Annas Coetzee (50)
Administratiewe beampte, Stellenbosch
Annas is ’n administratiewe beampte by die Universiteit Stellenbosch se afdeling vir studentesake, en hy vul al blokraaie in vandat hy standerd 1 (graad 3) was. “Ek het in Hopefield grootgeword en ons het seker maar min gehad om te doen, dit is seker daarom wat ek begin het om blokkiesraaisel in te vul,” vertel hy.
Hy het enige soort blokkiesraaisel ingevul, maar deesdae vul hy net die raaisels in as hy iets kan wen. Annas meen hy geniet Huisgenoot se blokraaie die meeste, nie net omdat dit interessant is nie, maar omdat dit ook altyd die blokraaie was waar ’n mens die grootste pryse kon wen, vertel hy.
“Ek het seker in standerd 5 (graad 7) al my eerste blokraai ingestuur. My Engelse onderwyseres, miss Spiegel, het my altyd gemotiveer om saam met haar blokkiesraaisels in te vul.”
Sy strategie is om eers alles in te vul wat hy ken, en daarna woorde in die woordeboek of op die internet op te soek.
En wat sê hy oor sy TV-ervaring?
Hoewel hy gedink het die kameras sal intimiderend wees, het hy gou daarvan vergeet omdat hy so gefokus was, vertel hy.
Yvonne Blom (64)
Tuisteskepper, Strand
Yvonne sit nie ’n blokraai neer voor sy nie daarmee klaar is nie, anders pla dit haar vir ewig.
“Ek vul al blokraaie in vandat dit die eerste keer in Huisgenoot verskyn het, en van daar af was ek ge-hook, ek kon dit net nooit weer los nie,” vertel sy.
Die outydse blokraaie sonder foto’s en video's is vir haar die lekkerste, sê Yvonne.
Vanaand om 20:00 vul die blokraai-foendi’s Jeanette Strydom, Yvonne Blom en Annas Coetzee blitsvinnig blokraaie in om te sien wie kraai koning. Hul Afrikaanse woordeskat en algemene kennis word getoets. @huisgenoot @skutdit pic.twitter.com/Hbdw4xno5X
— VIA TV (@viatv) February 7, 2022
“Blokraaie hou my verstand skerp en dit sorg sommer dat ek nooit ’n vervelige oomblik het nie. Dit is al soos ’n dwelm vir my en ek moet my blokraai in die aand doen, al raak dit ook hoe laat; ek gaan slaap nie, ek doen hom éérs klaar.”
Voor haar aftrede was Yvonne ’n assistentrekenmeester, maar sy is ook ’n kranige kitaarspeler. Sy het op 50-jarige ouderdom begin baskitaarlesse neem, en het al die akoestiese- en baskitaar in haar kerk se orkes gespeel.
Yvonne meen haar liefde vir blokraaie spruit uit haar liefde vir taal. “Afrikaans is my moedertaal en hoe kan mens anders as om lief te wees vir so 'n mooi taal met soveel dialekte en mooi gesegdes? Dis mos ’n taal wat met jou hart praat,” sê sy.
En haar strategie as sy haar in ’n blokraai verdiep?
Sy begin heel bo in die linkerste hoek. "Want dit is gewoonlik die moeilikste woord," verduidelik sy.
Jeanette Strydom (77)
Afgetrede musiekonderwyseres, Hermanus
Jeanette vat haar woordeboeke orals saam en vandat sy leer lees en skryf het, vul sy blokraaie in.
“Toe ek klein was het ons nie geld gehad vir dinge waarvoor jy ’n uniform nodig het nie. Ander kinders het deelgeneem aan ballet en ander dinge; ek het maar gehou by die blokraaie,” vertel Jeanette.
Dié afgetrede musiekonderwyseres het klavierlesse en later ook blokfluitlesse aangebied. Deesdae leer sy vir senior lede van haar gemeenskap om blokfluit te speel.
Haar man, Frikkie, is ook betrokke in die musiekbedryf, en was vir meer as 57 jaar ’n orrelis.
Jeanette meen sy hou die heel meeste van kriptiese blokraaie en sy probeer om soveel moontlik woorde sonder ’n woordeboek in te vul.
“My strategie is maar om soveel as moontlik woorde so vinnig as moontlik in te vul,” sê Jeanette.
Die eerste twee reekse bestaan uit 13 episodes elk: nege uitdunne, drie mededingende halfeindrondes en ’n spannende eindronde. Elke episode het drie deelnemers wat in drie rondes teen mekaar meeding.
Ronde 1: Gonserronde
In dié ronde vul die drie deelnemers onder groot tydsdruk saam ’n blokraai op die grootskerm in.
Die aanbieder lees die leidrade, en die deelnemer wat eerste sy gonser druk, mag die antwoord eerste gee. Vir elke korrekte antwoord, kry ’n deelnemer tien punte.
Ronde 2: Individuele ronde
Elke deelnemer vul onder tydsdruk sy eie blokraai op die grootskerm in. Dié blokraai sluit video-leidrade in. Vir elke korrekte antwoord wat betyds gegee word, kry die deelnemer 10 punte.
Die deelnemer met die minste punte groet; die twee deelnemers met die meeste punte dring deur na ronde 3.
Ronde 3: Die eindronde
Die twee oorblywende deelnemers begin dié ronde op gelyke voet. Albei kry hul eie blokraai om op hul eie in te vul terwyl die stophorlosie die sekondes aftik – maar dis dieselfde raaisel!
Die wenner? Die deelnemer wat die blokraai die eerste korrek invul, of die deelnemer met die meeste korrekte letters ná die tyd verstreke is.
Die opgang na die eindstryd
Dié wenner dring dan deur na die halfeindronde in ’n volgende episode, of eindelik na die eindstryd. En in die eindstryd pak die reeks se topdrie-deelnemers mekaar in hul stryd om gekroon te word as Huisgenoot se blokraaibeste.
- ‘Huisgenoot Blokraaibestes’ word Maandae om 20:00 op VIA (kanaal 147 op DStv) uitgesaai. Herhalings is Sondae om 11:00.
- Lus vir nog blokraaie? Besoek Huisgenoot Raaisels om blokraaie, woordsoeke, koderaaisels en sudoku aanlyn in te vul.