Die pad na Kraaipan is bloedrooi vrugbare aarde. Plek-plek breek breë strepe wit kalk suiwer deur die rooi. In die museumbussie meng die rooi en wit stof gesellig saam en kielie my neusgate. Ek gryp vervaard na my sakdoek. Net betyds.
Die mooi donkerkopvrou hier langs my kry warm, maar ek dink nie sy sal ’n stort van ’n vreemde man waardeer nie. Aan die anderkant van my lyk professor Mogotsi asof die hitte hom nie van stryk bring nie. Hy is besig om deur sy lêers te blaai. Ek skat hom diep in die 80.“Is daardie inligting alles net oor ons uitstappie?” Ek vind dit moeilik om die ongeloof uit my stem te hou.
Hy lag. “Die historikus het nie saam met die mens oud geword nie. Ek bly nuuskierig oor elkeen wat op ’n spesifieke tyd hul bydrae tot die geskiedenis gemaak het. Het jy geweet die eerste skote wat in die oorlog afgevuur is, was hier by Kraaipan op ’n gepantserde Britse trein op pad na Mahikeng.”