Deel

Huisgenoot Blokraaibestes: ‘Hierdie blokraaiboffins doen ’n blokraai voor ontbyt en twee tussen ontbyt en teetyd’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hierdie drie deelnemers het van so ver as Augrabies, Bloemfontein en Krugersdorp gereis om hulle blokraaikennis teen mekaar te meet. En hulle kén hul woorde . . .

Ons het by die volgende episode se deelnemers gehoor waar hulle liefde vir blokraaie vandaan kom. Wie dink jy gaan vanaand as wenner uit die stryd tree?  

Louise Schoeman het blokraaie só baie geniet dat s
Louise Schoeman het blokraaie só baie geniet dat sy haar kinders ook aangesteek het om blokraaie te voltooi, vertel Elmien Hanekom, haar dogter. Foto: Verskaf.

Louise Schoeman (72)

Afgetrede verpleegsuster, Augrabies

Hartseer nuus
Louise is intussen oorlede weens covid-19-komplikasies. Ons het met haar dogter gesels om meer uit te vind oor haar deelname en liefde vir blokraaie.

Waar ander mense dalk op hulle selfone is wanneer hulle in die haarsalon sit, het Louise altyd vir haar ’n blokraai saamgevat om in die haarsalon in te vul, sommer sonder die hulp van ’n woordeboek. 

“Sy het my nogal vertel dat sy dit as jong meisie begin doen het en geniet het. Sy het ook altyd blokraaie gedoen in haar verpleegdae wanneer sy nagskof werk,” vertel haar dogter, Elmien Hanekom. 

Louise het net een tafeltjie vol blokraaiwoordeboek gehad, maar later het sy twee tafeltjies vol gehad, sê Elmien. 

Voordat sy aan Huisgenoot Blokraaibestes deelgeneem het, het Louise al die moeilike woorde wat sy al teëgekom het, in ’n boek neergeskryf en dit oral saamgedra sodat sy dit kan leer. 

“Ons het haar eintlik gespot. Vroegoggend, soggens sesuur, het ek badkamer toe gegaan, dan leer ouma al in haar bed,” sê Elmien.

Louise was so opgewonde soos ’n kind oor haar deelname aan die TV-program, vertel Elmien. 

“Sy het nog vir die dokter gesê hy moet haar gesond maak, want sy wil haar televisiedebuut sien. Dit was wonderlik om haar so te sien, sy het gestraal toe sy deelgeneem het aan die program,” sê Elmien.

Dié lewenslustige vrou was nie nét ’n afgetrede verpleegster nie, maar sy het ook gereeld die wêreld platgereis, en het al onder meer saam met Elmien Jerusalem en Londen toe gegaan.

Anton Ferreira vertel hy het altyd blokraaie ingev
Anton Ferreira vertel hy het altyd blokraaie ingevul terwyl hy vir sy kinders wag wanneer hulle by buitemuurse aktiwiteite was. Foto: Verskaf.

Anton Ferreira (55)

Predikant, Krugersdorp

Anton Ferreira wou as graadeentjie al blokraaie invul, want sy ma het daai tyd al vir hom ’n fiets gewen in ’n blokraaikompetisie. 

“Daar was altyd iewers in die huis ’n blokraai, maar my ma was só groot op blokraaie dat ek nie altyd een in die hande kon kry om in te vul nie,” onthou Anton. 

Hy het blokraaie nog altyd as ontspanning beskou, en sy gunstelingblokraaie is die groot blokraaie sonder foto’s, vertel hy. 

“Ek vul elke aand voor slaaptyd blokkiesraaisels in en daar het altyd ’n boek met blokraaie op my bedkassie gelê,” sê hy. 

Dié predikant gebruik nie sommer ’n woordeboek om moeilike woorde na te slaan nie en hy sal spook met ’n woord tot hy dit regkry. 

“Ek het nie eintlik ’n strategie nie, maar ek begin altyd eerste by die woorde wat ek weet. As ek myself van daar af vasloop, begin ek weer by ’n ander deel wat my oog vang,” sê hy.

