’n Mens sou kon sê die liedjies het almal ontstaan uit ’n behoefte, dalk selfs ’n bietjie vrees, om sy eie weerloosheid te ervaar, sê die sanger Deon Meiring oor sy jongste musiek.
Gebede en briewe, die sanger se EP wat onlangs bekendgestel is, is sy eerste liggaam werk sedert Grensbewoner in 2020. “Baie van die musiek wat ek al in my lewe geskryf het, is gedryf deur my behoefte om die wêreld en hoe ek dit sien, sinvol te verwoord,” vertel Deon.
“Musiek en lirieke het my voorheen al baie gehelp om te voel asof ek darem ’n greep kan hê op die vrae wat my wakker hou – en net so moeg maak.”