'We Don't Talk About Bruno' gewildste Disney-liedjie in 26 jaar: Hier is nog gunstelinge

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hoewel almal wêreldwyd nog sing oor hoe hulle nié oor Bruno moet praat nie, is dit dié Disney-liedjie aan almal se lippe. Ons kyk na nog Disney-gunstelinge wat deur die jare opslae gemaak het.

Disney se nuwe treffer “We Don’t Talk About Bruno” is steeds besig om wêreldwyd op verskeie platforms opslae te maak en het die gewildste Disney-liedjie geword in die afgelope 26 jaar.

Dié liedjie kom uit die Disney-fliek Encanto wat in November op die silwerdoek was.

Bruno Madrigal
Moenie oor Bruno Madrigal praat nie . . . En tog doen almal. Foto: Disney

Encanto is intussen op Disney+ gelaai waar mense na die fliek kan kyk. Dit het daartoe bygedra dat die Bruno-liedjie ook herhaaldelik geluister en gedeel word, met mense wat op sosialemediaplatforms daaroor sing, gesels en daarop dans. 

Dié liedjie het Disney se “Let it Go” van Frozen verbygesteek en skuur nou skouers met Disney-liedjies uit The Lion King, Aladdin en Pocahontas

“We Don't Talk About Bruno” is tans no. 4 op die Billboard-top-200, terwyl “Let It Go” wat in 2013 uitgereik is, die vyfde posisie van dié treffelys gehaal het. 

Die enigste ander Disney-liedjies wat tot no. 4 kon vorder, is Elton John se weergawe van “Can You Feel the Love Tonight” van The Lion King en Vanessa Williams se weergawe van “Colors of the Wind” van Pocahontas

Bruno Madrigal
“We Don't Talk About Bruno” is nou in dieselfde liga as liedjies uit ‘The Lion King’. Foto: Alamy

Dié liedjies het albei in 1994 opslae gemaak en die top-200 bereik. 

Die Disney-liedjie “A Whole New World” wat deur Peabo Bryson en Regina Belle in 1994 in die fliek Aladdin gesing is, is die enigste Disney-liedjie wat in die no. 1-posisie op die Billboard-top-200 gepronk het. 

aladdin, jasmine, disney
Aladdin belowe vir Jasmine “A Whole New World”. Foto: Alamy

Peabo en Regina het Whitney Houston destyds uitgestof sodat hulle nommer een kon wees. 

Volgens die Billboardsyfers het “We Don’t Talk About Bruno” nog nie stoom verloor nie!

Dis al 29 miljoen keer hierdie week geluister, wat ’n 15%-toename van verlede week is. 

“We Don't Talk About Bruno” het die Britse sanger Ed Sheeran se nuutste liedjie “Shivers” uitgestof om die vierde gewildste liedjie te word, met net Adele, The Kid LAROI en Glass Animals wat nog tussen Bruno en die no. 1-posisie staan. 

Met soveel mense wat na “We Don't Talk About Bruno” luister, kan jou algoritme ook nou vir jou ander Disney-liedjies uitspoeg of voorstel. 

Luidens data van Billboard was “Can You Feel the Love Tonight”, “Colors of the Wind” en “A Whole New World” tot dusver die Disney-liedjies waarna daar die meeste in die afgelope 26 jaar geluister is. 

Maar die Broadway-ster Idina Menzel se weergawe van “Let it Go” het ook in 2013 een van die gunstelinge geword, terwyl “How Far I’ll Go” uit Moana in 2016 óók ’n oorwurm geword het. 

En natuurlik is Céline Dion en Peabo Bryson se “Beauty and the Beast”-weergawe van 1992 ook een van die gewildste Disney-liedjies, met Elton John se “Circle of Life” uit The Lion King wat ook opslae gemaak het. 

hercules
Hercules was so sterk dat hy in 'n liedjie gesing het: ‘I can go the distance’. Foto: Alamy

Michael Bolton se “Go the Distance” uit die Hercules-fliek was ook in 1997 een van die gewildste liedjies in die wêreld, terwyl Phil Collins se “You’ll Be in My Heart” vir Tarzan in 1999 ook deel van die top-200 was. 

Die ander Disney-liedjies is natuurlik nie vergete nie. 

Liedjies soos “You’ve Got a Friend in Me” van Toy Story, The Little Mermaid se “Part of Your World” en The Jungle Book se “The Bare Necessities” is liedjies wat tot vandag in Disney-speellyste ingesluit word. 

Kinders wat met Disney-flieks grootgeword het, sal ook liedjies soos “Be Prepared” van The Lion King onthou waarin die booswig Scar oor sy sinister planne gesing het, terwyl die booswig Jafar sommer sy “Prince Ali”-liedjie gebruik het om Aladdin te verban. 

Stroomdienste soos iTunes en Spotify het verskeie Disney-speellyste sodat mense weer na al hul ou gunstelinge kan luister. 

Bronne: Disney, The Guardian, Billboard, Collider, Popsugar

Teken hier vir ons nuusbriewe in:

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees