Dit voel asof die Temple Boys van Ravensmead in Kaapstad oornag sterstatus bereik het. Die groep het aanvanklik musiek in hul slaapkamers begin opneem en nou is hulle TikTok-sensasies, wie se gqom-musiek wyd en syd gevier en aanlyn gedeel word.
Hul liedjie “Saggies” is supergewild op sosialemedia-platforms soos TikTok en Facebook. Dansvideo’s waarin dié liedjie gebruik word, duik ook oral op TikTok op. Selfs die plaaslike rapper AKA en sy sewejarige dogter het al hul lyf op dié liedjie gewikkel. Hier is vyf dinge wat jy oor die Temple Boys moet weet.
Die groep bestaan uit Dylin “Mr Gham” Adams, Terriano “Mr Areveerend” Duimpies, Chadley “Mr Werkhom” en Ronin “Mr Stifler” Johannes. Die vier is almal 18 jaar oud en het mekaar ontmoet as leerders aan die Hoërskool Ravensmead.