The Voice SA se Tasché oor haar nuwe lewe en enkelsnit: ‘Ek was nog nou die dag ’n kelnerin’

akkreditasie
Dit is al meer as ’n maand sedert Tasché Burger as die wenner van die talentsoekprogram The Voice SA aangewys is.

Nou is die wag eindelik verby. Aanhangers van die 19-jarige sangeres word nou beloon met haar heel eerste enkelsnit: Die Een.

Dié liefdesballade gaan oor 'n mens wat na iemand smag, maar nie weet hoe om die gevoel oor te dra nie.

“Ek dink baie mense was al in ’n situasie waar hulle nie weet hoe om vir iemand te sê hoe hulle voel nie, waar hulle nie die regte woorde kan vind nie en bang is om die verkeerde ding te sê,” verduidelik Tasché.

Sy en die liedjieskrywer Hunter Kennedy, wat ’n lid van die musiekgroep Die Heuwels Fantasties is, het saam aan die liedjie gewerk. “Ek het al my skryfwerk wat ek oor die afgelope paar maande neergeskribbel het vir Hunter aangestuur. Hy het toe sekere dele gevat en die liedjie mooi bymekaargesit,” sê Tasché.

Die afgelope maand was sy druk besig om haar enkelsnit af te rond en sy het ook op verskillende geleenthede saam met haar mentor, Francois van Coke, Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties gesing. 

Dit voel steeds onwerklik, bieg sy. “Ek was nog ’n kelnerin by Ocean Basket wat net daarvan kon droom om eendag saam met al dié mense te werk saam met wie ek nou musiek maak,” sê sy opgewonde.

Die liedjie is opgeneem en vervaardig by Francois van Coke se splinternuwe ateljee in die Kaap, Van Coke Studios, en dit is ook die eerste keer dat Francois ’n medevervaardiger van ’n liedjie is.

“Mense sê ons is mekaar se spirit animals,” skerts sy. Verder skryf sy aan haar eie, oorspronklike musiek en haar eerste kortspeler sal op 15 November uitgereik word.

As sy dink aan hoe haar lewe oor die afgelope paar maande verander het, kom veral een staaltjie na vore. Sy het saam met haar ma, Suné Erasmus, een aand in die Kaap uitgespan. “My ma sien toe ’n tafel vol mense wat my moontlik herken. Die volgende oomblik hoor ek net: ‘Lisa, dis Lisa’.”

Sy en haar ma het lekker gelag en toe vir hulle gesê haar naam is Tasché. “Van daardie dag af was my naam Lisa vir daardie paar mense omdat ek Lisa se Klavier op die blind auditions gesing het en ek is 100% fine daarmee,” sê sy en lag.

Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees