Deel

Huisgenoot Blokraaibestes: ‘Ek hoop daar is eendag blokraaie in die hemel . . .’ – hier’s episode 11 se deelnemers

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ons het by episode 11 van ‘Huisgenoot Blokraaibestes’ se deelnemers gaan aanklop om te hoor watter raad hulle vir blokraai-invullers het. Wie sal vanaand deurdring na die halfeindronde?
Blokraaie is ook soos brei of hekel wat ’n mens se
Blokraaie is ook soos brei of hekel wat ’n mens se brein stimuleer, sê Daniel Cronje. Foto: Verskaf.

Daniel Cronje (59)

Polisiekolonel, Potchefstroom

Terwyl ander sewejariges kinderboeke gelees het, het Daniel sommer dadelik begin om koerante te lees. Nie lank daarna nie het hy begin om blokraaie in te vul.

“Dis eintlik my pa se skuld dat ek begin blokkiesraaisels invul het. Toe ek begin lees het, het hy altyd gesê, ‘kom ons doen blokkiesraaisels’ en dan het ek maar so die moeilike woorde in die woordeboek opgesoek,” vertel Daniel. 

Die 59-jarige polisiekolonel, wat ook jong polisiebeamptes oplei, sê sy naweek is skoon opgemors as hy dit nie kan begin deur ’n blokraai in te vul nie. 

Een van Daniel se grootste wenke vir die invul van blokraaie is om koerant te lees. 

“Om koerant te lees help nogal baie met algemene kennis. Ek hou daarvan om die feite te lees, ek wil nie iets lees wat ’n ander ou uitgedink het nie,” sê hy. 

Daniel vul ook saam met sy vrou, Santa, blokraaie in, en sy help hom wanneer hy vashaak met die woorde. Hy probeer om nie eintlik woordeboeke te gebruik wanneer hy die blokraaie invul nie. 

Een van die interessantste woorde wat Daniel al geleer het terwyl hy blokraaie invul is “genadelappie”, wat ’n ander woord vir ’n “g-string” is.

Daniel se strategie wanneer hy blokraaie invul is om links onder te begin en dan boontoe te werk. 

“Al die moeilike woorde is gewoonlik links bo, so ek probeer eers van die langer dwarswoorde kry of regs begin,” vertel Daniel.

Huisgenoot se groot blokraai sonder foto's, is haa
Huisgenoot se groot blokraai sonder foto's, is haar gunsteling, vertel Renée Swanepoel. Foto: Verskaf.

Renée Swanepoel (63)

Skriba van die NG Kerk Murraysburg en voormalige skoolhoof

Die blokraaigogga het Renée al 40 jaar gelede gebyt toe die eerste groot blokraaie in Huisgenoot verskyn het.

Huisgenoot se groot blokraai, sonder foto's, is my gunsteling. Ek hou van blokraaie omdat dit my uitdaag en my brein aan die gang hou,” vertel Renée. 

Behalwe dat sy in haar vrye tyd ook woordspeletjies speel soos Wordle en die Afrikaanse weergawe daarvan, Wortel, is Renée baie betrokke by die Vrouelandbouvereniging (VLV) in haar area.

Renée se strategie is om eers al die woorde in te vul wat gereeld in blokraaie voorkom. Om voor te berei vir die program het sy voor die tyd op die rekenaar geoefen.

Nes haar mede-deelnemer, Daniel, hou Renée ook baie daarvan om koerant te lees. 

“Ek lees baie graag, veral Die Burger en Rapport. Ek is baie lief vir Afrikaans, want dit is die taal waarin ek myself die beste kan uitdruk,” het Renée bygevoeg.

Ella sê sy kan nie wag tot Huisgenoot se blokraaib
Ella sê sy kan nie wag tot Huisgenoot se blokraaiboek elke kwartaal uitkom nie. Foto: Verskaf.

Ella Grobler (67)

Pensioenaris, Riebeeckstad

Ella het begin blokkiesraaisels invul toe sy by ’n meubelmaatskappy begin werk het. 

“Ek het toe heeltemal ge-hook geraak. Wanneer ek blokkiesraaisels invul wil ek net fokus, niemand moet my dan pla wanneer ek dit invul nie,” vertel sy. 

Sy meen blokraaie hou haar geheue skerp en help haar om minder te vergeet. Ella is al so gesout dat mense haar gereeld vra hoe sy dit regkry om “so baie woorde in haar brein te bêre”. 

Hoewel dit baie senutergend voor die televisiekameras was, het sy dit geniet om haar kennis teen die ander deelnemers te meet, en ná die tyd het sy en al die deelnemers blokraairaad met mekaar gedeel. 

Ella se strategie met die blokraaie is om eers die antwoorde wat sy ken, in te vul, en sy sal ook nie sommer die woordeboek as hulpmiddel gebruik nie.

“Ek sê altyd ‘ek wonder of daar blokkiesraaisels in die hemel is, want as daar nie is nie, sal dit hel wees,” spot Ella. 

Hoe werk ‘Huisgenoot Blokraaibestes’

Die eerste twee reekse bestaan uit 13 episodes elk: nege uitdunne, drie mededingende halfeindrondes en ’n spannende eindronde. Elke episodes het drie deelnemers wat in drie rondes teen mekaar meeding.  

Ronde 1: Gonserronde

In dié ronde vul die drie deelnemers onder groot tydsdruk saam ’n blokraai op die grootskerm in.

Die aanbieder lees die leidrade, en die deelnemer wat eerste sy gonser druk, mag die antwoord eerste gee. Vir elke korrekte antwoord, kry ’n deelnemer tien punte.  

Ronde 2: Individuele ronde

Elke deelnemer vul onder tydsdruk sy eie blokraai op die grootskerm in. Dié blokraai sluit video-leidrade in. Vir elke korrekte antwoord wat betyds gegee word, kry die deelnemer 10 punte.

Die deelnemer met die minste punte groet; die twee deelnemers met die meeste punte dring deur na ronde 3.

Ronde 3: Die eindronde 

Die twee oorblywende deelnemers begin dié ronde op gelyke voet. Albei kry hul eie blokraai om op hul eie in te vul terwyl die stophorlosie die sekondes aftik – maar dis dieselfde raaisel!

Die wenner? Die deelnemer wat die blokraai die eerste korrek invul, of die deelnemer met die meeste korrekte letters ná die tyd verstreke is.

Die opgang na die eindstryd

Dié wenner dring dan deur na die halfeindronde in ’n volgende episode, of eindelik na die eindstryd. En in die eindstryd pak die reeks se topdrie-deelnemers mekaar in hul stryd om gekroon te word as Huisgenoot se blokraaibeste.

  • Huisgenoot Blokraaibestes word Maandae om 20:00 op VIA (kanaal 147 op DStv) uitgesaai. Herhalings is Sondae om 11:00.
  • Lus vir nog blokraaie? Besoek Huisgenoot Raaisels om blokraaie, woordsoeke, koderaaisels en sudoku aanlyn in te vul. 
  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.  
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

8 Junie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees