Dis winter in New York. ’n Rumoerigheid heers in die redaksiekantoor toe dit meteens begin sneeu. Ek haas my na die luukse klerewinkel oorkant ons gebou om ’n serp en handskoene te gaan koop. Met my aankoms is die meeste departemente besig om te sluit.
Met die vat van ’n serp met bypassende handskoene in die winkel – onwetend dat iemand anders aan die anderkant van die rondomtalie-staander dieselfde idee het – raak ek in die serp om my nek verstrengel en sukkel om asem te kry.’
n Manstem vra verskoning en of ek oukei is, en ek kyk op in die blou oë van die aantreklike man wat my probeer stut sodat ek nie val nie. Sy oë is sag en meteens staan hy reg voor my. Ek sê onmiddellik ja dankie, en dat hy die serp en handskoene kan hou. Ek wil net wegloop toe hy my hand gryp en sê: “Hou asseblief die serp en handskoene, ek sal glad nie vanaand kan slaap as ek weet iemand wat so lekker ruik kry iewers koud nie.”