Anton het aanvanklik goed gevoel oor sy blokraaikennis, maar toe hy eers sy teenstanders ontmoet het, kon hy sien dat hulle ernstig is oor hulle blokraaie. 

“Ek het so 'n gevoel gekry dié tannies doen een voor ontbyt en twee tussen ontbyt en teetyd,” sê hy.

Anelize van Biljon vertel haar gunstleingblokraai
Anelize van Biljon vertel haar gunstelingblokraai is 'Huisgenoot' se Fotoblokraai en Groot Blokraai. Foto: Verskaf.

Anelize van Biljon (70)

Afgetrede Rekenaarwetenskap- en Informatika-dosent, Bloemfontein

Met ’n doktorsgraad in wiskundige statistiek het Anelize meer van ’n "sommebrein", maar sy meen blokraaie is vir haar ’n heerlike tydverdryf. 

Anelize het voor haar aftrede klas gegee aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy was ook departementshoof by die departement van Rekenaarwetenskap en Informatika. 

In haar tyd as dosent het sy nie eintlik tyd gehad vir blokraaie nie, maar toe sy van Huisgenoot en VIA (kanaal 147) se Blokraaibestes-program hoor, het dié stokperdjie weer vlam gevat. 

“Ek was nogal verras dat ek die oudisie geslaag het,” vertel Anelize. 

Sy sê sy was nog altyd lief vir taal en sy is nog altyd gefassineer deur woorde soos “skedelboor”, “nadir” en “silhoeët”.

Anelize het ook ’n paar ander interessante stokperdjies. Sy bou graag wiskundige legkaarte, versamel seëls en sy is ook betrokke by wiskunde olimpiades.

“Enige soort raaisel was nog altyd vir my interessant," sê sy. 

Hoe werk Huisgenoot Blokraaibestes

Die eerste twee reekse bestaan uit 13 episodes elk: nege uitdunne, drie mededingende halfeindrondes en ’n spannende eindronde. Elke episodes het drie deelnemers wat in drie rondes teen mekaar meeding.  

Ronde 1: Gonserronde

In dié ronde vul die drie deelnemers onder groot tydsdruk saam ’n blokraai op die grootskerm in.

Die aanbieder lees die leidrade, en die deelnemer wat eerste sy gonser druk, mag die antwoord eerste gee. Vir elke korrekte antwoord, kry ’n deelnemer tien punte.  

Ronde 2: Individuele ronde

Elke deelnemer vul onder tydsdruk sy eie blokraai op die grootskerm in. Dié blokraai sluit video-leidrade in. Vir elke korrekte antwoord wat betyds gegee word, kry die deelnemer 10 punte.

Die deelnemer met die minste punte groet; die twee deelnemers met die meeste punte dring deur na ronde 3.

Ronde 3: Die eindronde 

Die twee oorblywende deelnemers begin dié ronde op gelyke voet. Albei kry hul eie blokraai om op hul eie in te vul terwyl die stophorlosie die sekondes aftik – maar dis dieselfde raaisel!

Die wenner? Die deelnemer wat die blokraai die eerste korrek invul, of die deelnemer met die meeste korrekte letters ná die tyd verstreke is.

Die opgang na die eindstryd

Dié wenner dring dan deur na die halfeindronde in ’n volgende episode, of eindelik na die eindstryd. En in die eindstryd pak die reeks se topdrie-deelnemers mekaar in hul stryd om gekroon te word as Huisgenoot se blokraaibeste.

  • Huisgenoot Blokraaibestes word Maandae om 20:00 op VIA (kanaal 147 op DSTv) uitgesaai. Herhalings is Sondae om 11:00.
  • Lus vir nog blokraaie? Besoek Huisgenoot Raaisels om blokraaie, woordsoeke, koderaaisels en sudoku aanlyn in te vul.   

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

1 Junie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees