Miela Naude se swart skouerlengte hare blink; haar donker oë skitter behoorlik toe sy haarself in die spieël bekyk. Sy is so opgewonde, al trek die moegheid die laaste krag uit haar liggaam. Sy staan op en stap die galery binne. Daar is nog geen mense nie, net sy en haar handewerk.
Tafels met eethappies, sjampanje en tafelversierings wat uniek is, wag vir die stormloop van mense wat haar werk bewonder. Sy gaan staan stil voor die skildery van die woeste blondekopkindjie; die kind se gesig spreek van swaarkry. Net Miela weet dat sý die kind was. Haar verlede kom altyd in haar werk te voorskyn, maar sy beveg dit met alles in haar.
Sy word vir ’n oomblik teruggevoer . . . die onthou: “Mamma, moenie my hier los nie, asseblief, Mamma!” Haar ma was ’n mooi vrou, maar het altyd vir die verkeerde mans geval. Dit was die laaste wat sy vir Katrien Strydom gesien het. Die jare ná daai dag was moeilik, maar die Naude-familie was goed vir haar, en sy is hulle ewig dankbaar.