Dis lockdown: Hier's Karen Zoid se nuwe liedjie saam met Neil Sandilands en Early B

akkreditasie
Karen Zoid het kragte gesnoer saam met die voormalige 7de Laan-akteur Neil Sandilands en die rapper Early B vir die nuwe liedjie, "Toe die wêreld stil gaan staan”. Die snit is Vrydag beskikbaar, maar hul landgenote kan nou 'n voorsmakie daarvan kry noudat die musiekvideo uitgereik is.

Die enkelsnit gaan oor die "anderste tyd waarin almal in die wêreld hulle tans bevind", lui 'n persverklaring. Neil, wat bes bekend is vir sy rol as die geliefde Bart Kruger in die sepie 7de Laan, woon deesdae in Los Angeles in Amerika. Hy het in Maart weer in Kaapstad sy skoene kom uitskop. Hy het toe vertel hy is weer op eie bodem om 'n nuwe plaaslike TV-reeks en 'n fliek te kom skiet.

Die nuwe enkelsnit met Karen is opgeneem 'n dag voor die nasionale staat van inperking begin het.

Kyk die video hier:

Die snit het baie toevallig gebeur, vertel Karen luidens die persverklaring. "Neil het vinnig kom hallo sê by my studio, terwyl hy hier was op 'n kuier van Amerika af, letterlik 'n dag voor die president se aankondiging oor inperking. Ons het gesels oor die virus en die wêreld wat nou vir ewig gaan verander. Wie sou kon dink dat ons in ons leeftyd 'n globale pandemie sal ervaar soos in die vorige eeu met die Spaanse griep. Beide my ouma- en oupagrootjie het in daardie tyd van die groot griep gesterf. Ons het impromptu gesit met 'n kitaar en 'n liedjie geskryf.

"Nadat president Cyril Ramaphosa daardie Sondagaand die lockdown aankondig het, het ek besef ons sal vinnig moet planne maak om die liedjie op te neem, terwyl ons nog kan. Toe almal druk besig was om laaste sake af te handel, toiletpapier te koop en inkopies te doen, het ons studio toe gegaan.

"Ek het Early B gevang net voor hy die pad Port Elizabeth na sy familie toe gevat het. Dit is nogal iets besonders om te kan lewe in 'n tyd waarin letterlik almal in die hele wêreld deur dieselfde ding gaan en dieselfde probleem in die oë staar. Dis 'n ongemaklike rustigheid waarin ons onsself bevind," vertel Karen verder.

"Vir my is daar twee dinge wat my in hierdie tyd gefokus hou: Die eerste is dat ons nou net een dag op 'n slag kan leef en die tweede, is soos hulle in die 60's gesê het, die Liefde is Alles. Ek hoop dat die liedjie vir mense sal laat onthou dat ons almal aan mekaar gebind is. Ons is saam hierin," sê Karen. 

"Dis 'n onseker tyd waarin ons leef," vertel Karen aan Huisgenoot. "Die wêreld het aansienlik verander, vir almal, maar ek kan net namens musikante praat en ons hele naby toekoms het radikaal verander. Ons sal nie kan toer of konserte kan hou vir 'n redelike lang tyd nie. Die alternatief is om streaming te doen van jou huis af deur middel van Facebook, Instagram of YouTube, maar die inkomste wat daaruit kan genereer, maak nie naastenby op vir die verlies aan inkomste deur lewendige optredes nie," vertel die sangeres verder.

"So ook is mede-kunstenaars - akteurs en aktrises, tegniese personeel, kunstefeeste en almal in die vermaakbedryf geraak. Ek glo egter dat as ons positief bly, hande vat en nuwe maniere saam ondersoek sal ons kan voortgaan."

Sy geniet tans die stilte in haar lewe tydens inperking en waardeer die tyd wat sy met haar familie kan deurbring, vertel Karen. "Partykeer raak ek bang as ek dink aan die plaag daar buite wat mense se lewens verwoes. Party dae raak ek sad om te dink aan mense wat siek is, mense wat in klein huisies en shacks in die township moet lewe in hierdie tyd. Ek worry oor al die mense wat hulle werke verloor en wat in finansiële verknorsings sit.

"Ek probeer daadwerklik om nie te veel nuus te lees nie en my fokus te vind op dinge waaroor ek wel beheer het. Mens begin maar by jou eie gedagtes en vuil skottelgoed. Ek is besig met my eie projekte vanuit isolasie hier by die huis. Ons is 'n lekker groep vriende wat saam werk en mekaar ondersteun deur gereeld te gesels. Elke dag is 'n hele journey op hierdie stadium."

Karen is nie al musiekster wat tans inspireer is deur coronavirus-pandemie nie. Die sangers Emo Adams en David Kramer het ook hul eie liedjie, "#TsekCorona!", uitgereik.

David se musiekproduksie KaapKreools wat einde April by die Suidoosterfees sou debuteer, is uitgestel na die fees uitgestel is. Hulle het toe die liedjie uitgereik om mense 'n voorsmakie te gee van wat hulle kon verwag. Hulle het toe die liedjie "Welcome to Cape Town" aangepas.

Die sesde seisoen van Karen se gewilde gesels- en musiekprogram Republiek van Zoid Afrika is vanaf 16 April weer Donderdae 20:00 op kykNET te sien. 

In die nuwe reeks vergroot president Karen haar reeds indrukwekkende kabinet met nóg glansmense, sporthelde, legendariese sangers en ander beroemdes en berugtes wat kom inloer op haar program.

Van die bekendes wat in Karen se Republiek aantree, sluit in die Carte Blanche-aanbieder Derek Watts, die Suidooster-aktrise Denise Newman, die Protea-krieketheld AB de Villiers en die Survivor SA-aanbieder Nico Panagio.

  • ”Toe die wêreld stil gaan staan” is vanaf Vrydag 10 April op digitale platforms (Apple Music, Google Play, Spotify, Deezer, Joox) beskikbaar.






Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees