie ’n mier skade sal aandoen nie.

Maar in die nuwe gruwelfliek Winnie the Pooh: Blood and Honey is Winnie the Pooh heeltemal die teenoorgestelde van dié geliefde en beroemde teddiebeer wat die wêreld oor gewild is. 

Die fliek beeld Pooh (gespeel deur Craig David Dowsett) as ’n grillerige en skrikwekkende monster uit wat lyk soos ’n mens met ’n dieremasker aan. 

In die lokprent, wat Woensdag bekendgestel is, wys dit hoe Pooh en Piglet (gespeel deur Chris Cordell) “wild” raak nadat hulle jare gelede deur hul gunsteling-mens, Christopher Robin, verwerp is toe dié ná skool gaan studeer het.

Winnie the Pooh is ’n wrede monster in die nuwe fl
Winnie the Pooh is ’n wrede monster in die nuwe fliek “Winnie the Pooh: Blood and Honey”. Foto: Skermgreep/YouTube

Omdat Christopher Robin weggaan en hulle sonder kos los, maak dit Pooh en Piglet se lewe moeilik, verklap die fliek se regisseur, Rhys Waterfield, aan Variety

“Pooh en Piglet het wild geraak omdat hulle vir hulself moes veg. So hulle is terug na hul wortels as diere,” sê Rhys oor die fliek. “Hulle is nie meer mak nie, hulle is soos ’n wrede beer en vark wat op soek is na ’n prooi.”

Eeyore die donkie se graf is ook in die fliek te sien, voeg hy by, wat voorstel dat Pooh en Piglet hom geëet het. 

In die lokprent ontvoer en val die twee ’n groep jong vroue in ’n jacuzzi aan in die Hundred Acre Wood, wat ook die naam is van die fiktiewe woud waarin Pooh en kie in die storieboeke bly. 

Die lokprent wys hoe hulle ’n meisie se oog uitruk, ’n vrou se kop afkap in die swembad en dan aan heuning smul. 

Dit wys ook hoe ’n volwasse Christopher vir Pooh in die woud gaan soek, maar al wat hy kry, is spore van verwoesting.

Die fliek se oorsprong

Die Britse skrywer A.A. Milne het in 1926 sy eerste Winnie-the-Pooh-boek gepubliseer. Sy verhale oor Christopher Robin se kinder-avonture in die Hundred Acre Wood saam met die heuningbetottelde Pooh Bear en sy opgestopte dieremaats het lesers van alle ouderdomme se hart en siel aangegryp.

Die boeke is al in 50 tale uitgegee en meer as 70 miljoen eksemplare is al wêreldwyd verkoop.

Die geliefde dinkie Eeyore se graf is te sien in d
Die geliefde dinkie Eeyore se graf is te sien in die lokprent. Foto: Skermgreep/YouTube

Die Amerikaanse kopieregwet bepaal dat kreatiewe werke 95 jaar nadat dit die eerste keer gepubliseer is verval en in die openbare domein is. Pooh bestaan al 96 jaar – en is dus net so oud soos koningin Elizabeth. 

Walt Disney het vroeër vanjaar die kopiereg op Pooh verloor, en dis nou in die openbare domein beskikbaar. Dit beteken enigiemand kan nou die eienskappe van die karakter vat en dit in enigiets omskep – solank dit oorspronklik is. 

Tigger verskyn eers in latere boeke en dus verval sy kopiereg later. Dis dié dat hy nie in die fliek Winnie the Pooh: Blood and Honey verskyn nie.

Piglet is ook te sien in die nuwe fliek.
Piglet is ook te sien in die nuwe fliek. Foto: imdb

“Ons het soveel moontlik gedoen om seker te maak die fliek is net gegrond op die 1926 weergawe van Pooh,” het Rhys aan Variety gesê.

Die fliek is binne 10 dae in die suidooste van Engeland naby die Ashdown-woud geskiet.

Die grootste uitdaging was om ’n balans tussen gruwel en komedie te kry, sê Rhys.

“’n Fliek soos hierdie is regtig ’n gek konsep, so dit is baie maklik om ’n koers in te slaan waar die fliek simpel en glad nie vreesaanjaend is nie. So ons wou ’n balans tussen gruwel en komedie kry.”

Bronne: variety.com, za.ign.com, complex.com, ipwatchdog.com, imdb.com, youtube

  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees