Wie doen dit beter? Hier is 10 treffers wat jy dalk nie geweet het covers is nie

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Van die grootste treffers van party sang-ikone se loopbaan was oorspronklik deur ’n ander kunstenaar geskryf of opgeneem. Hier is 10 treffers wat “geleen” was by ander musikante.
Big Mama Thornton and Elvis Presley.
Big Mama Thornton and Elvis Presley. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die nuwe fliek Elvis, wat op die rocklegende Elvis Presley se lewe gegrond is, tref op 23 Julie die silwerskerm. Die rolprent se klankbaan maak reeds opslae op trefferlyste met Doja Cat se liedjie “Vegas” wat die voortou neem.

In dié snit hoor jy gereeld in die agtergrond die refrein van Elvis se treffer “Hound Dog”. Maar dis nie Elvis se stem wat gehoor word nie; dit is dié van die R&B-legende Big Mama Thornton – die oorspronklike kunstenaar wat hierdie snit in 1953 uitgereik het. 

Dit is nie ongewoon vir ’n liedjie, selfs deur bekende musikante, om in verborgenheid te verval en dan deur ’n ander sanger herontdek te word nie. Hier is 10 van hulle. 

1. Hound Dog 

Bekend gemaak deur Elvis Presley

Oorspronklik deur Big Mama Thornton

Elvis Presley se grootste treffer het meer as 10 miljoen eksemplare verkoop sedert dit in 1956 uitgereik is. “Hound Dog” was egter nie ’n obskure liedjie voor Elvis dit opgeneem het nie. 

Net drie jaar voor Elvis sy stempel op “Hound Dog” gesit het, het Big Mama Thornton dit suksesvol uitgereik en meer as 500 000 kopieë verkoop. 

Die liedjie is al deur meer as 250 kunstenaars opgeneem, insluitend Jerry Lee Lewis, Eric Clapton, Jimi Hendrix en John Lennon, maar nie een van hulle het die sukses daarmee behaal wat Elvis Presley het nie.

Ander bekende Elvis-heropnames:

  • “Blue Suede Shoes” – Carl Perkins

2. Girls Just Want To Have Fun

Bekend gemaak deur Cyndi Lauper

Oorspronklik deur Robert Hazard

Daar is min liedjies wat meisies so vinnig op die dansbaan kry soos dié Cyndi Lauper-treffer. Die grootste verrassing is dat die oorspronklike kunstenaar nie eens ’n vrou is nie. Die Amerikaanse musikant Robert Hazard het “Girls Just Want to Have Fun” in 1979 geskryf en opgeneem, maar nooit uitgereik nie. 

’n Toe onbekende Cyndi Lauper het Hazard se liedjie opgeneem vir haar debuutalbum van 1983, She’s So Unusual.

Hoewel Robert nooit veel roem gehad het nie, het die snit aan Cyndi sterstatus besorg. 

3. I Love Rock ‘n’ Roll

Bekend gemaak deur Joan Jett & The Blackhearts

Oorspronklik deur Arrows

Toe Alan Merrill van die Britse rock-groep Arrows die Rolling Stones-liedjie “It’s Only Rock ‘n’ Roll (But I Like It)” gehoor het, het hy besluit om dit een stap verder te neem en skryf toe “I Love Rock ‘n’ Roll”. 

Dit het nooit ’n groot treffer geword vir die Arrows nie, maar toe kry Joan Jett & the Blackhearts hul hande daarop. 

Die sangeres het “I Love Rock ‘n’ Roll” in 1981 uitgereik en tot op hede is dit steeds haar enigste liedjie wat ’n no.1-treffer was. In 2002 het Britney Spears ook die liedjie suksesvol opgeneem. 

4. All Along the Watchtower

Bekend gemaak deur Jimi Hendrix Experience

Oorspronklik deur Bob Dylan

Jimi Hendrix het nie lank gewag voor hy Bob Dylan se “All Along the Watchtower” opgeneem het. Net ses maande nadat Bob die liedjie opgeneem het, het die kitaar-maestro sy weergawe uitgereik in 1968. 

Nie net het dit Hendrix se grootste treffer geword nie, maar Bob Dylan was self vol lof vir die nuwe weergawe en het die liedjie aangepas om meer soos Hendrix se weergawe te klink wanneer hy optree. 

In sy biografie sê Dylan: Ek het nog altyd van Jimi Hendrix se weergawe gehou, en sedertdien doen ek dit op dieselfde manier sedert sy afsterwe. Dis eienaardig, elke keer as ek dit sing, voel dit vir my soos ’n huldeblyk aan hom.”

Jimi Hendrix is nie die enigste musikant wat ’n Bob Dylan-liedjie bekendgemaak het vir die massas nie:

  • “Make You Feel My Love” – Adele 
  • “Mr. Tambourine Man” – The Byrds
  • “Mighty Quinn” – Manfred Man 
  • “It Ain’t Me Babe” – Johnny Cash & June Carter 
  • “Knocking On Heaven’s Door” – Guns N’ Roses 
  • “Blowin’ in the Wind” – Peter, Paul and Mary 

5. Nothing Compares 2 U

Bekend gemaak deur Sinéad O’Connor

Oorspronklik deur Prince (The Family)

Hoewel die vurige sangeres van Ierland se eerste album in 1987 sukses behaal het, was dit die liedjie “Nothing Compares 2 U” op haar 1990-album, I Do Not Want What I Haven’t Got, wat van haar ’n internasionale sensasie gemaak het. 

