Dis die eerste keer sedert 2019 dat hy nuwe musiek uitreik. “Kom ons wees eerlik, wat die lirieke betref, is dit baie soos tevore. Ek ontmoet ’n vrou, sy los my, ek kla daaroor in ’n popliedjie,” sê Lewis (25). Die liedjie is geïnspireer deur ’n verhouding wat nie uitgewerk het nie.
“Ná ’n jaar was die enigste kontak wat ek met my eks gehad het om te sien hoe haar lewe op Instagram uitspeel. Dit het gelyk asof sy met haar lewe aangaan en floreer – ek het dit gehaat. Dit het vir my onregverdig gevoel dat sy blykbaar gelukkig is terwyl ek seerkry, en ek was bang sy het dalk heeltemal van my vergeet. Toe skryf ek ’n liedjie daaroor.”
Lewis het onlangs sy hart oopgemaak oor sy stryd teen angs en dat hy aan tourettesindroom ly. “Ek’t elke aand paniekaanvalle op die verhoog gehad en het hierdie mal skouerspiertrekking begin doen wat ek sedertdien uitgevind het tourettes is. Dit het dit moeilik gemaak om op te tree. Dit was hartverskeurend, want ek is in die musiekbedryf omdat ek wil optree. Dis die beste deel daarvan.”