“Jy wil wat gaan doen?!” Ronel kyk haar suster oorbluf aan. Sy wonder heimlik of haar ouer suster dalk deur ’n vroeë menopouse gaan. Sy weet wraggies nie of sy die krag daarvoor het nie. Shandré verras haar keer op keer met haar aweregse manier van dink en doen. Sy is onteenseglik die meer waaghalsige van hulle twee.
Sy wens met haar hele hart dat haar dierbare ousus tog net ’n man wil kry wat haar so ’n bietjie in toom kan hou. Maar helaas, dié wonderwerk het nog nie gerealiseer nie. Sal seker ook nooit gebeur nie. Daarvoor is Shandré hopeloos te vol nonsens.
Shandré eet tydsaam die laaste krummel kaaskoek op haar kleinbordjie, klad haar mond met ’n servet en kyk haar suster geamuseerd aan. “Jy het reg gehoor. Ek beplan om die komende skoolvakansie ’n bietjie Parys toe te gaan. Na die stad van liggies.