“Nothing Compares 2 U” was oorspronklik in 1985 geskryf en opgeneem deur Prince as deel van sy groep The Family. Omstredenheid volg gereeld vir Sinéad, en sy het opslae gemaak nadat sy beweer het dat Prince omgekrap was deur haar sukses met sy liedjie. In die publiek het Prince egter haar weergawe geprys. 

Prince, wat in 2016 oorlede is, het ook gereeld liedjies vir ander kunstenaars geskryf. Hy het “Manic Monday” geskryf en opgeneem met die idee om dit vir die vrouegroep Apollonia 6 te gee. Hy het egter besluit dat dit eerder The Bangles beskore is.

6. Tainted Love

Bekend gemaak deur Soft Cell

Oorspronklik deur Gloria Jones

Jy sal sukkel om enige ander treffer te noem van Soft Cell as “Tainted Love”. Dit is egter een van die grootste treffers van die 1980’s wat vir Soft Cell een van die grootste sogenaamde one hit wonders van alle tye maak. 

Die louere moet egter gaan aan Gloria Jones wat die liedjie reeds in 1965 opgeneem het. 

Omdat sy uit ’n kerk-agtergrond kom, wou sy eers nie gehad het die liedjie moet op ’n album verskyn nie, want sy was bang haar pa gaan nie van die woord “tainted” hou nie. 

Sedertdien het baie ander kunstenaars “Tainted Love” opgeneem, met Marilyn Manson wat sukses gehad het met ’n donkerder weergawe in 2001.

7. Valerie

Bekend gemaak deur Mark Ronson en Amy Winehouse

Oorspronklik deur The Zutons

Dave McCabe van die Britse groep The Zutons het die lirieke vir “Valerie” in 20 minute geskryf terwyl hy in ’n taxi op pad na sy ma se huis was. The Zutons het redelike sukses in Brittanje gehad tussen 2000 en 2002, en het “Valerie” uitgereik op hul tweede album in 2006.

Amy Winehouse het die liedjie die volgende jaar na Mark Ronson van “Uptown Funk”-faam gebring. Hulle het dit saam opgeneem, en dit het een van Amy se grootste treffers geraak voor sy in 2011 oorlede is.

8. Torn

Bekend gemaak deur Natalie Imbruglia 

Oorspronklik deur Ednaswap

“Torn”, wat die Australiese sangeres Natalie Imbruglia in 1997 uitgereik het, is al amper ’n halfmiljard keer op Spotify geluister. Dit maak dit nie net haar grootste treffer nie, maar ook een van die meer herkenbare liedjies uit dit 1990’s. 

Dit is egter in 1995 die eerste keer geskryf en opgeneem deur ’n relatief onbekende Amerikaanse rockband Ednaswap wat drie albums in die 1990’s uitgereik het voor hulle opgebreek het. 

“Torn” is sedertdien ook deur ander kunstenaars soos Tori Amos en One Direction opgeneem. 

9. Red Red Wine

Bekend gemaak deur UB40

Oorspronklik deur Neil Diamond

Neil Diamond se “Red Red Wine” was nie ’n groot treffer toe hy dit in 1967 uitgereik het nie. Dit is in die jare kort ná sy bekendstelling heropgeneem deur verskeie ander musikante sonder veel sukses. 

Toe die Britse groep UB40 egter hul reggae-spin op die ballade gesit het het dit in 1984 die no. 1-posisie op die trefferlyste gehaal. Die lede van UB40 was aanvanklik ook onbewus daarvan dat Neil Diamond die oorspronklike skrywer van hul grootste treffer was. 

“Red Red Wine” het vier jaar later weer die no.1-posisie bereik nadat UB40 dit by ’n konsert ter ere van Nelson Mandela se 70ste verjaardag gesing het. 

Sedert UB40 se weergawe bekendheid verwerf het, het Neil by optredes ook “Red Red Wine” met ’n meer reggae-gevoel gedoen.

Ander Neil Diamond-liedjies wat bekend gemaak is deur ander musikante:

  • “I’m A Believer” – The Monkees
  • “Girl, You’ll Be A Woman Soon” – Urge Overkill

10. Beautiful in Beaufort-Wes

Die ontslape Afrikaanse musiekster Theuns Jordaan het ’n reeks treffers agter sy naam, maar die liedjie wat hom roem besorg het, is “Beautiful in Beaufort-Wes” wat in 2001 op sy debuutalbum, Vreemde Stad, verskyn het. 

Die krediet vir die liedjie gaan egter aan musikant en digter Gert Vlok Nel. In 2016 het Gert sy misnoeë uitgespreek op sosiale media en Theuns daarvan beskuldig dat hy die liedjie by hom gesteel het. 

  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by ‘Huisgenoot’ se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

18 Augustus 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in